NG Kerk ‘het my verraai nes vir Beyers’

Dit lyk of hierdie artikel geskryf is slegs na aanleiding van wat in die persverklaring gesê word. Vir die volle persverklaring, kyk Chris van Wyk – onskuldig!.

************

NG Kerk ‘het my verraai nes vir Beyers’ | Netwerk24

Deur Johan Eybers

18 Oktober 2020 00:06

Rapport

’n Voormalige senior leier in die NG Kerk wat deur die Menseregtekommissie (MRK) ondersoek is omdat hy homoseksualiteit met pedofilie vergelyk het, beskuldig die kerk daarvan dat hy hom in die steek gelaat het “soos vir dr. Beyers Naudé”.

Die MRK het dr. Chris van Wyk, voormalige lid van die moderatuur van die kerk se algemene sinode, verlede jaar van haatspraak aangekla weens sy uitsprake. Van Wyk sê die kerk het hom nie bygestaan in sy tyd van nood nie.
Sy regspan beweer in ’n verklaring die klag is teruggetrek, maar adv. André Gaum, ’n MRK-kommissaris, sê die saak is nog nie afgehandel nie. Die MRK wil eers met die klaers konsulteer.

Van Wyk se regspan sê in ’n verklaring ds. Nelis Janse van Rensburg, moderator van die NG Kerk se algemene sinode, en ander leiers en akademici in die kerk het hom op lafhartige wyse verraai. Hulle het versuim “om ’n broer in Christus en ’n jare lange kollega te help” wat vir 30 jaar sy “alles” vir die kerk gegee het, lui die verklaring.

“Dit herinner aan die apartheidsdae toe die leierskap van die NG Kerk iemand soos dr. Beyers Naudé in die steek gelaat het weens politieke redes.”

Van Wyk het in 2018 ’n storm ontketen toe hy op Kerkbode se Facebookblad geskryf het diegene wat glo seksuele oriëntasie is ’n gawe van God, sal pedofilie – seksuele aangetrokkenheid tot kinders – op ’n soortgelyke manier moet aanvaar. Dit was in reaksie op ’n meningstuk waarin Janse van Rensburg gesê het gays moet versoen word “met die gawe van hul seksuele oriëntasie”.

Van Wyk het ook gesê sielkundiges beskou pedofilie en homoseksualiteit as seksuele oriëntasies. Dáároor wou die Sielkundevereniging van Suid-Afrika hom braai. Die vereniging het gesê dié siening kan neerkom op haatspraak.

[Kommentaar: Tog sê Prof. Dap Louw, forensiese sielkundige en buitengewone professor in sielkunde aan die Universiteit van die Vrystaat, dat dit is nie verkeerd om na pedofilie te verwys as ’n seksuele oriëntasie nie. Dit is ook nie ’n misdaad opsig self nie totdat iemand wat aan die versteuring ly, wel ’n misdaad pleeg.” (Kyk Kerk by MRK verkla oor houding teenoor pedofiele)]

Altesame 55 NGK-lidmate, predikante en dosente het Van Wyk se uitsprake in ’n skerp bewoorde verklaring verwerp.

[Kommentaar: Kyk NG teoloë reageer en Hou by waardes van seisoen van menswaardigheid, vra predikante.]

Hennie Pienaar, ’n gay proponent en sameroeper van die nieregeringsorganisasie Queers Without Borders (QWB), het ’n klag teen Van Wyk ingedien. Die MRK het ’n jaar later aan Pienaar gesê hy wil Van Wyk voor die gelykheidshof daag. Nog ’n jaar later het nog niks gebeur nie en Pienaar sê hy is ontevrede met die MRK se hantering daarvan.

“Die saak sloer nou al vir meer as twee jaar. Soos ek dit verstaan is die saak teruggetrek weens ’n tegniese fout met ’n vertaling. Dit is baie sleg. Van Wyk probeer hom nou as die slagoffer uitbeeld. Dit wek die indruk dat dit oukei is om homoseksualiteit met pedofilie te vergelyk.”

[Kommentaar: Oor hierdie sogenaamde “tegniese fout met ’n vertaling” sê die persverklaring die volgende: “…from the outset “Queers without borders” and the SAHRC maliciously accused Dr van Wyk of saying something he patently did not say… the SAHRC attached an incorrect English translation… not only was it flawed but the said employees failed to provide the necessary certificate required by the law to state that it was an accurate translation.”]

  • Van Wyk se regspan sê verder hy het nie destyds ’n vergelyking tussen selfdegeslagverhoudings en pedofilie getref nie. “Dr. van Wyk het in effek gesê (om Janse van Rensburg se fundamenteel gebrekkige en bisarre logika te illustreer) dat as ’n mens hierdie redenasie aanvaar beteken dit dat seksuele oriëntasie as pedofilie verstaan kan word en as ’n gawe van God gevier moet word.” André Bekker, ’n selferkende pedofiel, het die NGK die afgelope week by die MRK verkla omdat hy meen dié kerk diskrimineer teen mense met die dieselfde seksuele oriëntasie as hy.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui