Johan Retief: ‘Nou is ek oplaas verlos van God’

*******

Johan Retief: ‘Nou is ek oplaas verlos van God’ | Netwerk24

Johan Retief

Sondag, 12 Junie 2022

Dit het lank geneem om tot by die punt van egte bevryding te kom, te erken dat hy ateïs eerder as teoloog was, skryf Johan Retief.

My religieuse reis het nie gebly by my oortuiging dat ’n mens geen kennis van God kan hê nie. Die volgende vraag was: Sou daar ’n God wees, hoe kon daardie wese met die boosheid en die lyding in die wêreld versoen word? Dit word die “teodiseevraag” genoem – hoe kan God (“theos”) se teenwoordigheid in die wêreld geregverdig (“diké”) word met die bose/boosheid daarin?

Die klassieke teodisee-raaisel lui daarom: As God die kwaad toelaat, kan Hy nie goed wees nie; as God nie die kwaad toelaat nie, kan Hy nie almagtig wees nie – God kan nie tegelykertyd goed én almagtig wees nie.

Anders gestel: As daar ’n hel is, hetsy ’n plek of ’n toestand, impliseer dit slegs een van twee dinge: Óf die duiwel heers daar (as daar so iets as die duiwel is), óf God regeer daar (as God bestaan). Ek sien nie ’n derde moontlikheid nie.

Hier is die probleem:

  • As die duiwel in die hel regeer, beteken dit dat daar êrens ’n plek of ’n toestand is waar God nie teenwoordig is nie – of, as Hy wel teenwoordig is, dat Hy swakker as die duiwel is. Dit bevraagteken, en fundamenteel so, God se almag en/of sy alomteenwoordigheid; en
  • As God in die hel regeer, plaas dit ’n fundamentele vraagteken agter die Opperwese se goedheid.

Charles Darwin is maar een van die talle mense wat met hierdie vraag geworstel het. Hy het goed geweet hoe wreed diere kan wees en van die tragedie van mense wat vroeg sterf.

Hy het dit onmoontlik gevind om te aanvaar dat ’n goddelike wese so ’n wêreld kon skep.

(Darwin se innerlike stryd) herinner ook aan Fjeodor Dostojewski se briljante boek, in Engels vertaal as The Brothers Karamazov, waarin hy worstel met die vraag hoe ’n goeie God die kwaad kan toelaat. Hoe kan ’n liefdevolle God ’n wêreld skep waarin ’n kind gemartel en vermoor word? Is God onverantwoordelik, koelbloedig, harteloos? ’n Wese wat nie verdien om aanbid te word nie?

Die vrae is talryk. Die antwoorde? Geen. Die teodisee-vraag is nooit beantwoord nie. Daarvoor is daar ’n goeie rede – daar is eenvoudig nie ’n antwoord nie. Daar kán nie ’n antwoord wees nie, omdat twee goed wat fundamenteel teenstrydig is, nie met mekaar versoen kan word nie.

Die enigste logiese uitweg is om in te sien dat die teodiseevraag van ’n verkeerde veronderstelling uitgaan – die veronderstelling dat ’n Skepper by die wêreld betrokke is.

Dit is ’n valse veronderstelling. Ek weier om te glo dat God betrokke is by ’n wêreld wat vol is van oorloë, teregstellings, armoede, honger, siekte, peste, lyding, boosheid, marteling, tsoenami’s waarin derduisende mense op een slag sterf, vloede, ensovoorts. Al hierdie dinge is werklikhede, wat God se betrokkenheid by ons onwerklik – nee, vir my onmoontlik – maak.

Ben du Toit skryf aangrypend hieroor ná ’n onlangse besoek aan Zimbabwe waartydens hy die agteruitgang van dié land (waar hy grootgeword het) eerstehands beleef het: “. . . die ongemaklike vraag het meer as ooit akuut en relevant geword: Wat het dan van God geword? Gaan Hy toelaat dat Suid-Afrika ’n soortgelyke pad loop? Hoor Hy dan nie die pleidooie van sy kinders, sy volgelinge oor alle rasse, gelowe en kulture heen nie? Is die lotgevalle van die armes, die magteloses dan nie vir Hom belangrik nie? As die korpus van sy volgelinge dan in getalle groei in afwagting van sy genadige ingryping in hul ellende, roer dit Hom nie in sy Vaderhart nie? Of is God dalk glad nie betrokke by hierdie gebeure nie?”

Ek is bevrees godsdiens is so irrasioneel, dit neem so geheel en al ons verstand oor, dat selfs intelligente mense steeds aan God bly vasklou. Ek kan dit nie meer doen nie!

Daar word bereken dat sowat 9 miljoen kinders jaarliks voor die ouderdom van vyf jaar sterf. Dit beteken gemiddeld sowat 15 000 kinders per dag, of 625 per uur, of 10,41 per minuut – een kind in bykans elke ses sekondes – en God doen niks daaraan nie.

Dink daaraan! Is dit deel van God se plan? Moet ons maar net buig voor die “misterie” van God? Wat van daardie kinders? Wat van hul ouers? Is God dan nie almagtig nie? Of is God bloot boos? Of is die alternatief, dat God nie by die wêreld betrokke is nie, die enigste “uitweg”?

As Jesus God was, het hy inderdaad gekom om mense te verlos – in daardie geval kan ek geen ander doel vir sy koms sien nie.

In die Sinoptiese Evangelies is daar egter geen getuienis dat Jesus homself as God beskou het nie, dat hy aanbid wou word nie, en dat geloof in hom die enigste weg tot verlossing is nie – daardie idees kom van Paulus af. En deur hom, ook van Lukas en van Johannes. Gegee die feit dat Paulus sy teologie op ’n visioen gegrond het, en hom verder op hoorsê verlaat het, het ek op die punt gekom dat ek nie langer my eie oortuigings op sulke onseker grond kon grond nie.

So het Jesus vir my ’n mens geword. ’n Begaafde mens, ’n mens met diep insigte, ’n mens met integriteit, ’n mens op soek na die waarheid – maar net ’n mens.

Natuurlik het hierdie oortuiging aardskuddende gevolge. As mens kon Jesus nie alles geweet het nie en kon hy ook foute begaan het. Daarom, as Jesus in die duiwel geglo het, en geglo het dat duiwels mense en diere kon beset en weer uitgedryf kon word, is dit nie te sê dat ek dit ook moet glo nie. Die wêreld waarin hy geleef het, en die wêreldbeeld van die mense van sy tyd, verskil immers hemelsbreed van myne. As hy ’n beeld van God vir homself geskep het, beteken dit nie dat ek daardie beeld moet kopieer nie.

Dit spreek vanself dat ek onder meer ook nie langer in Jesus se opstanding, hemelvaart en wederkoms kan glo nie. Onder meer.

Ek sê nie hiermee dat Jesus se prediking vals of nikswerd was nie; inteendeel, die wêreld sal ’n beter plek wees as sy Berg­rede toegepas word. Die belangrikste van alles is dat ons nie sy boodskap van selfopofferende liefde verloor nie.

So dan: Die God van die Bybel en van die kerk het nooit bestaan nie. Die Christelike geloof was, en is, ’n lugspieëling.

Dieselfde geld vir alle godsdienste, deur alle tye heen. Alle religie is mensgemaak. Verdigsels. Aanbidding van eie skeppinge. Afgodery. Daarom kan ek nie meer bid, of aanbid nie. Soos my neef, David van Ryswyk, eenkeer gesê het: “Ek bid nie, want ek weet nie met wie ek praat nie.”

My religieuse reis, deur die dekades heen, het my verlos van skuld. Uiteindelik. Ek is verlos van sonde; ek is verlos van die kerk; ek is verlos van georganiseerde godsdiens; ek is verlos van religie; ek is verlos van die duiwel; ek is verlos van al die solas; ek is verlos van afgodery.

En ja, ek is verlos van God; ek is verlos van die religieuse depressie wat my deur die jare heen so gery het; ek is bevry van intellektuele onderdanigheid en gedienstigheid; ek het afgereken met die religieuse indoktrinasie wat my vir só lank getreiter het.

Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het die geloof agter my gelaat. Aanvanklik was dit ’n reuseskok, ja – ’n skok wat ek soms steeds sukkel om te verwerk. Uiteindelik, egter, was dié afskeid terselfdertyd ’n salige verlossing – al het dit met geboortepyne gepaard gegaan.

Dit sal nie help om vir my te bid nie. Gebede is gesprekke met jouself. My wedergeboorte kan nie ongedaan gemaak word nie. Nadat ’n baba gebore is, kan die baba nooit na die baarmoeder toe terugkeer nie.

Intussen probeer ek Jesus se Bergrede in my lewe toepas. Ek dink dit maak van die wêreld ’n beter plek.

Sommige dele van die Bybel is so duidelik onwaar (soos die donkie wat sou praat, die son wat sou stilstaan en Lot se vrou wat in ’n soutpilaar sou verander het), dat jou gesonde verstand vir jou sê om dit nie ernstig op te neem nie. Kudos! Gesonde verstand het geseëvier!

En die dele waaraan jy wel glo? Wel, jy glo daaraan omdat dit jou pas, omdat dit jou behoeftes bevredig. Jy glo dat God in beheer van die wêreld is (ondanks al die lyding daarin) omdat dit jou troos en aanvaarding bied. Jou kind het gesterf – so, as jy glo, help dit jou om deur daardie dal van doodskaduwee te kom. Jy glo aan die hiernamaals, omdat jy graag meer uit die lewe wil kry as wat hierdie ondermaanse bestaan jou kan bied. Jy glo in God, omdat dit vir jou antwoorde bring wat die wetenskap nie kan gee nie. Jy glo, omdat jy ’n behoefte het om te verstaan. Jy glo, omdat jy hunker na vastigheid, sekerheid en veiligheid. Jy glo, omdat jy iemand nodig het wat groter as jy is.

Jou geloof, liewe leser, het sielkundige – en fisiologiese – gronde. Jy glo omdat jy wíl glo. Dit laat jou gemaklik en veilig voel. Dis hoekom jy ’n beeld van God geskep, of by ander mense of instansies oorgeneem het en dan daardie beeld aanbid – om jou behoeftes (selfs dié waarvan jy nie bewus is nie, maar wat in jou onderbewussyn skuil) te bevredig.

Ek hoor al mense vra: “Maar as jy ’n streep trek deur die geloof, en sommer deur alle religieë ook, wat bly oor? Wat is dan die sin van die lewe?” Ek weet nie wat vir iemand anders oorbly nie en hoe ander mense sin in die lewe vind nie – ek kan net vir myself praat. Vir my bly daar vryheid oor. Ruimte om te dink, te voel, te leef. Te sê wat ek dink. Suurstof ná die stikstof van religie. Die verligting dat ek nie ’n ewigheid “lank” gaan leef nie. Vir my is hierdie lewe genoeg. Oorgenoeg. Dit is die sin van alles.

Iemand het gesê sonder godsdiens is ’n mens soos ’n blaar in die wind. Ek voel nie soos ’n blaar in die wind nie.

Onthou: Godloos is nie gelyk aan goddeloos nie.

Ek het niks meer oor om te verloor nie. “Freedom’s just another word for nothing left to lose.” Vir my is dit nie Milan Kundera se Unbearable Lightness of Being nie; vir my is dit eerder ’n geval van “incredible lightness of being”.

Ek sê maar net.

Amen.

  • Johan Retief was vroeër ’n gelegitimeerde predikant van die NG en NG Sendingkerk voordat hy joernalis en later persombudsman geword het.
  • Hierdie is ’n geredigeerde uittreksel uit sy boek Die Slegte nuus van die Evangelie.

5 thoughts on “Johan Retief: ‘Nou is ek oplaas verlos van God’”

  1. Johan, ek het nou al ’n paar artikels gelees oor jou storie hier op “GlodieBybel”. Ek gaan jou nie oordeel nie, jy doen dit sommer self. Daar is wel niks nuuts in jou skrywe en redes nie, so 4 tot 6 ure se “Google” oor ateisme dek dit meerendeels (jou persoonlike stories uitgesluit). Net goeie raad; jy het Christus klaar weer gekruisig, los Hom en Sy Evangelie nou uit jou verdere skrywe, dit behoort jou mos nie meer te pla nie, jy het dan jou besluit geneem… Dan net enkele opmerkings: nie almal wat beweer hulle is “Christene” is dit nie, nie almal wat beweer hulle is gelowiges (i.e. glo in God), glo God nie, nie almal wat beweer hulle is “lief” vir God, vrees Hom nie, nie almal wat beweer Jesus is liefde, verstaan dat Hy ook die Leeu van Juda is nie, nie almal wat beweer hulle “volg” Christus weet dat die pad agter Hom aan is nie ’n beligte “highway” is nie maar ’n voetpad deur klowe, hoogtes en dieptes met baie beproewinge, en nie almal wat bid verstaan die Heiligheid van God nie. Die meerderheid van ons weet in elk geval nie met Wie ons te doen het nie. Ons verstaan eenvoudig nie God se Sowereiniteit nie, ons verstandjies is te klein daarvoor. Geloof is ’n gawe van God, dit is nie te koop of te verdiene nie, so ook die geval met Genade.

    1. Dolf
      Jou opmerkings toon duidelik aan dat jy geen akademiese of rasionele begronding vir enige van jou standpunte het nie. Geloof is geen geskenk nie maar alleen ’n mens se vermoeë om jou eie subjektiewe en naïwe aanvaarding van ’n onverifieerbare idee of konsep as ’n waarheid te kan aanvaar. Bv. As iemand in pienk olifante sou glo, maak dit die bestaan van pienk olifante waar?
      Geloof is maw. daardie ding wat maak dat jy jou eie selfgeskepte onwaarheid as ’n feit aanvaar en as sulks wil aanbied.
      Jou geloof in God, Jesus of die Bybel (watter een van vele ookal) maak hulle daarom nie vanselfsprekend waar nie. (pienk olifante)
      Geloof is geen aanwins of deug vir of van enige iemand nie. Inteendeel dit is die kanker wat voortdurend deur realiteit, rasionaliteit en die bewese wetenskap beveg moet word.

      1. Pete. Jou redenasie is ongelukkig ook niks nuuts nie. Die klassieke “sien is glo” vs “glo is sien” variasie, bietjie gekammofleerd met die selfoortuigings filosofie.. Die “geloof” waarna jy verwys het sy oorsprong uit menslike wysheid (lees dwaasheid) en dan is dit nogals akademies en rasioneel verifieerbaar (blykbaar). Ten minste het dit jou by pienk olifante uitgebring wat darem gehelp het met Godsontkenning en natuurlik terselfdertyd selfregverdiging…. Die ware Geloof waarna ek in my skrywe verwys is ’n Godgegewe gawe bokant menslike wysheid, jy verstaan dit eenvoudig nie, jy kan ook nie.

  2. slim vang sy baas !!!!
    ai kan jy glo dat daar nog sulke humanoids soos Johan Retief … die ateïs … all dressed up and nowhere to go” tipies van die ou garde ( ngk dienaars wat half pateties geraak het . Daar is tussen hulle altyd die vreeslike gespartel om ander mense “”woordeliks in te lig “” oor wat nou eintlik die waardheid is en wat die woord vir jou uitspel ….. ek het daagliks te doen met die tipe mense wat geensins respek en vrees vir God het nie . hulle bly ma hoennners .

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui