Kommentaar op SABC 2 se “What does God think of us?”, “Literal Interpretation”

Theo Geyser, die programaanbieder van SABC 2 se “What does God think of us?” sê aan die begin van die episode “Literal Interpretation” op 22 Mei 2011: “It was a very important question that Jesus posed one day: “How do you read the Bible?”, not “what do you read?”, but “how do you read?”.

Ek neem aan hy verwys na Lukas 10:26. Kom ons kyk was sê verskillende vertalings:

Afrikaanse Ou Vertaling (1953):En Hy antwoord hom: Wat is in die wet geskrywe? Hoe lees jy?

Modern King James: “He said to him, What is written in the Law? How do you read it?

American Standard Version: “And he said unto him, What is written in the law? how readest thou?

Wat egter interessant is, is wat die Afrikaanse Nuwe Vertaling (1983) sê: “Jesus sê vir hom: “Wat staan in die wet van Moses geskrywe? Wat lees jy daar?“”

Kom ons kyk ook na die res van die konteks in Lukas 10:

(27) Hy antwoord: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself.”
(28) “Jy het reg geantwoord,” sê Jesus vir hom. “Doen dit en jy sal die lewe verkry.”

Dus wil Jesus in Lukas 10:26 Hom glad nie uitspreek oor hoe ’n mens die Bybel moet interpreteer nie. In die konteks beteken “Hoe lees jy?” maar presies dieselfde as “Wat lees jy?” en daarom staan dit so in die Nuwe Vertaling (1983).

Dus maak Theo Geyser ’n baie misleidende stelling aan die begin van die program.

Probleem!

Aan die begin van die program sê die vroulike verteller: “There seems to be a selective belief when it comes to stories in the Bible. We have no problem seeing the Bible story of creation as a myth and even that of the burning bush and the parting of the Red sea, but when it comes to the birth of Christ, His death on the cross and the resurrection, we blindly except a literal interpretation. Where do we draw the line? What is truth and what is myth?”

Hiermee word die presiese probleem met die geloofwaardigheid van die Bybel in die kollig gestel: As jy sommige gedeeltes van die Bybel nie wil glo nie (soos Gen 1-11) waarom sal jy die res glo? Watter kriteria sal jy aanwend? Kyk Creation: Why It Matters.

Kom ons kyk na wat verskillende mense tydens die program gesê het:

Prof Anton van Niekerk

Prof van Niekerk sê: “Dit is doodgewoon naïef om te dink dat ’n mens enige mens kan loslaat op die Bybel en hy kan daarin eenvoudig letterlik registreer wat daarin staan.”

Hierdie is juis nie waar nie. Ons moet die Bybel juis eenvoudig lees en verstaan. God het nie bedoel om dit vir ons moeilik te maak nie. Indien Bybels in bv Sjina versprei word, word dit nie saam met ’n handleiding gestuur wat verduidelik hoe die Bybel geïnterpreteer moet word nie. Enige mens wat die Bybel lees sonder vooropgestelde idees moet die Bybel kan verstaan (bv iemand wat glo dat die aarde miljoene jare oud is, sal die Bybel anders moet interpreteer in Genesis 1 om by sy siening in te pas. As hy egter nie daardie vooropgestelde idee gehad het nie, sou hy gesê dat die Bybel sê dat God die aarde in slegs 6 dae geskep het).

Prof van Niekerk sê later in die program: “… as ons tog net ’n bietjie meer nederig kan wees. As ons tog net ’n bietjie minder seker van onsself kan wees. Jy sal weet dat ek hou van die die idee van geloof sonder sekerhede. Sekerheid is iets wat nie so dikwels voorkom nie. Dat ons net meer beskeie kan wees.”

Hierdie is tipies postmodernisties: dit is die idee dat ons nie sekerheid kan/moet hê oor basiese Bybelwaarhede nie. Dit sluit nie net dinge in die Ou Testament in nie, maar ook dinge soos die maagdelike geboorte, Jesus se wonderwerke, opstanding, hiernamaals en dat jy slegs deur Jesus gered kan word. Die probleem is dat die postmoderniste ook maar hulle eie absolute waarhede het, soos die artikel ‘That’s nice for you, but it’s not for me’ so mooi demonstreer. Prof van Niekerk glo absoluut daaraan dat daar nie absolute waarhede is nie. Hy glo dat evolusie bewysde wetenskap is en dat dit verhewe bo die Bybel is. Met so ’n siening verwater jy die hele Bybel en evangelieboodskap sodat elkeen maar sy eie waarhede moet skep en daarvolgens leef.

Vir meer oor postmodernisme, kyk:

Dr Japie La Poorta

Ek is baie dankbaar dat Dr La Poorta erken het dat hy letterlik in Adam en Eva en Jona in die vis glo, alhoewel dit gelyk het of dit vir hom moeilik was om dit te erken. En hy hoef nie besorg te wees dat dit nie wetenskaplik verklaar kan word nie, want daar is baie ander dinge wat ook nie wetenskaplik verklaar kan word nie. Om ’n paar te noem:

  • Die skepping: Of jy nou glo God het dit in 6 dae geskep of deur miljoene jare van evolusie, wetenskap kan nie verklaar waar die materie en/of energie en genetiese inligting vandaan gekom het nie. Kyk Waar kom al die nuttige energie vandaan? en Sel DNS-inligting bewys vir IO.
  • Jesus se maagdelike geboorte, wonderwerke, opstanding en hemelvaart.
  • Gebedsverhoring.
  • Lewe na die dood.

Hierdie is alles dinge wat dr La Poorta seker nie ’n probleem sal hê om letterlik te glo nie. Wat is dan fout daarmee om ander dinge in die Bybel ook te glo wat nie wetenskaplik verklaar kan word nie?

Pastoor Philip Liebenberg van Die Kapel Kerk

Pastoor Liebenberg wil sê dat die Bybel se doel nie is om vir ons as mense te wys hoe ons dinge vandag moet doen nie, maar dit is ’n vingerwysing na die boodskap van Jesus.

Hierdie uitkyk help glad nie met die probleem wat die verteller aan die begin van die program uitgelig het nie. Dit klink eerder vir my na ’n verskoning om sekere dinge wat God ons belet om te doen, te mag doen. En verder, wat is die boodskap van Jesus – slegs liefde? Wat van God se oordeel?

Dr Abel Pienaar

Dr Pienaar is bekend vir sy kontroversiële sieninge (kyk Wie is Abel Pienaar?). Volgens Dr Pienaar is die Bybel metafore, mense wat in hulle eie taal oor God praat. Daar is blykbaar ’n groot verskil hoe die eerste Christene en latere Christene geglo het. Latere Christene het volgens hom begin beweer dat Jesus God was en dat God ’n drie-eenheid is – dus glo hy dit nie. My vraag is net hoe seker hy van hierdie stelling kan wees. Dit is dinge wat amper 2000 gelede gebeur en opgeskryf is. En verder is die Nuwe Testament die dokument met die meeste bronverwysings van enige ander antieke geskrif. Kyk bv Jesus Christ Questions and Answers en Bible Questions and Answers. CS Lewis demonsteer in Fern-seed and Elephants hoe maklik mense ander mense se skrywes verkeerd kan interpreteer. Daarom moet ons die Bybel eenvoudig lees en verstaan.

Dr Peter Hammond

Peter Hammond, wat ook gereeld in die tydskrif Juig! en Joy skryf, het ’n paar baie waardevolle dinge gesê:

Hy sê dat ons aan beide die Ou en Nuwe Testament moet glo, want Jesus het die OT kom vervul en dit nie tot niet kom maak nie. Hy sê iets baie belangriks: “Jesus lived the Bible, He prayed the Bible. Of course the Bible He had was the Old Testament.

Hy sê ook dat die Bybel volgens hermeneutiese beginsels geïnterpreteer moet word: Skrif interpreteer skrif. Die duidelikste gedeeltes moet die minder duidelike dele in die Bybel interpreteer. Jy baseer nie jou siening op ’n onduidelike kontroversiële gedeelte in die Bybel nie. Om my eie voorbeeld te noem: ’n Mens lees nie net Jakobus en besluit daarvolgens dat ’n mens volgens jou dade gered word nie. Jy neem Romeine ook in ag waar Paulus baie duidelik is dat ’n mens NIE deur jou dade gered word nie, maar slegs deur geloof in Jesus. Kyk ook Die Nuwe Testament oor Redding.

*********

’n Groot leemte in die program is dat jy voor ’n keuse gestel word om die Bybel letterlik te lees of nie letterlik te lees nie. Wat ek mis is dat niemand genoem het dat die Bybel verskillende genres bevat nie: Die Bybel bevat geskiedenis, poësie, gelykenisse, ens. Ons moet elke genre lees soos dit deur die skrywers bedoel is. Sekere dele is bedoel om letterlik gelees te word en ander nie. Daar is baie geskiedenis in die Bybel en dit moet letterlik gelees word, maar bv gedigte en gelykenisse moet ’n mens duidelik nie letterlik lees nie. Dit sluit dinge in soos bv ’n plat aarde op vier pilare.

Kyk ook:

Liberales soos Theo Geyser, Abel Pienaar en Philip Liebenberg voel baie sterk dat die Bybel vol mites is, maar die vraag is wat in die Bybel geglo kan word? Douglas Kelly, ’n gereformeerde teoloog het gesê: “I would simply suggest that to interpret ‘very good’ as including pre-Fall pain, death, etc. is simply inadmissible in terms of proper Hebrew exegesis. If one can turn a word (or two words— tobh me’od) upside down on its head to mean the exact opposite of what it clearly says, the authority of Scripture is a nose of wax to be shaped by the changing culture.”

Hy het hierdie spesifiek gesê nav dood voor die sondeval, maar dit is net so van toepassing op die hele Bybel. Op grond waarvan besluit ons watter Skrifgedeeltes ons sal glo of nie glo nie? Die mode van die dag wat humanisme is?

Verder is dit baie interessant hoe Jesus in die Nuwe Testament na dele in die Ou Testament as letterlike geskiedenis verwys wat vandag deur liberales as mites verklaar word:

  • Markus 12:26 “En wat die dode betref, dat hulle opstaan—het julle nie gelees in die boek van Moses, in die gedeelte oor die doringbos, hoe God vir hom gesê het: Ek is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob nie?” As Theo Geyser en kie nie aan pratende slange en donkies glo nie, sal hulle seer sekerlik ook nie aan ’n brandende bos waaruit ’n stem kom, glo nie, maar tog verwys Jesus na die brandende bos as werklike geskiedenis.
  • Matteus 12:40 “Soos Jona drie dae en drie nagte in die maag van ’n groot vis was, so sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte binne-in die aarde wees.” Hier verwys Jesus self duidelik na ’n letterlike verstaan van Jona in die vis.
  • Markus 10:6 “Maar van die begin af, van die skepping af, ‘het God hulle man en vrou gemaak.’” Hier verwys Jesus na ’n skepping wat nie miljoene jare geneem het nie. Indien God deur evolusie geskep het, sou Hy nie gesê het dat man en vrou van die begin van die skepping daar was nie. Kyk ook But from the beginning of … the institution of marriage?
  • Lukas 11:51 “van die bloed van Abel af tot by die bloed van Sagaria, wat tussen die altaar en die tempel doodgemaak is. Ja, Ek sê vir julle, hulle bloed sal van die huidige geslag geëis word!” Hier praat Jesus van Abel as historiese persoon.
  • Lukas 17:26-27: (26) “Net soos dit in die tyd van Noag gegaan het, so sal dit ook gaan in die tyd van die Seun van die mens: (27) hulle het maar soos gewoonlik geëet en gedrink en getrou tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het. Toe kom die sondvloed, en dit het hulle almal uitgewis.” Jesus verwys hier duidelik na Noag as ’n werklike persoon en na die sondvloed as ’n werklike gebeurtenis.

En ander in die Nuwe Testament:

  • Paulus verwys na Adam in Romeine 5 en 1 Korintiërs 15.
  • Hebreërs 4:3-4 verwys na ’n 6-dagse skepping.
  • 1 Korintiërs 11: 8-9 en 1 Timoteus 2:13-14 verwys na Adam en Eva as werklike mense.
  • 2 Petrus 3:3-9 verwys na ’n letterlike Noag, die ark en ’n globale vloed.
  • 1 Johannes 3:12 verwys na Kain.

Kyk ook:

Ons het nie ’n ander keuse as om die dele in die Bybel wat bedoel is om letterlik gelees te word, letterlik te lees nie. Die alternatief is ’n eie geloof, alhoewel baie sterk gebaseer op die God van die Bybel. Maar dit bly ’n eie geloof. Dit is oortreding van die tweede gebod in Eksodus 20.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui