*******
Nog ’n NG kerk looi vir Ben du Toit | Rapport
Johan Eybers
Rapport
Sondag, 6 Desember 2020
Die NG gemeente Kuilsrivier-Suid in die Wes-Kaap gaan ook ’n klag van dwaalleer teen die oudpredikant dr. Ben du Toit ondersoek.
Dié verwys na homself as ’n “post-teïs” en distansieer hom “van enige uitdrukking van godsdienstigheid”.
Ds. Rhenier Nel van die NG gemeente Barkly-Oos in die Oos-Kaap het reeds ’n klag van dwaalleer teen Du Toit as ’n belydende lidmaat van die kerk ingedien weens uitlatings oor die bestaan van God in sy nuwe boek, God: Is daar ’n ander antwoord?
’n Uittreksel van dié boek is op 15 November in Rapport gepubliseer en het heftige kommentaar van lesers ontlok.
Nel sê in sy klag Du Toit het onder meer vier van die tien Bybelse gebooie oortree soos verklaar in die Heidelbergse Kategismus. Dié gebooie handel oor die aanbidding van ander gode, die ydellike gebruik van God se naam en valse getuienis.
Du Toit is ’n voormalige parlementêre verteenwoordiger van die NG Kerk en was ’n predikant in sinodale diens: teologiese navorsing voor sy aftrede in 2018.
Sy boek God? Geloof in ’n postmoderne tyd is in 2002 met die Andrew Murray-prys bekroon.
Du Toit is ook in 2012 verkla weens beweerde dwaalleer en later onskuldig bevind toe hy gesê het hy glo nie in die bestaan van die duiwel nie.
Hy het toe gesê hy aanvaar die bestaan van die bose en die verlossing deur Jesus Christus absoluut.
Nel beweer Du Toit voer in sy jongste boek aan hy glo nie eens in die bestaan van God nie.
Hy haal uittreksels uit die boek aan in sy klag wat “as prima facie-getuienis teen hom dien”. Die gewraakte aanhalings sluit in:
¦ “Ek beskou myself daarom liewer as post-teïsties. Vir my dui die begrip post-teïsties op ’n definitiewe afskeid van enige geloof in ’n transendente metafisiese wêreld of bestaan waarin daar bonatuurlike magte en kragte sou wees wat die botoon voer.”
¦ “ ’n Post-teïstiese posisie beteken om met vryheid te leef sonder die inhiberende geloof in eksterne magte en metafisiese konsepte.”
¦ “Die punt is dat ook daardie spiritualiteit iets is wat in die brein sy oorsprong het en nie noodwendig dui op die werklike bestaan van enige metafisiese entiteit nie.
“Dit is eweneens waar dat hierdie konsepte soos God, die duiwel, hemel en hel die oorsprong is van goed en kwaad wat hul ontstaan op aarde gekry het. Dis die skepping van die menslike brein.”
¦ “Ons hoef nie te leef met valse vaste sekerhede van ’n geloof in God en na ewige waarhede te soek as antwoord op die uitdagings in ons tyd en lewens nie.”
Du Toit beskryf die Bybel in sy boek as ’n versameling mensewoorde wat geïnspireer is deur gelowiges se verstaan van dit wat hulle God noem.
Du Toit het aan Rapport gesê hy het “geen reaksie op die klagte nie”.
“Ek is nie meer ’n lidmaat van die NG Kerk nie.
“Ek het vier jaar gelede van my bevoegdheid as predikant afstand gedoen. Ek het nog nie formeel uit die kerk bedank nie, maar ek sal dit Maandag gaan doen.
“Dan is daar geen meer doel vir die klagte nie.”