‘lets sieks’ agter Moreletapark se Skrifverwringing

Kyk ook:

‘lets sieks’ agter Moreletapark se Skrifverwringing

Jean Oosthuizen

Rapport, 2016-11-13

Die NG Kerk kan hom waarskynlik weer vasloop omdat hy nie ag geslaan het op regsadvies tydens die afgelope buitengewone algemene sinode nie.

‘n Warboel regstegniese sake en prosedurepunte kan glo veroorsaak dat die NG Kerk se omstrede besluit oor homoseksualiteit wéér in dispuut is. Die moontlikheid dat die saak steeds in die hof gaan beland, is groot.

Die sinode het dié week ’n opskudding in die kerk veroorsaak toe hulle 2015 se besluit dat gays mag trou van die tafel gevee het.

Dit kom nadat die vorige algemene sinode se besluite oor selfdegeslagverhoudinge tersyde gestel is deurdat die kerk se appèlliggaam ’n appèl teen verlede jaar se besluit gehandhaaf het omdat die regte prosedure nie gevolg is nie.

Die appèlliggaam se eie geloofwaardigheid is egter nou ook onder verdenking omdat dit onduidelik is of ag geslaan is op regsadvies wat deur die kerk ingewin sou word.

Die vorige moderator van die NG Kerk, prof. Nelus Niemandt, wou by die sinode weet of die kerk se Algemene Taakspan Regte (ATR) regsadvies ingewin het voordat tot die besluit gekom is dat die besluite van 2015 se sinode ongeldig is.

Niemandt sê die kerk se aktuarius, dr. Johan van der Merwe, het “vaagweg aangedui dat daar wel regsadvies ingewin is”.

Die regsadvies wat deur die kerk ingewin is, is egter nie aan die sinode beskikbaar gestel nie. Rapport verstaan die regsadvies was erg krities oor die status van die appèlkommissie se besluit.

Die moderator, ds. Nelis Janse van Rensburg, het by die vergadering gereël dat geen debat gevoer word oor die appèlliggaam se aanbevelings nie.

lntussen heers verontwaardiging onder baie lidmate en predikante oor ’n brief wat die kerk se assessor, ds. Dirkie van der Spuy, aan sy gemeente, Moreletapark, geskryf het. Daarin spog hy dat dié week se besluit ’n oorwinning vir God en sy Woord is.

In sy skrywe sê Van der Spuy dit was vir hom wonderlik om te sien hoe “die Here self kom oorneem het en ’n wonderwerk in Sy kerk kom doen het”.

Volgens Van der Spuy het die Here ’n besluit wat deur Moreletapark geneem is, gebruik om ’n keerpunt in die besluite te bring en die hele koers van besluite in ’n nuwe rigting te stuur.

Dit het daartoe gelei dat 2015 se besluit van die tafel gevee en vervang is met ’n behoudende besluit, sê Van der Spuy.

Moreletapark is bekend vir sy anti-gay-sentimente, en was ’n paar jaar gelede in die nuus toe hulle Johan Strydom, ’n gay orrelis, onregmatig afgedank het en in die hof slae gekry het daaroor.

Verskeie predikante in die NG Kerk het hulle openlik op sosiale media gedistansieer van Van der Spuy se brief. Die teoloog prof. Wentzel van Huyssteen sê Van der Spuy se brief is skokkend, terwyl dr. Andre Bartlett sê hy voel fisiek siek nadat hy die brief gelees het. Dr. Murray Coetzee van die Beyers Naude-sentrum by die Universiteit Stellenbosch sê: “Die wyse waarop die Skrif hier verwring word, laat my voel iets sieks moet daaragter lê.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui