Kyk ook:
Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.
*******
Onderhoud: Anton van Niekerk gesels oor sy geloofsoortuigings | LitNet
Jean Oosthuizen
03 Desember 2014
Geloof sonder sekerhede: Hoe kan ek nog glo?
Anton van Niekerk
ISSN: 9780796318992
Koop Geloof sonder sekerhede by Kalahari.com
Die Stellenbosse godsdiensfilosoof Anton van Niekerk se boek Geloof sonder sekerhede het pas in ’n nuwe gedaante verskyn. Dié is die tweede ingrypend hersiene en veranderde uitgawe van ’n boek wat in 2005 verskyn het. In hierdie uitgawe probeer die skrywer dit duideliker maak in watter opsigte sy geloofsbeskouing op gespanne voet staan met ’n sekere konvensionele soort teologie. Die maagdelike geboorte is een van die doktrines wat volgens hom nouliks deur moderne mense ernstig opgeneem kan word. Jean Oosthuizen het met die skrywer gesels oor sy geloofsoortuigings.
Jy tipeer jouself as ’n “onseker gelowige” wat selde raad weet met van die tergende vrae waarmee moderne gelowiges moet huishou. Wat bedoel jy daarmee?
Oor die geloof het ek veel meer vrae as antwoorde. Daar is ’n ou grappie oor die twee teoloë wat, toe Karl Barth nog geleef het, met mekaar gesels en gespekuleer het oor waarom Barth – moontlik die bekendste teoloog van die 20ste eeu – so oud word (hy is op ouderdom 82 oorlede). “Ek reken,” antwoord die een toe heel lakonies, “ons liewe Here is baie nuuskierig om te hoor wat Barth nog alles oor Hom wil kwytraak.”
By al my bewondering vir Barth (en vele ander) behoort ek tot ’n geslag teoloë wat veel minder iets met enige sekerheid oor God kan of wil sê as Barth en die leërskare “godgeleerdes” wat hom voorafgegaan het.
Nie alleen weet ek nie meer so seker nie, maar raak ek al hoe banger vir die sekerhede waarop ortodoksieë (konsensusse oor wat ons moet glo) gebou is, want daardie ortodoksieë skeur die kerk voortdurend sedert die Reformasie.
As daar net een sekerheid oor Jesus in die vooruitsigstelling van die kerk was, dan was dit die versugting dat die kerk één sou wees (Johannes 17). Die geloofwaardigheid van die belydenis van die eenheid tussen Jesus en Sy Vader hang inderwaarheid volgens Johannes 17 af van die eenheid van die kerk!
Daarom, as ek oor geloof praat, praat ek veel eerder van ’n lewenswyse – op die voetspoor van die Man van Nasaret – as oor ’n stel leerstellinge wat onomwonde vas staan. Wanneer Jesus mense roep, vra Hy, as ek die Nuwe Testament reg lees, nie vir mense om ’n aantal leerstellinge te glo nie, maar vra Hy bloot: “Volg my”! Die lewenswyse op Sy voetspore is die volle som van die lewe in die geloof .
Ek neem die ou (ook Barthiaanse) oortuiging dat ons niks méér oor God kan sê as wat aan ons geopenbaar is in Jesus nie, voluit en konsekwent ernstig op. Van God weet ons omdat ons van Jesus weet. Dis die sentrale idee van my boek.
Is een van die kenmerke wat ’n gelowige moet hê, dan nie juis ’n vaste vertroue en ’n sekerheid oor die dinge wat ons nie kan sien nie?
Ek sou, om mee te begin, die idee van ’n “vaste vertroue” nie sonder meer gelyk stel aan die idee van “sekerheid” nie. ’n Vrou kan byvoorbeeld, op grond van die huweliksbeloftes, ’n “vaste vertroue” hê dat haar man altyd aan haar getrou sal bly, maar dit beteken nie dat sy met enige “sekerheid” kan weet dat hy daardie vertroue altyd waardig sal wees nie.
Dat ek iets/iemand vertrou, beteken nie noodwendig dat ek iets met sekerheid weet nie. Onsekerheid is net so deel van die geloof soos sekerheid. Dis nie slegs ek wat dit beweer nie, maar dit is ’n idee wat meermale in die Bybel self voorkom.
Vergelyk gerus Job se ontnugtering oor wat met hom gebeur, en sy weiering om die netjies uitgewerkte intellektuele teologie van sy vriende te aanvaar – die teologie wat met stelligheid aanvoer dat ons God kan verstaan.
Daar is ook Habakuk wat, in die eerste twee hoofstukke van sy profesie, God glad nie kan kleinkry nie.
Die skrywer van Psalm 88 beleef slegs ontnugtering, eensaamheid en doodsvrees; selfs God, beweer hy, het hom verlaat. Nêrens in hierdie onthutsende teks is daar vir hom enige uitkoms nie.
Die treffendste voorbeeld is egter Jesus self, wat sterf met ’n vraag op Sy lippe (“Waarom het U my verlaat?”).
Ek is versigtig vir ’n soort geloof wat geen ruimte laat vir die fundamentele onsekerheid (die Duitsers noem dit mooi die “Fraglichkeit”) waarmee die lewe in die wêreld ons konfronteer nie – of ons nou glo of nie glo nie.
Jy raak dikwels die spanning aan wat daar tussen geloof en wetenskap bestaan. Hierdie spanning is besig om toe te neem namate wetenskaplike kennis uitbrei. Tot watter mate is geloof en wetenskap versoenbaar, indien enigsins?
Daar bestaan “spanning … tussen geloof en wetenskap” slegs indien ’n mens albei hierdie begrippe verkeerd verstaan. Diegene wat sodanige spanning aanvoel (in die boek bespreek ek veral denkers soos Richard Dawkins en Daniel Dennett) meen – verkeerdelik – dat byvoorbeeld die Bybel, waaruit die Christelike geloof soveel put, handel oor dieselfde onderwerpe as die moderne wetenskap.
Genesis 1–3 of Psalm 8 of Psalm 139 is egter geen wetenskaplike verhandelinge nie, maar tekste wat (onder meer) skeppingsverhale vertel wat geen aanspraak maak op historiese waarheid nie, maar bloot bely dat God geskep het en hoe ons sin kan maak van daardie skepping (deur byvoorbeeld die aarde te bewaak en te bewerk).
Hoe sake in die biologiese wêreld ontwikkel het sedert die eerste lewensvorme tot vandag toe, is hoegenaamd nie iets waaroor die geloof sigself kan uitlaat nie. Dit leer ons alleen by die wetenskap.
Die geloof vra ander vrae – nie oor hierdie of daardie aspek van die empiriese wêreld nie, maar oor die sin van die geheel van die empiriese wêreld. Wetenskap en geloof verteenwoordig daarom twee gans verskillende maniere waarop mense hulself in die wêreld oriënteer en sin van die wêreld maak. Die twee oriëntasies mag nie na mekaar herlei of met mekaar verwar word nie.
Geloof wat wetenskap probeer wees, word bygeloof (soos toe die kerk ’n geloofsbelydenis – dat die son rondom ons beweeg – verhef het tot ’n wetenskaplike teorie); en wetenskap wat geloof probeer wees, word ideologie (soos wanneer Dawkins ons probeer wysmaak dat die oorsprong van lewe te danke is aan blote toevalligheid).
Jy sê jy probeer nie om geloof en wetenskap te versoen nie – dit is twee verskillende velde en maniere waarop ons kennis bekom. Van jou kritici sê egter jy probeer juis om die twee te versoen en dat geloof nie regtig antwoorde bied op eksistensiële of bestaansvrae nie. Wat is jou reaksie op die kritiek?
Ek het simpatie met mense wat aanvoer dat talle “geloofsinhoude”, soos vervat in sommige van die leerstellings van die geïnstitueerde kerke, nie vir hulle “antwoorde bied op eksistensiële of bestaansvrae” nie.
Leerstellings soos die maagdelike geboorte of die erfsonde of die kompleksiteite van die twee-nature-leer oor Christus bied kwalik ook sodanige antwoorde vir my; dis een van die redes waarom ek die boek geskryf het – om by ’n interpretasie van ons geloof uit te kom wat beter resoneer met die ervaringswêreld en behoeftes van moderne mense.
Maar wat van daardie mense wat buite die geloof antwoorde op eksistensiële en bestaansvrae vind?
Ek respekteer dit volledig. Wat ek betwis, is dat die kennis wat die wetenskap bied, die enigste legitieme kennis van die werklikheid is en as sodanig die enigste relevante of tersaaklike antwoorde bied op watter vrae mense ook al mag hê. Wie dit aanvoer, maak hulle skuldig aan ’n strakke positivisme wat in die loop van die 20ste eeu filosofies deeglik gediskrediteer is.
Is dit nie dalk die wetenskap – en nie geloof nie – wat mens verlos van die skeefgetrekte selfbeeld waarmee geloof mens opsaal nie?
Ek ontken nie dat talle geloofsinterpretasies in die verlede al aanleiding gegee het tot “skeefgetrekte selfbeelde” nie. Dit hoef egter nie te gebeur nie. Ek werk met ’n geloofsinterpretasie wat vir my heelwat sin maak; dis wat ek in die boek probeer uitwerk. Ek het ’n ontsaglike bewondering vir die moderne wetenskap. Dis ’n lewensoriëntasie wat op ’n onvergelyklike wyse vir ons wys hoe om die wetmatighede van ons sintuiglike ervaringswêreld op te spoor, te voorspel, en aan te wend in tegnologiese projekte waarmee ons as spesie ons biologiese voortbestaan in die wêreld moontlik maak en bestendig.
Maar dis nie al wat ons as ’n spesie doen nie! Kort gestel: van brood alleen kan ons nie lewe nie! Ons vra ook, saam met ander mense, na watter soort lewe die moeite werd is om te lewe . En in ons soeke na die antwoord op laasgenoemde vraag formuleer ons idees, erken ons waardes en norme, ontwikkel/ontwerp ons simbole, skep ons sosiale en politieke strukture, skryf ons tekste, bou ons geboue, en – ja, uiteindelik ook – ontwikkel ons religieuse belydenisse wat ons help om daardie vraag te beantwoord.
Ons bedryf daarom nie slegs wat Habermas noem die “empiries-analitiese” wetenskappe nie, maar ook die “histories-hermeneutiese” wetenskappe. Vir sommige mense mag die “antwoorde” wat hulle in die empiriese wetenskappe vind, genoeg wees vir dié doel, maar sekerlik nie vir ons almal nie. Dis waarom ek hartlik oortuig is daarvan dat die empiriese wetenskappe geen monopolie op kennis het nie.
Jy fokus sterk op die sin van die lewe hier en nou en glad nie op ’n lewe na die dood nie. Beteken dit jy glo nie aan ’n hiernamaals nie, en indien wel, hoe rym dit met die hoofstroomkerke se denke oor goed soos die hemel en die hel?
Hier moet ek jou en die lesers eintlik weer verwys na my antwoord op die eerste vraag! Hoe minder ek hieroor sê, hoe beter, want, weer eens, hier het ek weinig sekerhede.
Ek glo wel, soos ek in die laaste hoofstuk uitvoerig aangetoon het, dat die dood een van die verskynsels is wat ons noop om sin te probeer maak van ons lewens. Die dood herinner ons daaraan dat die lewe nie altyd aanhou nie. Dit gee daarom erns en dringendheid aan die lewe en nooi ons daarom uit om lewens te probeer lei wat sinvolle verhale uitmaak.
Ek sukkel ook om sin te maak van die idee dat die graf of die krematorium die laaste woord oor ons lewe is. In die geloof wil ek die belydenis ernstig opneem dat ons in lewe en in sterwe veilig is in God. Maar of dit vertaal kan word in die tradisionele leer van ’n “lewe na die dood” is ek glad nie so seker van nie. In die boek ontleed ek laasgenoemde begrip uitvoerig en toon aan waarom dit vir my moeilik is om dié begrip te verstaan soos die kerk dit skynbaar in die verlede meestal verstaan het.
’n Deel van die kerklike belydenis wat vir jou onmoontlik geword het om ernstig op te neem, is die sondeleer, en by name die sogenaamde erfsonde, asook die maagdelike geboorte. Is dit nie die dun ent van die wig wat uiteindelik die doodsklok vir georganiseerde godsdiens inlui as daar aan die kerklike belydenisse getorring word nie?
Die items van die Twaalf Artikels, of van enige ander belydenisskrif, kan nie almal op gelyke voet staan nie. Die maagdelike geboorte is ’n doktrine wat nouliks deur moderne mense ernstig opgeneem kan word.
Dit is verder duidelik dat, as “leerstelling”, dit baie sterk beïnvloed is deur Plato se vooroordeel teen liggaamlikheid en seks – ’n doktrine wat, weens Plato se oorweldigende invloed op kerkvaders soos Augustinus en Ambrosius, daadwerklik bygedra het tot die tendens (wat deurloop na vandag toe) om seks as die prototipe van sonde te beskou.
Is Christus dan nie seksloos verwek soos wat baie mense glo nie?
Dit is volledig onduidelik wat afgedoen word aan die kerklike belydenis rondom Christus as omtrent Hom ook nog bely (moet) word dat Hy seksloos verwek is. Die erfsondeleer hang nou hiermee saam, want in die vroeë kerk is dikwels, en soms letterlik (soos by Augustinus), geglo dat die oersonde van Adam (opgevat as ’n historiese figuur, wat feitlik niemand meer aanvaar nie) fisies deur die seksdaad van geslag tot geslag oorgedra word. Dit kan tog werklik nie van hedendaagse mense verwag word om sulke suiwer metafisiese konstruksies te bly glo nie. Daarmee ontken ek allermins die realiteit van die sonde en ons skuld as mense, waarvoor ons vergifnis moet soek en in Christus ontvang nie. Wat ons egter skuldig stel voor God en voor mekaar, is wat elkeen van ons elke dag doen, en nie die feit dat ons die willose erfgename is van een of ander metafisiese smet wat ons aankleef bloot omdat ons almal “kinders van Adam” is nie!
Wat word van die Christelike geloof as ons die drie pilare van die meesternarratief van die Christelike geloof, naamlik sondeval, verlossing en eindoordeel, nie meer ernstig opneem nie?
Ek weet nie wie het op daardie drie elemente as die sogenaamde “meesternarratief” van die Christelike geloof besluit nie – sekerlik nie Jesus van Nasaret nie!
Aansprake dat dié elemente die “meesternarratief” verteenwoordig, is ’n duidelike voorbeeld van ’n soort “sekerheid” waarin ek sekerlik nie deel nie. Ons staan in elke geslag voor die taak om die kern van wat ons glo, opnuut in gesprek met die Bybel te interpreteer – en interpretasie is onmoontlik sonder om rekening te hou met wie ons hier en nou is en wat vir ons sin maak. Dis waaroor hoofstuk 2 van die boek handel.
Tot watter mate is die kerk se belydenisse nog hoegenaamd relevant as daar soveel artikels daarin is wat moderne mense nog kwalik ernstig kan opneem?
Dis nie ’n eenvoudige vraag om te beantwoord nie. Mense verskil toenemend daaroor. Ek behoort tot die groep mense wat die geloof nie wil prysgee nie en wat, ten spyte van skerp verskille, steeds in die basiese paradigma van die Christelike geloof genoeg aanklank vind om die sin van die misterie wat aan die basis van ons lewe staan, in die idioom van die Christelike evangelie tot uitdrukking te probeer bring.
Ek weet, soos ek gesê het, nie wat die onbetwisbare “meesternarratief” van die Christelike geloof is nie, behalwe dat ons die lewenswyse wat ons by Jesus leer, moet probeer navolg. Maar ek weet wel dat die Christelike geloof ’n narratief en ’n stel simbole verwoord waarmee ’n skare mense – ek self ingesluit – sin vind in die lewe.
Daardie sin is nooit gewaarborg nie; ons belewing van daardie sin word elke dag aangevreet deur soveel dinge wat dit skynbaar weerspreek. Sommige van ons verloor die geloof. Ek sal diesulkes nooit oordeel nie. Om sin te bly vind in die narratief van die evangelie is daarom, in die woorde van Paulus, suiwer genade.
Een van die interessante byvoegings tot hierdie uitgawe van jou boek is die hoofstuk oor biotegnologie en die impak daarvan op die toekoms van die mens. Jy stel selfs die moontlikheid van ’n nuwe supermenslike spesie in die vooruitsig. Hoe moet ons dit beskou, ook as ons vanuit die perspektief van die geloof daarna kyk?
Dis moeilik om hier kort saam te vat wat ek aan die einde van hoofstuk 9 van die boek veel meer uitvoerig beredeneer. Eerstens wil ek daarop aandring dat ons nie so dwaas moet wees om te dink dat ons “duidelike riglyne” uit die Bybel kan aflei oor hoe om oor hierdie verstommende nuwe verwikkelinge te dink nie. Die nuwe biomediese (veral genetiese) tegnologieë onthul aan ons ’n werklikheid (selle, gene, DNS, chromosome, ens) waarvan geen sweem van begrip gevorm kan word op basis van die Bybelse wêreldbeeld nie.
Tweedens meen ek dat ons ons kan verlustig in wat Paulus die “vryheid waarmee ons in Christus vrygemaak is” (Gal 5:22) noem wanneer ons oor hierdie dinge, ook in ’n morele sin, probeer nadink. Die herskepping in Christus skenk aan ons die vryheid om ons gesonde verstand te gebruik om te probeer verstaan wat aan die gebeur is.
Derdens kan ons ons verlustig, nie soseer in die hoog-dramatiese verwikkelinge (soos ’n radikaal verlengde lewensduur) wat in die vooruitsig gestel word nie, maar veral in die wyse waarop die verligting van menslike, dierlike en omgewingslyding waarskynlik in die toekoms deur talle van hierdie nuwe tegnologieë moontlik gemaak sal word, asook in die wyse waarop aspekte van ons liggaamlike welstand wat tans tekort skiet (byvoorbeeld ons kwesbare immuniteitsisteme), drasties verbeter sal kan word.
Vierdens noop hierdie ontwikkelinge – soos inderwaarheid alle wetenskaplike ontwikkelinge – ons tot waaksaamheid en verantwoordelikheid. Ek beskou die begrip verantwoordelikheid as die belangrikste kategorie in die etiek, en probeer in hoofstuk 8 die buitelyne van ’n etiek van verantwoordelikheid ontwikkel.
Dit, probeer ek aantoon, is boonop die kern van Jesus se eie etiek – die wyse waarop Jesus in byvoorbeeld die gelykenis van die barmhartige Samaritaan aan ons toon hoe ’n etiek van verantwoordelikheid in die praktyk werk, maak Hom een van die belangrikste vernuwers van die morele denke van alle tye.
Kommentaar
–