Lidmaat die duiwel in vir die NGK se sinode

Kyk ook:

Die volgende artikel is gekopieer vanaf Rapport.

************

Lidmaat die duiwel in vir die NGK se sinode

2011-10-22 23:15

Johannes de Villiers

Dr. Wynand Louw is die duiwel in.

En boonop is dié mediese spesialis van die Kaap ’n man wat baie moeite doen om sy punt oor te dra.

Die afgelope week het Louw ’n klagstaat teen die algemene sinode van die NG Kerk opgestel en dit aan elke ring en ’n magdom gemeentes van die NG Kerk, asook ’n klomp ander werknemers van dié kerkverband gestuur.

Daarin doen hy aansoek dat al die leraars en ouderlinge wat die pas afgelope algemene sinode van die NG Kerk bygewoon het getug word. Op dié sinode is bely dat daar in die kerk ook ruimte is vir sommige gelowiges wat nie in die letterlike bestaan van die duiwel glo nie – en Louw meen dít is godslasterlik.

’n Kerkregkenner sê egter Louw pleeg ’n wanvoorstelling van die NG Kerk se besluit oor die bose.

Predikante het die afgelope week aan Rapport gesê dit is niks ongewoon dat ontstoke lidmate soms kla-briewe en tugversoeke na ringe en predikante stuur nie, maar dit is byna ongehoord dat iemand die moeite sal doen om ’n aanklag só wyd te versprei.

Hoe Louw al die e-posadresse (en die tyd) gekry het om sy brief so ver te kon versprei, kon nie vasgestel word nie, want hy is minder bereid om met die pers te praat as met die ringe van sy kerk.

“Ek kan nie in hierdie stadium die pers hierby betrek nie,” het Louw kortliks op ’n navraag gereageer.

In sy aanklag spreek Louw sy ontevredenheid uit dat die sinode hulle aan godslastering skuldig gemaak het deur ruimte te laat vir diegene wat Satan se bestaan bevraagteken. Jesus het aan die duiwel geglo en as mens dus die duiwel bevraagteken, maak jy Jesus tot leuenaar, skryf Louw.

Hy meen ook die predikante op die sinode het hul legitimasiebelofte verbreek deur dié onskriftuurlike lering toe te laat.

Maar vanuit NG geledere is gereageer dat Louw oorhaastig sy e-posse uitgestuur het voordat hy seker gemaak het wat die NG Kerk wel oor die duiwel besluit het.

Dr. Quintus Heine, aktuarius van die sinode Wes- en Suid-Kaapland, het byvoorbeeld ’n brief aan ringe in dié streek gestuur waarin hy verduidelik die NG Kerk self het nie as beleid die duiwel se bestaan ontken nie, maar bloot gesê dat daar sommige gelowiges is wat oor Satan se letterlike bestaan twyfel en dat daar vir hulle ook ruimte in die kerk is.

“Die kerk het die bestaan van die duiwel en bose magte duidelik erken. In die eerste sin van die besluit bely die kerk duidelik ‘met blydskap, die oorwinning van Jesus Christus oor al die manifestasies van die duiwel, bose magte, boosheid en kwaad in hierdie wêreld’,” skryf Heine.

“Die kerk maak juis ruimte vir die bediening van bevryding (onder toesig van die ring) wat hy nie voorheen so duidelik gestel het nie. Wat die NG Kerk betref, is daar ’n duiwel en ’n bose mag – en Jesus het ons daarvan verlos!

“Die kerk het met een sin melding gemaak dat ons nie mense se gewetens wil bind nie. Daar is ruimte vir mense wat wil kies of hulle die duiwel as ’n persoon sien en of hulle dit as ’n bose mag beskou. Daar was mense wat verkies om te praat van die bose en daar is mense wat verkies om te praat van die duiwel.”

Kommentaar

Wynand – 23 Oktober 2011 om 12:08

Dit is jammer dat dr Heine skynbaar nie my brief gelees het voordat hy kommentaar gelewer het nie.

Ek het nooit beweer dat die Algemene Sinode die bestaan van die duiwel ontken het nie.

Ek het gesê dat aangesien die leraars beloof het om dwaallering te bestry en uit die kerk te weer hulle besluit om ruimte in die kerk te maak vir hierdie dwaalleer ’n verbreking van hulle legitimasie belofte is.

Die oorspronklike brief is te lees op hierstaanek-punt-com.

Wynand Louw

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui