Nog ’n winter agter die rug

Kyk ook:

Die volgende nuusbrief is in September 2003 deur Jan Louw geskryf en gestuur aan sy wykslidmate.

**************

Winter is die harde tyd van die jaar. Dit is die tyd wanneer die plante doodgaan van die koue in die nag. Dit is die tyd waneer “die gras verdor en die blom verwelk”, soos ons lees in 1 Petrus. Dit is ook die tyd wanneer jy in die môre opstaan en ’n jong voëltjie kry wat dood lê onder ’n boom.

Dit is ook vir ons mense die tyd van griep en verkoues. Ek het nie syfers nie, maar ek dink die sterftesyfer in die winter is groter as in die somer. Dit is veral die ou mense wat dikwels ’n winter nie maak nie. Daar is ook mos ’n uitdrukking wat sê dat ’n mens al 60/70 winters agter die rug het om sy daarmee sy ouderdom aan te dui. Ek dink dit is ’n uitdrukking van iemand se gehardheid of om die omvang van die swaar wat so ’n mens al agter die rug het te beskryf.

Hoe bly ’n mens positief in die wintertye van die lewe? Ek het ’n paar dinge ontdek waarvan ek julle wil vertel. God praat met jou deur klein en gewone dingetjies om jou te bemoedig. Die vraag is net of ons dit kan raaksien. Laat ek ’n paar hiervan noem:

  • ’n Telefoonoproep van bemoediging deur ’n vriend of ’n vriendin. Dit is ’n teken van God se vriendskap en belangstelling in jou. Dit is ’n teken dat God jou raaksien en liefhet.
  • Die gekoer van ’n duif wat jy skielik daarbuite hoor. Luister daarna. Dit is ’n boodskap van God wat vir jou sê: Shalom  – vrede vir jou. Dit sal met jou goed gaan. Ek maak jou gesond. Ek maak jou ’n heel mens.
  • Iemand op straat wat vir jou glimlag. Sien God se glimlag daarin vir jou. Hy het iemand gestuur om goed aan jou te doen.
  • Waardeer die bord kos wat vir jou op tafel is. Geniet elke happie daarvan. Dit is vir jou gegee om jou te bemoedig en is nie vanselfsprekend nie.
  • Waardeer jou lewensmaat in jou huis. Hy of sy is al jare ’n besondere genadegawe wat God aan jou gegee het om saam met jou te deel in die lewe. (1 Petrus 3:7) Miskien het jy haar lank nie waardeer nie omdat daar groter dinge op jou agenda was. Na baie winters leer jy dalk opnuut watter waarde sy het om vir jou warmte in jou lewe te bring.
  • Waardeer jou kinders. Mors maar ’n bietjie tyd saam met hulle. Jy gaan net eenmaal deur die lewe. Daar is nie belangriker mense of dinge as hulle in jou lewe nie.
  • Ontvang ’n warm bad, ’n warm bed en ’n warmwatersak as geskenke van die Here om jou te bemoedig. Miljoene ander het dit nie.

Wintertyd is die tyd wanneer die blare afgeval het. Alleen die kaal stamme van die bome bly dan oor. Dit is die kern van hulle lewe. Wintertye in jou lewe is ook vir jou ’n geleentheid om opnuut te ontdek wat werklik waarde het. As jy sensitief is kan jy ontdek watter dinge net ’n gejaag na wind is en watter dinge werklik waarde het en die bron van ware geluk is. Jy ontdek dat dinge wat jou in die verlede moeg gemaak het, al die tyd nie so belangrik was nie.

Dit is ’n paar dinge wat die Here my die afgelope winter geleer het. Ons het nog ’n winter “oorlewe”. Nou kyk ek saam met julle uit na die lente – die tyd van nuwe lewe. Miskien kan ons uit dit wat ons in die winter geleer het, die lente tegemoet gaan met nuwe wysheid, nuwe entoesiasme en nuwe blydskap. Dit is die soort lewe wat ek glo dat God ons in Christus wil gee, omdat Hy vir ons lief is. Dit is die kwaliteite wat God by ons wil sien en waardeur ons Hom kan verheerlik.

*******

Ons leraars het ’n tyd gelede elkeen vir ons lidmate briewe gestuur om julle aan te moedig om weer julle dankoffers aan te pas. Uit Wg 1 het ons tot dusver ’n verhoging van R2220 per maand aan debietorderinkomste gekry. Dit is ’n vermeerdering van amper 9%. Baie dankie vir almal wat gereageer het. Die Here sien dit raak. Dit is een van sy bemoedigings in die wintertyd!

Jan Louw

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui