Nico Koopman: ’n Gebed vir ’n doodsonde vir elke weeksdag

Kyk ook:

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Nico Koopman: ’n Gebed vir ’n doodsonde vir elke weeksdag | Netwerk24

Nico Koopman

15 Maart 2023

Woensdag het Middeleeuse Christene gebid om vergifnis en verlossing van die sogenaamde doodsonde van acedia, wat letterlik beteken om nie meer om te gee nie, ’n traak-my-nie-agtigheid en pessimisme.

’n Doodsonde is ’n versamelnaam vir een sonde. ’n Spesifieke sonde word genoem en ander vorme van die kwaad wat daarmee in verband staan, word geïmpliseer. Daar is sewe doodsondes. Op ’n Donderdag is gebid om verlossing van gierigheid, vraatsug op ’n Vrydag, wellus op ’n Saterdag, hoogmoed op ’n Sondag, jaloesie op ’n Maandag, aggressie op ’n Dinsdag. En op ’n Woensdag, halfpad tussen die twee weeklikse eredienste, is gebid om verlossing van acedia.

Ons word oorweldig deur uitdagings en besorgdhede, krisisse en noodkrete op elke lewensterrein. Gesondheidswerkers staak, bedreig kollegas wat noodsaaklike dienste wil lewer, verhinder mense om noodsaaklike sorg te kry en bring lewensverlies mee. Gefrustreerde massas neem die reg in eie hande en vier elektrisiëns word doodgemaak. Jaar ná jaar kry derduisende jong mense nie toelating tot naskoolse onderwys of werkgeleenthede nie en bestaan hulle sonder hoop op ’n menswaardige toekoms. Talle skole word ruimtes van wanorde, ongedissiplineerdheid en verval.

Onveiligheid en bedreiging neem toe op byna elke duimbreedte van ons land. Lewe het skynbaar goedkoop geword as ons soveel koelbloedige moorde daagliks meemaak. Oorloë woed voort. Eskom onderpresteer. En die Covid-pandemie se uitwerking is nog nie naastenby oor nie.

In so ’n situasie kan acedia floreer. Ons kan tou opgooi; ons kan afgestomp raak en nie meer geskok word deur die vele gesigte van onmenslikheid rondom ons en straks ook in ons nie. Ons kan gewoond raak aan die ongewone; die onnatuurlike as natuurlik begin beskou en bevrydende skaamte oor die skandalige verloor. Ons kan ons onttrek aan die wêreld rondom ons en na binne emigreer.

Die Middeleeuse logika het behels dat die lewensgevoel en logika van acedia die weg baan vir Donderdag se gierigheid in velerlei vorme, en Vrydag se vraatsug, wat beteken ek geniet nie net te veel van die goeie nie; ek geniet dit ook alleen en in isolasie. En acedia maak straks die deur oop vir Saterdag se wellus, wat beteken ek maak die kosbaarste wat God skenk, die medemens, tot ’n ding. Ek ver-ding-lik my medemens en beskou die medemens nie as ’n doel in sigself nie, maar as ’n middel tot ’n doel. Hierdie verdingliking kan geskied op talle lewensterreine, vanaf die intieme verbande van huwelik en gesin tot in die werkplek, die ekonomie, die politiek en die breë samelewing.

Dis nou ’n tyd om te drink uit die bronne en verhale van hoop. Christene vier in hierdie weke die lyding en opstanding van Jesus Christus. Ons is bewus van hemelse vereenselwiging en solidariteit te midde van kruise en krete. Ons is ook bewus van die opstanding wat ons krag gee om op te staan, en wat ons opstandig maak teen onreg. Ons vier die opwekking wat acedia laat kwyn en ons opgewek maak vir ons stryd.

  • Prof. Koopman is ’n teoloog en viserektor aan die Universiteit Stellenbosch. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Kommentaar

‘n Mens sou ook gehoop het dat die suiwer leer in kerke wêreldwyd vir Nico Koopman ook belangrik sou wees…

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui