Nuwe moderatuur ook iets vir geskiedenisboeke

*******

Nuwe moderatuur ook iets vir geskiedenisboeke | Kerkbode

Kerkbode, 19 Julie 2013

BOTHAVILLE. – Ds Jan Lubbe, leraar by die NG Gemeente Berg-en-Dal in Bloemfontein, is as moderator van die NG Kerk in die Vrystaat aangewys.

Lubbe (48) is na ’n derde stemmingsrondte verkies, nadat die sinode in die tweede rondte tussen hom en die vorige assessor, prof Johan Janse van Rensburg, moes stem.

Lubbe het op Kuruman in die Kalahari grootgeword en aan die Universiteit Vrystaat gestudeer, waar hy ook studenteraadsvoorsitter was.

Hy het gesê sy wens vir die kerk is om die roepstem van God binne die huidige konteks te hoor. Hy het ook aan Kerkbode gesê hy beskou die Belydenis van Belhar as ’n “waardige metgesel” van die ander belydenisskrifte. Veral binne die huidige konteks en tyd.

Daar is ook geskiedenis tydens die sinodesitting gemaak. Nie net is dit die eerste keer dat die sinode nié in Bloemfontein gehou is nie, maar ’n vroulike skriba is ook die eerste keer verkies.

Dr Carin van Schalkwyk van die NG Gemeente Philippolis is deur die sinode in dié amp verkies. Dr Helgard Janse van Rensburg van Villiers is as die assessor aangewys.

Van Schalkwyk het in 1990 begin om aan die Universiteit Stellenbosch in die teologie te studeer – twee jaar voordat die NG Kerk besluit het dat vroue wél die Woord mag verkondig.

Sy onthou die wolwefluite toe sy by haar eerste sinodesitting, as afgevaardigde ouderling, opgestaan het om te praat.

Sy hou vier eredienste op ’n Sondag: In die NG Gemeente op Philippolis, by die VGK op Bergmanshoogte, en by die twee bedieningspunte by Gariepdam.

Sy sê dat, “anders as in die stad”, daar nie op die platteland koppe gestamp kan word nie. “Die kerk moet ’n sagte plek wees waar mense maar kan val. Randfigure moet in die kerk tuis voel.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui