Lesse in ’n storm

Kyk ook:

Die volgende nuusbrief is in Augustus 2003 deur Jan Louw geskryf en gestuur aan sy wykslidmate.

**************

Die dissipels was ’n paar keer in ’n storm op die meer. Dit was deel van hulle opleidingsprogram as dissipels. Elke keer toe daar ’n storm was, was Jesus skynbaar afwesig. In een geval het Hy op die boot gelê en slaap terwyl die golwe op en af gedein het, die wind geloei en die water gespat het (Mat 8:24). Dit was seker vir die dissipels ondenkbaar. Hoe kry ’n mens dit reg om deur so ’n storm te lê en slaap. Dit was asof Hy met hulle die spot dryf terwyl hulle vergaan.

In ’n ander geval was die situasie nog erger. Jesus was nie daar nie (Mat 14:22). Die dissipels moes sonder Jesus die storm trotseer. Hulle moes roei en probeer om die boot se neus windop te hou, want as die branders hulle van die kant af sou tref was dit klaarpraat. “Waar op aarde is Jesus vannag?”, het hulle sekerlik gevra. “Hoe kon Hy ons vanaand in hierdie see ingestuur het?”

Waarom moes hulle storms as deel van hulle opleidingsprogram ervaar? Ek kan dink aan twee redes. Die een is dat hulle Jesus beter kon leer ken. Hulle moes leer dat Jesus selfs ’n storm tot bedaring kon bring. Nie ander mense se storms nie, hulle eie storm. Hulle het gesien hoedat Jesus siekes gesond maak, blindes laat sien, dowes laat hoor en duiwels uit mense uitdryf. Hulle het selfs gesien dat Jesus ’n skare mense kos gee met ’n paar brode en ’n paar vissies. Dit was wonderwerke wat ander mense geraak het. Jesus wou wou Homself nog kragtiger aan sy dissipels openbaar. Hy wou hulle wys dat Hy hulle kan red as hulle eie lewens bedreig word. Hulle moes Hom leer ken soos wat Hy werklik is. Hy was nie net ’n wonderdoener en ’n groot prediker nie. Hy was die Seun van God. Hulle moes Hom aanbid. Alleen ’n storm kon hulle dit leer.

Ervaar jy ook dalk ’n storm in jou lewe in hierdie tyd? Dit is nie lekker om in ’n storm te wees nie. Storms maak jou bang en dit maak jou moeg. Dit dreineer jou energie. Hier is ’n paar dinge om in gedagte te hou:

  • Jesus stuur ’n storm dat jy Hom kan leer ken. Moenie net kla nie. Sien dit as ’n geleentheid om God te leer ken. Hy wil Sy mag aan jou openbaar. Hy wil jou wys wie Hy regtig is. Vra liewer: “Here wat wil U my in hierdie storm leer?”
  • Jesus stuur ’n storm dat jy kan leer om op Hom te wag. Jesus het geweet dat sy dissipels swaarkry. Hy het hulle egter nie sommer dadelik te hulp gesnel toe die eerste windjie opgekom het nie. Hy het gewag tot in die oggendure voor Hy hulle kom verlos het. Ons leer die beste dinge van God deur op Hom te bly wag.

’n Dokter by ’n sendingstasie in Afrika vertel dat ’n pasient met ’n ernstige voetprobleem eendag by hom aangekom het. Sy naam was Yamusi. Dit was ’n ernstige probleem en die dokter het vir Yamusi gesê: “Ek sal albei jou bene onder die knie moet afsit” Yamusi het gesê: “Dokter hoe sal ek dan maak? Hoe kan ek my skape oppas sonder my voete”? Die dokter het gesê: “Ek weet nie van ’n ander manier nie.” Yamusi was ’n Christen. Hy het vir die dokter gevra: “Bwana, glo jy dat God my kan gesond maak?” Die dokter het gesê: “Ja,” en die uiteinde was dat die dokter en die pasient saam by die bed gekniel het en hulle het die Here gevra om Yamusi se voete gesond te maak. Toe het die lang wag gevolg. Elke dag het Yamusi sy voete met warm water gewas en eenmaal per week met ’n toutjie die swelling om sy voete gemeet. Na agt maande het die swelling begin bedaar en na ’n jaar kon Yamusi weer loop. Hy was so dankbaar dat hy sy skape gelos het en ’n permanente helper by die hospitaal geword het.

  • ’n Storm leer jou om te glo. Die storm maak jou moeg. Hy maak jou bang. Jy sien hoe die toue van jou bootjie begin breek en die seile skeur. Jy sien jou bootjie begin lek en die water wat inkom. Moenie paniekerig raak nie. Jesus wil jou geloof toets en aan jou vrede gee al waai die wind deur jou hare en al spat die water in jou gesig.

Dit is ’n paar dinge wat mens in ’n storm leer en net in ’n storm leer.

Seënwense vir julle almal.

Jan Louw

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui