Beoordeling van die 2015/2016 besluite

Kyk ook:

Temas ter sprake in die Sinodale besluite rondom homoseksuele persone

1. SKRIF AS VERTREKPUNT

1986

1. Homoseksualiteit is in die lig van die Skrif ’n afwykende vorm van seksualiteit.

2. Homoseksuele praktyke en homoseksuele verhoudings moet afgewys word as in stryd met die wil van God soos in die Heilige Skrif geopenbaar.

2004

Daarom is dit die Kerk se taak om die lig van God se Woord ook op die terrein van menslike seksualiteit te laat val, sodat die boodskap van hoop en bevryding in Jesus Christus – ook met betrekking tot hierdie aspek van die lewe – tuisgebring kan word.

Die Algemene Sinode erken dat daar in die Kerk verskillende vertolkings is van die beskikbare Skrifgegewens oor homoseksualiteit.

2007

Die Bybel is ons uitgangspunt en in ons nadenke oor homoseksualiteit soek ons eerlik na maniere om die Bybelse waardes betenisvol binne die konteks te interpreteer.

2015

8 Die Algemene Sinode bied hierdie besluite oor selfdegeslagverhoudings aan met nederigheid na ʼn ernstige soektog en as die beste toepassing van die boodskap van die Bybel soos ons dit tans verstaan. Die Algemene Sinode versoek lidmate, gemeentes en kerkvergaderings om weereens op ʼn selfstandige soekproses na die toepassing van die boodskap van die Bybel hieroor te gaan. In die soektog kan studiestukke van die Algemene Sinode van 2007, 2011, 2013 en 2015 ernstig gelees word. In ooreenstemming met die NGB Art 2 behoort die besondere en algemene openbaring gebruik te word, dws die beste huidige menswetenskaplike bevindings.

2016

2. Die Algemene Sinode 2.1. herbevestig haar verbintenis aan die besluite van die Algemene Sinode van 2011 oor Skrifbeskouing, Skrifgesag, Hermeneutiek en Skrifuitleg.

2. BEOORDELING VAN HOMOSEKSUELE PRAKTYKE

1986

1. Homoseksualiteit is in die lig van die Skrif ’n afwykende vorm van seksualiteit.

2. Homoseksuele praktyke en homoseksuele verhoudings moet afgewys word as in stryd met die wil van God soos in die Heilige Skrif geopenbaar.

2004

In aansluiting by die Algemene Sinode van 2002 bevestig die Algemene Sinode 2004 dat sowel heteroseksuele as homoseksuele promiskuïteit ten sterkste veroordeel word.

2007

Ons aanvaar die liefde van Christus as die enigste geldige grondhouding waarop verhoudinge binne die geloofsgemeenskap gebaseer word. Alle mense is geskep na die beeld van God; die verlossing in Christus is vir alle mense en die Gees is uitgestort op alle gelowiges. Daarom aanvaar ons die menswaardigheid van alle mense.

5. Die Algemene Sinode bevestig ook die besluit van 2004 dat sowel heteroseksuele as homoseksuele promiskuïteit ten sterkste veroordeel word.

2015

1 Die Algemene Sinode herbevestig die gelykwaardigheid van alle mense ongeag seksuele oriëntasie en verbind haarself tot die handhawing van die menswaardigheid van alle mense.

2016

4. Die Algemene Sinode

4.1. beklemtoon dat geen mens minderwaardig behandel mag word nie, maar inteendeel dat met respek en liefde teenoor alle mense opgetree moet word. Ons erken die gelykwaardigheid van alle mense ongeag seksuele oriëntasie en verbind onsself opnuut tot die bevordering van die Godgegewe waardigheid van alle mense.

4.2. roep alle lidmate en ampsdraers op om, ongeag seksuele oriëntasie, mekaar met die liefde van Christus te aanvaar.

3. STATUS VAN HOMOSEKSUELES IN DIE GEMEENTE

1986

3. Die homoseksuele lidmaat mag nie op grond van sy afwykende gerigtheid as sodanig, die belewing van gemeenskap van die heiliges en die geleentheid tot diens in belang van die koninkryk van God ontsê word nie.

2004

Die Algemene Sinode is daarvan oortuig dat alle mense, ongeag hulle seksuele oriëntasie, ingesluit is in God se liefde en dat hulle op grond van hulle doop as volwaardige lidmate van die Kerk aanvaar behoort te word.

2007

Alle mense, ongeag hulle seksuele oriëntasie, is ingesluit in God se liefde en hulle word op grond van hulle doop en geloof as lidmate van die kerk van Christus aanvaar. Onder lidmaatskap word verstaan toegang tot die sakramente, toegang tot die ampte en onderworpenheid aan die kerklike tug.

2015

2 Die Algemene Sinode verklaar dat hetero- en homoseksuele persone wat in ʼn verhouding van persoonlike geloofsgehoorsaamheid aan die Here leef, ten volle kan deelneem aan al die voorregte van die kerk as verbondsgemeenskap.

2016

4.6. is oortuig dat enige persoon wat die genade van die Here deelagtig is en Jesus Christus as Here bely, ongeag seksuele oriëntasie, ’n volwaardige lidmaat van die kerk is en as sodanig as ongesensuurde lidmaat volle toegang het tot al die ampte in die kerk.

4. PREDIKANTSBEVOEGDHEID

2007

7. Die verlening van predikantsbevoegdheid is ’n funksie van die Algemene Sinode. Die sinode besluit dat homoseksuele gelegitimeerdes wat ‘n selibate lewenstyl beoefen tot die predikantsamp toegelaat word.

2015

5 Dieselfde Christelik-etiese standaarde (leer en lewe) geld vir die legitimasie van ordening van alle persone. Punt 7 van die besluit van 2007 verval (selibaat vereiste verval).

2016

4.8 besluit dat dieselfde Christelik-etiese standaarde met betrekking tot leer en lewe geld vir die legitimasie en ordening van alle persone, ongeag seksuele oriëntasie.

5. DIE HUWELIK

2004

Volgens ons verstaan van die Skrif kan slegs die verbintenis tussen een man en een vrou as ’n huwelik beskou word. (Handelinge, Algemene Sinode 2002: bladsy 624, 12: 11, punt 2.)

2007

4. Die Algemene Sinode herbevestig die besluit van 2004 dat, volgens ons verstaan van die Bybel, slegs die verbintenis tussen een man en een vrou as ’n huwelik beskou kan word.

2015

3 Die Algemene Sinode herbevestig die besluite oor die huwelik van 2004, 2007 en 2013 dat slegs die verbintenis van een man en een vrou as ʼn huwelik beskou word.

2016

4.4. herbevestig dat die huwelik deur God ingestel is as ’n heilige en lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou en dat enige seksuele gemeenskap (dade) buite so ’n vaste formele huweliksverbintenis nie aan Christelike riglyne voldoen nie, maar erken die realiteit dat daar lidmate van dieselfde geslag in burgerlike verbintenisse is wat getuig van liefde en trou.

6. BURGERLIKE VERBINTENISSE

2007

Die Algemene Sinode besluit dat, in die lig wat ons tans het, homoseksuele verbintenisse en huwelike nie as ’n alternatief vir die huwelik aanvaar kan word nie.

2015

4 Die Algemene Sinode besluit om in die lig van pt 1 hierbo erkenning te gee aan die status van burgerlike verbintenisse van persone van dieselfde geslag wat gekenmerk word deur liefde en trou, en maak voorsiening dat hierdie verbintenisse deur predikante wat hulle weg oopsien, bevestig kan word.

2016

4.4. herbevestig dat die huwelik deur God ingestel is as ’n heilige en lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou en dat enige seksuele gemeenskap (dade) buite so ’n vaste formele huweliksverbintenis nie aan Christelike riglyne voldoen nie, maar erken die realiteit dat daar lidmate van dieselfde geslag in burgerlike verbintenisse is wat getuig van liefde en trou.

7. VERSKONING

2004

In die lig hiervan vra die Algemene Sinode verskoning aan alle homoseksueles en hulle families, binne en buite die Kerk, vir elke geval waar die Kerk sulke mense in die verlede, onder andere as gevolg van ’n gebrek aan leiding, seergemaak en veronreg het en waar God se liefde nie in die Kerk se optrede raakgesien kan word nie.

2015

1 Vanuit ons verbintenis tot die waardes van die Seisoen van Menswaardigheid sê ons as Algemene Sinode opreg jammer vir mense wat seergekry het en wie se waardigheid aangestas is weens enige homofobiese taal, gedrag of gesindheid van die kant van die kerk, ook tydens hierdie vergadering.

2 Die Algemene Sinode weerhou haarself voortaan van enige homofobiese taal, gedrag en gesindheid juis vanweë ons verbintenis aan die Seisoen van Menswaardigheid, en ook vanuit ʼn diepe oortuiging van die diskriminerende aard van sodanige taal, gedrag en gesindheid as gevolg daarvan.

8. ROL VAN DIE KERKRAAD

2007

8. Die AS erken die diskresie van Kerkrade om die verskille oor homoseksualiteit in gemeentes in die gees van Christelike liefde te hanteer.

2015

6 Die Algemene Sinode erken die diversiteit van beskouinge oor selfdegeslagverbintenisse binne die NG Kerk en bevestig die reg van kerkrade om hieroor hulle eie standpunte en praktyke te formuleer en te reël.

7 Die Algemene Sinode bevestig die diskresie van kerkrade om die verskille oor homoseksualiteit in gemeentes te hanteer en versoek hulle om dit in ʼn gees van Christlike liefde te doen.

2016

4.7 bevestig dat Kerkrade die reg behou om self te besluit wie in leiersposisies in die gemeentes mag dien, en kan nie verplig word om enige persoon wat in ’n selfdegeslag burgerlike verbintenis is, in diens te neem nie.

WAT HET VERANDER IN 2016?

Die Kerkbode se reaksie op die 2016 besluite is bv:

“Die NG Kerk se buitengewone Algemene Sinode het hard en duidelik nee gesê vir enige seksuele verhoudings tussen mense van dieselfde geslag”.

“Daar is ook geen ruimte meer dat predikante van die NG Kerk toegelaat kan word om gayverbintenisse te bevestig nie.”

“Daarmee is die omstrede besluite van 2015 volledig omgekeer”.

In die media is berig: “NG Kerk wys gay lidmate die rooi kaart”.

Gemeet aan die temas wat ek hier geïdentifiseer het sien ek niks van die waterskeidende implikasies van die 2016 besluite nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui