Kersfees: Van buite-egtelike kind tot liefdeskind

Kyk ook:

Die volgende artikel van Abel Pienaar het op Netwerk24 verskyn en wys duidelik dat hy Jesus se godheid (en natuurlik maagdelike geboorte) bevraagteken.

Daar is egter baie rede om te glo dat die Nuwe Testament ’n baie akkurate weergawe gee van wat werklik gebeur het (kyk na van die artikels in die “Kyk ook”-blokkie hier langsaan).

***********

Kersfees: Van buite-egtelike kind tot liefdeskind (blog)

Maandag, 8 Desember 2014

Op 25 Desember vier miljoene Christene oor die wêreld heen Jesus se geboortedag. Dit ten spyte van die feit dat die meeste van hulle weet dat 25 Desember nie die ware geboortedag van Jesus is nie. Dit is wel so dat die meeste historiese kenners dit eens is dat die beskikbare bewyse daarop dui dat Jesus nie in Desember gebore is nie. Heelwat ander maande is al voorgestel; soos laat Januarie, Maart, April en selfs Mei – almal keuses wat meestal op ingewikkelde berekenings gegrond is.

So, hoe het dit dan gebeur dat 25 Desember die geboortedag geword en gebly het?

Wel, seker die mees voor die hand liggende rede is dat die vroeë Christene wat toe nog ’n ondergrondse beweging was, ’n bestaande Romeinse fees gebruik het as ’n dekmantel om hul eie fees te vier. En hierdie bestaande fees was die Romeinse feestyd van die Saturnalia, ’n fees wat jaarliks op 17 Desember begin en op 25 Desember geëindig het.

Saturnalia was die tyd wanneer die Romeine hul god van gesaaides, Saturnus, vereer het. Op die laaste dag van hierdie fees, die 25ste Desember, het mense dan vir mekaar geskenke gegee.

25 Desember is ook beskou as die geboortedag van Mithras, die songod. In die Romeinse kalender (noordelike halfrond) is dit die dag van die winter-sonstilstand, dit wil sê die dag waarop die dae begin langer word. Op die daaropvolgende kalenderdae, die begin van Januarie, is die Dies Natalis Solis Invicti, die “verjaardag van die onoorwonne son” met sy terugkerende gloed en lig herdenk.

Eers in 336 n.C. het keiser Konstantyn die fees amptelik en openlik verklaar as die feesviering van Jesus se geboortedag. Dit was deel van die organisering en strukturering van die Christen-geloof as ’n amptelike godsdiens. Ongeveer 14 jaar later het pous Julius I (337-352) besluit die geboorte van Christus sou voortaan op 25 Desember herdenk word. Só het die pous gehoop om die Romeine makliker te bekeer, want hulle sou immers ook hul eie fees behou.

Daar is egter nog vele ander tradisies wat help vorm het aan die viering wat ons vandag ken as Kersfees. Maar meer as net die verkeerde geboortedatum van Jesus, bewys Kersfees ook hoe die proses van mitologisering werk.

Want wie presies was hierdie Jesus wie se geboorte miljoene mense nog jaarliks vier? Wel, die enigste manier om by die kern uit te kom, is om soos met die lae en lae verf en vernis op ’n antieke tafel te begin om dit af te skuur. In die proses kan jy selfs vind dat daar strukturele veranderings aan die tafel aangebring is.

Net so is Jesus ook onder lae van mitologisering toegeverf. Lae van bonatuurlike engele, ’n maagdelike geboorte, wonderwerke, ’n hellevaart, ’n opstanding en ’n hemelvaart.

Maar wie was die historiese Jesus? Wie was die Jesus onder die lae mitologie-verf?

’n Mens, soos ek en jy.

Maar om by hierdie Jesus uit te kom is nie baie maklik of ’n gewilde opsie nie. Dit ontstel en ontwortel mense in hul geloof. Hulle wil “soos kinders” bly glo aan die gemitologiseerde kinderbybel-Jesus. En sodra daar dieper gekrap word beleef baie mense dit as vyandig en selfs godslasterlik.

Daarom wil die meeste Christene nie verder dink oor die saak nie. Hulle wil eenvoudig Kersfees op die 25ste Desember vier, met skaapwagters, wyse manne, ’n stal en maagdelike Maria, geskenke en familie-ete, presies soos hulle van kleins af geleer en gedoen het.

Daar is egter wel mense wat agter die skyn van dinge na die waarheid soek. Vir hulle maak die soektog na die oorspronklike Jesus tog wel sin. Soos om die antieke tafel te restoureer deur lae en lae verf en vernis af te stroop.

En een van die eerste lae verf wat weggestroop moet word is natuurlik die geboorteverhaal.

Die tradisionele Kersverhaal

Mites het ongelukkig die historiese Jesus se menslike spore weggevee, in so ’n mate dat daar baie min herkenbare spore van hom as mens oor is – net soos nou met Mandela gebeur. En al wat uiteindelik oorbly is dan ’n super-mens, ’n bonatuurlike mitologiese wese wie se menslike boodskap saam met sy menslikheid verdwyn.

Kom ek illustreer wat ek bedoel uit die teks in Matteus 1:18-25 wat oor Jesus se geboorte praat (’n los vertaling):

“Die geboorte van Jesus Christus was só. Nadat sy ma, Maria, aan Josef as vrou beloof is, voordat hulle begin saambly het, het dit duidelik geword dat sy swanger was van die Heilige Gees. Haar voormalige man, Josef, het volgens Moses se wet geleef. Hy wou nie skande oor haar bring nie, en het toe besluit om in die geheim van haar afstand te doen. Terwyl hy daaroor dink, het ’n engel van die Here in ’n droom aan hom verskyn en vir hom gesê: ‘Josef, jy het koning Dawid as ’n voorouer. Moenie huiwer om Maria as jou vrou te neem nie, omdat dít wat met haar gebeur het deur die Heilige Gees veroorsaak is. Sy gaan geboorte gee aan ’n seuntjie en jy moet hom Jesus noem, want hy sal sy volk van hul sondes verlos.’ Dit het alles gebeur sodat dit wat die Here deur die profeet Jesaja voorspel het, waar sou word: ‘Kyk, die maagd sal swanger word en aan ’n seuntjie geboorte gee. En hulle sal hom Immanuel noem, dit beteken, God is nou by ons.’ Toe Josef wakker word uit sy droom, het hy gemaak soos die engel van die Here hom aangeraai het. Hy het Maria as sy vrou aanvaar, maar het nie seks met haar gehad nie totdat sy geboorte gegee het aan haar seuntjie. Josef het hom die naam Jesus gegee.”

Die teks bevat al die elemente van ’n mite. Dit bevat bonatuurlike karakters (’n engel, Heilige Gees en droomvisioene); hiermee saam reflekteer dit ’n kosmos wat uit drie verdiepings bestaan: ’n hemel bo die wolke, die aarde en die onderwêreld. Tyd word in twee gedeel: ’n tyd van beloftes of voorspellings en ’n tyd van vervulling (die einde van die tyd).

Hierdie tyd word so deur God bepaal om daardeur ’n vasgestelde struktuur aan die geskiedenis te gee. Só is die geboorte van ’n kind uit ’n maagd reeds in die Ou Testament (Jesaja 7:14) voorspel, en is daar ’n Messias uit Dawid se nageslag soos lank reeds verwag.

Kyk ook hoe kommunikasie tussen hemel en aarde by wyse van bonatuurlike wesens met vlerke (engele) gebeur. Ons lees ook van ’n tipiese mitologiese gebeurtenis, van ’n goddelike wese wat ’n kind verwek by ’n aardse maagd (soos ook in die mite van die god Zeus en sy aardse vroue).

Maar hier eindig dit nie, die evangelieskrywers verf nog lae op Jesus. Lukas voeg die storie van die skaapwagters en die engele by.

As jy die mitologiese aard van hierdie en ander Kersverhale verstaan, kan jy baie duidelik die aangeverfde lae begin onderskei.

Die maagdelike geboorte

Die mite van die maagdelike geboorte berus natuurlik op ’n primitiewe verstaan van die geboorteproses. In die antieke wêreld is mense wat groot hoogtes bereik het altyd vergoddelik. En hul sukses is verklaar as dat hul pa’s gode was. Voorbeelde hiervan is daar baie, Griekse heldefigure of gode (soos Herakles en Dionysos) is met maagdelike geboortes vereer, so ook Alexander die Grote, keiser Nero, Konstantyn, Sokrates, Plato, Aristoteles en Pythagoras.

En die hoofrede hiervoor was antieke mense se gebrekkige kennis van die geboorteproses. Hulle het regtig gedink ’n vrou se bydrae is slegs soos dié van ’n blompot, waarin die manlike saad geplant word. Daarom was dit in daardie tye nooit ’n man wat onvrugbaar was nie, dit was altyd die vrou se skuld.

Die lewe van ’n baba was dus alles gesetel in die saad van die man. Dit is onder meer die rede waarom geslagsregisters altyd volgens die stamboom van die man gedoen is.

Om dus ’n goddelike oorsprong vir Jesus en ander belangrike persone of figure aan te dui, moes die man daarom uit die vergelyking weggelaat word, nie die vrou nie. Presies soos in die Jesusverhaal, waarin die Heilige Gees die rol van die man vervul.

In die 18e eeu is daar uiteindelik bewys dat die vrou die eiersel verskaf, asook 50% van die genetiese materiaal. En net op hierdie punt het die wetenskaplike onderbou vir ’n teologie van Jesus se goddelikheid eintlik geen gronde meer nie.

In elk geval, wanneer ons die mitologiese lae van die geboorteverhaal in Matteus konsekwent bly afskil, is al wat oorbly dat Jesus eintlik ’n buite-egtelike kind was.

Dink so daaraan: Op ’n jong ouderdom, waarskynlik kort nadat sy begin menstrueer het, het Maria se ouers (soos die gebruik was) haar as vrou beloof aan die veel ouer Josef, ’n skrynwerker. Maar nog voordat Maria en Josef begin saamwoon het, wat die amptelike begin van hul huwelik sou aandui, het Maria reeds swanger geword.

Wie die pa van die kind was, is onduidelik. Dit was egter duidelik dat dit nie Josef was nie, want hy het dit ernstig oorweeg om nie met die reëling voort te gaan nie. Die Bybel self sê dit in soveel woorde; Matteus 1 vers 18: “Toe Maria nog aan Josef verloof was, het dit geblyk dat sy swanger is sonder dat hulle gemeenskap gehad het…”

Daar bestaan wel baie teorieë, waarvan een is dat Maria swanger geword het weens ’n verkragting. Ek noem dit, omdat daar uit ’n buite-Bybelse geskrif hieroor melding gemaak word.

In ongeveer 178 n.C. skryf Celsus (sy geskrifte is verbrand, ons ken hom net uit Contra Celsum, Origenes se verweer), dat Jesus se pa moontlik ’n Romeinse soldaat, Panthera, kon gewees het.

Ook in ’n ander geskrif, die Joodse Talmud, word só daarna verwys: “Jesus, die seun van Panthera.”

Nou, hoe die storie verloop, is dat om en by die Christelike jaartelling is Palestina deur Romeinse soldate beset. En Panthera was deel van dié soldate wat so met Maria in kontak gekom het. In die Rynland, Duitsland, is juis ’n grafskrif gevind waar ’n Romeinse soldaat en boogskutter, Panthera, begrawe is nadat hy in Palestina diens gedoen het en toe in 9 n.C. oorgeplaas is.

Dit is dus heel moontlik dat hy die biologiese pa was van Jesus wat gebore is kort nadat Maria begin menstrueer het, waarskynlik op 12- of 13-jarige ouderdom.

Oor die aard van die verhouding tussen Panthera en Maria sou ’n mens net kon spekuleer. As ’n mens haar jong ouderdom in ag neem, sou ons in elk geval vandag haar swangerskap beskou het as die gevolg van statutêre verkragting.

Die tradisie dat Jesus dus ’n buite-egtelike kind was, is baie oud. Om die waarheid te sê, dit kom in die Bybel self ook voor. Die oudste Evangelie, Markus, wat so ongeveer 65-75 n.C. geskryf is, het byvoorbeeld glad nie die verhaal van die maagdelike geboorte in nie. Daarin word byvoorbeeld (Markus 6) vertel dat Jesus eenkeer na sy geboortedorp teruggekeer het. En op die sabbat het hy in die sinagoge gepreek. Toe het die mense daar gesê (6:3): “Is hy dan nie die timmerman, ’n seun van Maria en die broer van Jakobus, Joses, Judas en Simon nie? En is dit dan nie sy susters wat hier by ons woon nie?”

Nou hierdie vraag spreek boekdele. Want daar is altyd van vaderskant af na ’n kind se afkoms aangedui, behalwe waar die kind buite-egtelik was; dan is dit van moederskant af gedoen.

Paulus beweer ook slegs dat Jesus “uit ’n vrou gebore is” (Gal. 4:4) met geen aanduiding dat die vrou ’n maagd was nie.

’n Ander verhaal

As die Jesus-geboorte dus sonder die mitologiese lae gesien word, is daar ’n wonderlike ander verhaal besig om vorm aan te neem.

’n Buite-egtelike kind wat teen alle verwagtinge in een van die grootste leermeesters van sy tyd geword het. Dit op sigself is ’n inspirerende verhaal. So inspirerend dat ek heeltemal kan verstaan dat die mense van sy tyd (en daarna) hom wou vergoddelik. En só het die mites rondom hom vinnig begin groei.

En onthou, mites is nie noodwendig vals nie. Per definisie is ’n mite ’n storie wat vertel is om te probeer verduidelik hoe die wêreld werk en hoe mense, binne ’n sekere tyd, probeer verstaan hoe dinge werk. Mites is dus wonderlike rigtingwysers op die pad van selfontdekking en die spirituele reis waarop ons almal is. Dit is simboliese en metaforiese vertellings.

So, wat was hierdie verhaal se eintlike betekenis dan?

Dat net soos die kindjie wat buite-egtelik gebore is, grootgeword en iemand geword het wat nie net homself getransformeer het nie, maar ook so geleef het (en gesterf het) dat hy sy wêreld ’n beter plek gemaak het, net so lê daardie selfde potensiaal binne elkeen van ons. Sy lig het kom skyn in die donker sodat mense kon sien. Nou elke keer as ons hom herdenk moet ons onthou om self ook te skyn.

En wat laat ’n mens skyn?

Wel, soos Jesus as mens ons kom wys het – net liefde. Liefde wat praktiese gestalte kry, deur omgee, vergifnis, nederigheid, deernis en opoffering.

Is dit nie iets om te herdenk nie? Iets om jaarliks te vier nie?

Dit is presies wat ons wêreld nodig het: meer liefde, minder vrees, haat, woede en ego. Presies wat hierdie onwaarskynlike verhaal van Jesus vir ons so kragtig illustreer. Dat ons wêreld net ’n beter plek kan wees, as mense vanuit liefde leef eerder as ego. Dit is die betekenis van Kersfees sonder die mites. Vir my is die boodskap van Kersfees dus dat Jesus my voorbeeld is van hoe om in liefde te leef. Hoe om te skyn in ’n liefdelose wêreld.

En daarom is Kersfees vir my ’n verligting-fees, ’n vryword-fees, ’n eenword-fees, ’n liefdesfees.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui