‘n Kerk in digte mis

Kyk ook:

‘n Vlieënier beland soms met sy vliegtuig in digte mis. Hulle sê mens weet in sulke omstandighede nie of die vliegtuig op, of af, of links of regs beweeg nie.

Met die homoseksuele debat bevind die NG Kerk en die Christendom in die algemeen, onsself in ’n soortgelyke situasie. Wat is regtig reg en wat is verkeerd? Wie is reg en wie is verkeerd?

Ons kan leer by die vlieënier as hy in omstandighede beland waar hy niks kan sien nie. Hy mag hom nooit in so ’n situasie op sy eie oordeel verlaat nie. HY MOET SY INTRUMENTE VERTROU. Die instrumente in die kajuit sê vir die vlieënier, hoe hoog hy vlieg, hoe vinnig hy vlieg, hoe ver hy van sy bestemming is, hoeveel brandstof hy het en of hy op die regte koers is. ’n Groot persentasie vliegtuigongelukke word toegeskryf aan vlieëniers wat paniekering geraak het en gedink het daar is fout met hulle instrumente.

Ek wil glo daar is baie Christene wat in hierdie tyd verward is oor die homoseksuele kwessie in die kerk. Daar is sinodebesluite en hofsake en opinies van professore en leiers en leraars. Hulle sê: “God is liefde … Moenie oordeel nie … Maak net ruimte vir almal se standpunte”. Wie is in al hierdie harwar reg en wie is verkeerd?

My raad as leraar is: “Vertrou die instrumente wat God ons gegee het!” Vertrou die leer van die apostels soos dit in die Bybel vir ons opgeskryf is. Moenie jou ore uitleen vir elke Jan Rap en sy maat se slim argumente nie. Moenie dink omdat ’n professor in die teologie gepraat het jy kan hom vertrou nie. Moenie jou verlaat op kerkleiers en leraars se opinie nie, al is daar moderators onder hulle. Moenie jou vertroue stel in enige sg. sielkundige of wetenskaplike navorsing nie.

Ons beleef ’n tyd waar die woorde van die apostel Johannes nuwe betekenis vir ons tyd het: “Geliefdes, moenie enigeen glo wat sê dat hy die Gees van God het nie, want daar is nou reeds baie vals profete in die wêreld, maar ondersoek elkeen, ondersoek of sy gees van God afkomstig is” (1 Joh 4:1). Paulus het vir Timoteus gesê “daar is mense wat die uiterlike skyn van die godsdiens het, … Bly weg van sulke mense af” (2 Tim 3:5). Hy sê ook vir Timoteus: “Bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het, en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus” (2 Tim 3:14-15).

Waaroor gaan die rusies oor die homoseksualisme in hierdie tyd? Dit gaan oor mense wat in die kerk grootgeword het, maar gevange gehou word deur onreinheid. Hulle is gevangenes van hulle onrein gedagtes, woorde en dade en hulle wil dit nie erken nie. Hulle wil dit goedpraat en is onwillig om hulle te bekeer. Hulle sê ons is so gebore.

Hierdie mense ontken die duidelike vermanings van die apostels dat diegene wat volhard in hulle sonde die koninkryk van God nie sal ingaan nie (bv 1 Kor 6:9-11). Kerkleiers wat hierdie mense sterk in hulle kwaad en die samelewing mislei oor wat in die Woord staan, sal saam met die sondaars deur God veroordeel word.

Moenie in die mis verdwaal nie. Moenie jou eie kop volg nie. Vertrou op die instrumente wat God vir ons gegee het. Dan sal jou vliegtuig veilig sy bestemming bereik.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui