Daar is tans twee strominge in NG Kerk

*********

Daar is tans twee strominge in NG Kerk | Netwerk24

Deur Dawie de Wet, Strand en Henrietta Klaasing, Randfontein

15 Augustus 2021 00:43

Dawie de Wet, Strand, skryf:

Ek verwys na die berig “Dwaalleer – dis onsin, sê NG Kerk” waarin ds. Nelis Janse van Rensburg, moderator van die algemene sinode (AS), aanvoer dat die dolerendes besig is om die kerk verdag te maak met beweringe van dwaalleer net omdat hulle teen die kerk se besluit oor selfdegeslagverhoudings is.

Janse van Rensburg beweer dat die kerk getrou aan die geloofsbelydenisse bly, maar wegbeweeg van Sola Scriptura Sacra en voel dat die Bybel minder letterlik en meer geestelik gelees moet word.

Hierdie “geestelike verstaan” van die Bybel is niks nuuts nie. ’n Middeleeuse gebruik was “Lectio Divina” – om die Bybel peinsend te lees om eie denke te stimuleer. Volgens Thomas Aquinas, die invloedrykste teoloog van daardie tyd, is die denke van die mens ’n verlengstuk van God se openbaring (die Bybel). Op dié wyse kon hy al die destydse kerk se vergrype “Bybels” regverdig.

Dáárom het die Hervormers hulle tot Sola Scriptura Sacra gewend en slegs die Bybel as God se enigste openbaringsmedium erken.

Die meeste studiestukke en besluite van die AS die afgelope twee dekades verraai ’n voorkeur vir Aquinas se siening ten koste van Sola Scriptura Sacra. Janse van Rensburg sê self in sy onlangse video dat die kerk by die Skrif en die Belydenis bly, maar dat die NGK ook ’n denkende kerk is.

Dit is hierdie benadering tot die Skrif wat gelei het tot minstens die sewe punte waaroor Strand Moedergemeente besluit het om te doleer.

Daarom, om te beweer dat daar geen dwaling in die NG Kerk is nie, is óf naïewe volstruispolitiek óf berekende misleiding.

Dr. Henrietta Klaasing, Randfontein, skryf:

Op watter gesag praat ds. Nelis Janse van Rensburg namens “die NG Kerk”?

Soos ek dit verstaan, is ’n moderator die voorsitter van ’n sinode, en vir die duur van daardie bepaalde sinode tree hy as fasiliteerder op. Dit is nie ’n titel soos professor nie.

Namens watter deel van die kerk word hier gepraat? Dit is bekend dat daar tans twee strominge in die kerk is. Daar word ook na die Kairos Netwerk (KN) verkeerdelik as die “Moreleta Kairos Netwerk” verwys. Is dit ’n opsetlike “fout” om die gemeente doelbewus in die berig te betrek? Die berig beweer ook foutiewelik dat ds. Melanie Thirion die “heilige prisma”-gebed gedoen het. Lees asseblief weer. Geen name word op KN se bekendstellingspamflet oor die vroulike leraars genoem nie.

Waarom word “die groep” deur middel van die sekulêre media aangespreek? Het die NG Kerk nie ’n ongeskrewe reël van “praat mét ons, nie óór ons” nie?

Kan enigeen nou iets op iemand se webwerf of Facebook-muur gryp en daarmee na die sekulêre pers hardloop?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui