Kophou in 2000

Kyk ook:

Die volgende nuusbrief is in Desember 1999 deur Jan Louw geskryf en gestuur aan sy wykslidmate.

**************

Ek het op die volgende beskrywing van ons tyd afgekom en dit toe effens aangepas vir die nuusbrief:

Ons het in ons tyd:

  • Hoë geboue, maar korter humeure.
  • Wye deurpaaie, maar nie ruimte vir mekaar nie.
  • Groter huise, maar kleiner gesinne.
  • Meer hulpmiddels, maar minder tyd vir onsself.
  • Meer geleerdheid, maar minder gesonde verstand.
  • Meer kennis, maar minder oordeel.
  • Meer kenners, maar minder oplossings.
  • Meer medisyne, maar minder gesondheid.

Ons:

  • Vul ons huise met besittings, maar maar nie met vreugde nie.
  • Het geleer om te oorleef, maar nie om te lewe nie.
  • Voeg jare by ons lewe, maar nie lewe by ons jare nie.
  • Was al tot by die maan en terug, maar vind dit moeilik om die straat oor te steek na ’n nuwe buurman.
  • Het die buitenste ruimte oorwin, maar nie ons innerlike ruimte nie.
  • Suiwer die lug om ons, maar besoedel ons gees.
  • Kan ’n atoom opbreek, maar nie ons vooroordele nie.
  • Het hoër inkomstes, maar minder tevredenheid.
  • Kommunikeer met die eindes van die aarde, maar nie met ons huismense nie.
  • Word gevoer met informasie, maar het nie tyd om dit te verwerk nie.

Ons lewe in tye van:

  • Wêreldvrede, maar huishoudelike oorlog.
  • Baie vermaak, maar minder vergenoegdheid.
  • Baie soorte kos, maar met minder voedingswaarde.
  • Verheerliking van die liefde, maar onvermoë om dit in stand te hou.
  • Twee inkomstes, maar onvermoë om dit saam te geniet.
  • Mooier huise, maar stukkende gesinne.
  • Baie meganismes om ons te beskerm, maar min gemoedrus.

Dit is ’n beskrywing van die wêreld in die jaar 2000 wat ons nou ingaan. Ek glo ons kan almal van hierdie dinge rondom ons raaksien. Dit beklemtoon vir ons die waarheid van Ps 94:12: Dit gaan goed met die mens wat deur U opgevoed word Here, vir wie U onderrig in u Woord. Alleen die Here kan vir ons die lig en die wysheid gee waarmee ons die nuwe millennium moet ingaan. Dien die Here, respekteer Hom in alles en Hy sal jou seën. “Hy sal sy engele opdrag gee om jou te beskerm waar jy ook al gaan. Op hulle hande sal hulle jou dra, sodat jy nie jou voet teen ’n klip sal stamp nie.” (Ps 91:11,12) Ons het rede om die toekoms blymoedig in te gaan.

Hoogtepunte van 1999

Ons het vanjaar ons gemeente se 21ste verjaarsdag gevier. Dit was werklik vir ons ’n geseënde jaar. Ons kon ’n nuwe klankstelsel laat installeer wat ’n groot verbetering vir ons almal is. Verder het ons ook die nuwe projektor gekoop wat ons in die plek van die ou truprojektor gebruik. Met die basaargeld kon ons ’n deel van die parkeerarea met plaveisel bedek. Ons wil ook nog in hierdie boekjaar die liturgiese ruimte verbeter en vergroot. Verder beplan ons ook om nuwe lokale in die kerk in te rig vir die kinderkerk en vir opleidingsdoeleindes. Die Here het dit alles vir ons moontlik gemaak en ons wil aan Hom al die eer gee!

Waaroor ons egter die meeste dankbaar is, is die groot Geloofsbelofteoffer van R300 000 wat die gemeentelede beloof het vir wêreldsending. Daar sal ’n dag kom wanneer al ons geboue en geriewe tot niet sal gaan of verouderd sal wees, maar ons bouwerk aan die koninkryk van God sal vir ewig staan tot sy eer en verheerliking.

Ons is ook baie dankbaar vir die groot skare van lidmate wat betrokke is by die werk in die gemeente. Mens dink aan die spanne wat die lofprysing doen, die musiekinstrumente bespeel, die klank en die projektor hanteer. Mens dink aan die skares wat diens doen by die verskillende kommissies en betrokke is by Bybelstudies en leiding neem by die jeug. Dit is almal mense wat hierdie werk onbetaald doen uit liefde vir die Here. Daar is egter nog steeds baie helpers nodig. Skakel my asb as jy ook iets vir die Here in die nuwe jaar wil doen.

Ds Jan Louw

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui