Boek onthul teologiese stryd by universiteit (Ferdie Mulder)

Kyk ook:

Boek onthul teologiese stryd by universiteit

2011-05-21 23:12

(Rapport)

Marlene Malan

Het Jesus regtig uit die dood opgestaan, of moet dit as metafoor verstaan word?

Wat van die maagdelike geboorte?

En bestaan die duiwel?

Dis nie net die aanvaarding of negering van dié drie kwessies wat die doktorale teologiestudent Ferdie Mulder in sy eerste boek, Opgestaan, bespreek nie, maar hy vertel ook hoe sy oortuiging daaroor ses jaar gelede uitgeloop het op sy skorsing as meestersgraadstudent uit die teologiese fakulteit van die Universiteit van Pretoria (UP).

Opgestaan verskyn aanstaande maand in Suid-Afrika, maar maak reeds opslae.

Die gebeure in 2005, waaroor senior teologielektore van die universiteit voor rings- en interne universitêre ondersoeke gedaag is, vertel volgens Opgestaan se omslag “aangrypende, maar ook skokkende verhale van sommige studente se ontnugterings, dosente se uitsprake, en ook die kontroversie rondom die gewraakte petisie waarin ’n groep studente Jesus se liggaamlike opstanding bely het”.

“Mulder, die inisieerder daarvan, is uiteindelik deur die NG Kerk verbied om predikant te word en lewenslank uit Tukkies se fakulteit teologie geskors nadat hy tydens dissiplinêre verhore skuldig bevind is.”

Die uitgewer bestempel die boek voorts “as ’n uitdaging aan die leser om sy of haar eie posisie aangaande Jesus se opstanding te heroorweeg en is ’n aangrypende getuienis van hoe die krag van God, wat Jesus uit die graf opgewek het, vandag nog met ons is om hoop, vergifnis en versoening te bewerk”.

Opspraakwekkende getuienis wat tydens die onderskeie verhore na vore gekom het, word in die boek bespreek, het Mulder aan Rapport gesê.

“Volgens ooreenkoms met Tukkies se kuratorium word geen van die vertroulike dokumente wat vir die verhoor beskikbaar gestel is, in die boek vervat nie.”

Volgens Mulder “vertel Opgestaan wat met Afrikaanse teologiese opleiding tussen 2000 en 2006 gebeur het wat die verstaan van die opstanding van Jesus betref”.

Ds. Jaco Thom, predikant van die NG Toringkerk in die Paarl en bekende skrywer van teologiese werke, onderskryf die boek so: “… As Luther bykans vyf eeue gelede gesê het: ‘Hier staan ek; ek kan nie anders nie,’ is dit een ding, maar as ’n teologiestudent vandag nog genoop voel om dit te doen, móét die gevaarligte helder brand.”

Mulder sê benewens die vertelling oor sy ervaring by Tukkies en sy innerlike stryd hieroor, “is daar ’n versoeningslyn in die boek”.

“Ek het ook foute gemaak. Ek moes dinge dalk anders gesê het. Ek het al my foute tydens die gebeure raakgesien en bely. Maar ek staan by my oortuigings.

“Oor jare het ek baie versoeke gekry om ’n boek oor die gebeure by Tukkies te skryf. Ek hoop die krag van versoening, vergifnis en hoop word, soos vir my, ook vir die NG Kerk en Tukkies gegee.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui