Is NGK onder invloed van tydsgees?

Vir agtergrond, kyk Opsomming: God is vrou, “Heilige prisma” tydens legitimasiediens op 29 Maart 2021.

***********

Is NGK onder invloed van tydsgees? | Netwerk24

Deur Dr. Henriëtta Klaasing, Randfontein

10 Mei 2021

Dr. Bernhard Ficker se skrywe “Hoe ruim moet denke oor God verruim word?” (05.05) het betrekking.

Ficker is heeltemal reg dat die verruiming van die denke oor God die NG Kerk verder weg op die glibberige glybaan van anti-patriargale teologie, feminisme en postmodernisme (en al hoe verder weg van die gereformeerde leer) neem. Die amptelike “gender”-geregtigheidsbesluit is op 8 Oktober 2019 in die NG Kerk se algemene sinode-sitting stil-stil by die agterdeur ingetrek.

Die woordkeuse van hierdie besluit moet saamgelees word met die se verduideliking dat “gender” te doen het met die “identiteit wat deur die seksuele selfbeeld van mense bepaal word”. Dit teenoor “geslag”, wat biologies bepaalbaar is.

Dié besluit se verreikende gevolge het reeds sigbaar geword in die onlangse gebruik van vroueterminologie in die aanspreek van God. Verkeer die Kerk onder die invloed van die huidige tydsgees van die verstaan van die Bybel? Dit wil lyk asof daar opgetree word in pas met die “modedenke” van die tyd, waar genderisme en feminisme wêreldwyd oordadige aandag geniet.

Besef kerkleiers wat die implikasies is van dié flankering met gender en feminisme op die Kerk, sy gereformeerde aard en die teologie? Die Bybel word deur gereformeerde kerke (soos die NGK) aanvaar as die ewige, altyd geldende Woord van God en geen mens mag daarvan iets wegneem of iets byvoeg nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui