Moenie evangelie verwyder

Moenie evangelie verwyder | Volksblad

deur Prof. Johan Janse van Rensburg

2012-03-07 05:27

André Jansen se rubriek Woord en Perspektief (VB 05/03/2012) [God oor ander dinge besorg] sluit aan by die populêre mening dat die kerk met die verkeerde goeters besig is. God is oor ander dinge besorg, lui die opskrif. Dit is dogmatici en kerkregtelike regulasies wat die skuld kry dat mense die kerk verlaat.

André se beredenering klink baie soos die leerstellings van die Ontluikende kerk. Dit is volgens hierdie beweging die kerk se dogmatiese ingesteldheid wat veroorsaak dat mense belangstelling in die kerk verloor. By die Emerging Church is leerstellings volgens Rob Bell net ’n wegspringplek vir gesprek met ander gelowe, maar het dit geen waarde as vaste geloofsbeginsels nie. Daarom moet leerstellinge (ortodoksie) met liefdadigheid (ortopraksie) vervang word.

In die Nuwe Testament moes die apostels gedurig waarsku teen leerstellige dwalings. Nie een van die apostels was bereid om ’n kompromie te maak as dit by leerdwaling gekom het nie.

André verwys na die Nederlandse konteks. Ongeveer 50 jaar gelede het die leer van die Skrif in Nederland só onder kritiek deurgeloop dat die kerke in verwarring gebring is. ’n Groep predikante het in reaksie hierop ’n boekie met die titel “Het Getuigenis” uitgegee. Daarin het hulle bevestig dat hulle hulself opnuut aan die geloofswaarhede van die Skrif verbind! In Suid-Afrika het ’n groep afgetrede professore dieselfde as die Nederlandse teoloë van 50 jaar gelede gedoen!

As die verwerping van dogmas en die betrokkenheid by barmhartigheid die kerk se oplossing is, moes die kerke in Nederland vandag kerngesond gewees het. Die kerke in Nederland is egter alles behalwe ’n voorbeeld van ’n lewenskragtige kerk.

Kan die kerke in Nederland ons iets leer? Ongetwyfeld! Moenie die evangelie van Jesus Christus verwerp, verander of verwyder nie. Sonder die geloof in Christus is die kerk se barmhartigheid niks meer as humanistiese filantropie nie.

Prof. Johan Janse van Rensburg

Bloemfontein

Kyk ook

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui