Hel los ná NG ds. vir Moslems bid

Kyk ook:

Hel los ná NG ds. vir Moslems bid

Deur Johan Eybers

24 Maart 2019 00:01

’n Nagwaak wat bygewoon is deur lidmate van ’n Kaapse NG gemeente vir die slagoffers van verlede week se moord op 50 biddende Moslems in Nieu-Seeland het ’n twis oor kettery en broederliefde ontketen in die NG Kerk.

Nou is die hel los onder dominees oor of Jesus oor die dood van Moslems sou “huil”.

Ds. Riaan de Villiers, leraar van die NG Groote Kerk-gemeente in Kaapstad, word van dwaalleer beskuldig nadat hy aan Kerkbode, lyfblad van die NG Kerk, gesê het die slagoffers van die Christchurch-aanval was “Moslembroers en -susters” en “kinders van God” wat “met onbeskryflike geweld om die lewe gebring is terwyl hulle besig was om te bid”.

Brenton Tarrant (28), ’n Australiër wat in Dunedin, Nieu-Seeland, bly, het Dinsdag in die hof verskyn in verband met die moorde. Die moordtog is regstreeks op Facebook uitgesaai.

“Jesus treur hieroor en sy kerk behoort hierdie mense te omarm en saam te treur,” het De Villiers aan die Kerkbode gesê.

Ds. Schalk Strauss van die Afrikaanse Protestantse Kerk se Grootfontein-gemeente in Pretoria het op Kerkbode se Facebook-blad te velde getrek oor De Villiers se “verregaande” uitlating.

“Jesus Christus treur eerder oor valse uitsprake soos hierdie!”

Strauss het ’n klag teen De Villiers ingedien by die Groote Kerk se kerkraad.

De Villiers sê Strauss het hom in die klagtebrief ’n “wrede wolf” genoem. Strauss eis dat die NG Kerk se kuratorium die saak ondersoek.

Strauss sê De Villiers verdraai sy woorde as hy sê Strauss dink nie Jesus huil oor vermoorde Moslems nie.

“Wat ek sê, is dat Jesus oor sy uitsprake treur dat jy ’n Moslem kan wees en steeds as ’n gelowige beskou kan word. Dit beteken nie by implikasie dat Jesus nie oor die onreg treur wat met hierdie mense gebeur het nie.

“Dit is wel so dat Jesus nie op dieselfde manier oor ongelowiges treur as wat hy oor gelowiges – sy kinders – treur nie.

“Ek beskou sy stelling as ’n dwaalleer. Die kerk se kernboodskap is tog dat jy net deur Jesus gered kan word.

“Sy verwysing na die slagoffers as broers en susters is ook problematies wanneer dit in ’n Christelike konteks beskou word. Dit is veronderstel om ’n verwysing na geloofsverbintenis te wees omdat ons as Christene dieselfde Vader het deur ons geloof in Jesus,” sê hy.

Ander NG predikante het ook vir De Villiers in die openbaar tereggewys en daarop aangedring dat hy ondersoek word.

Ds. Chris Saayman van die NG Kerk Tafelberg wat binne stapafstand is van De Villiers se gemeente, het gesê sy kollega het “met die hele Skrif afgereken en die waarheid word in sy kern verwerp”.

“Vals leer en kettery word ten volle omhels. Ek het nog altyd gedink dat – nadat die NG Kerk met die Bybelse waarheid oor seksualiteit en huwelik afgereken het en ’n vals leer in die plek daarvan aanvaar het – die volgende op die agenda die eksklusiwiteit van Jesus Christus as enigste waarheid sal wees,” het hy geskryf.

Vrydag het hy aan Rapport gesê: “Ek treur saam met almal oor wat by Christchurch gebeur het. Maar daar is ook baie Christene wat die afgelope weke in Nigerië vermoor is. Daaroor moet dus dieselfde gesê word.”

Saayman het egter gistermiddag in ’n WhatsApp-boodskap laat weet hy gaan eerder van aangesig tot aangesig met De Villiers praat. “Ek het oorhaastig gehandel omdat ek emosioneel was. Ek erken ek het die verkeerde metode gevolg. Ek moes eerder persoonlik met Riaan (de Villiers) hieroor gepraat het.”

Ds. Stefaan de Jager, leraar van die NG gemeente Humansdorp-Oos, het ook op Facebook gesê: “Die Moslems is volgens die Skrif geensins ons broers en susters nie.

“Die ring van Kaapstad behoort ds. De Villiers tot verantwoording te roep en hulle te vergewis of hy regtig glo dat Jesus die enigste Verlosser van die mensdom se sonde is.”

De Villiers het aan Rapport gesê hy is verbysterd deur die reaksie. Dis alles ontketen deur die nagwaak wat sowat 15 van sy lidmate verlede Sondagaand by die St. George-katedraal bygewoon het in plaas daarvan om ’n gewone erediens hou.

“Dit was ’n ongelooflik positiewe ervaring. ’n Heilige oomblik. ’n Oomblik van liefde teenoor haat toe ons saam met Christene van hoofstroomkerke, Moslems en Jode in stilte gebid het vir die slagoffers.”

Dit was nie net sy kollegas wat De Villiers gekritiseer het nie. In van die inskrywings op die Kerkbode se blad word Moslems gekritiseer dat hulle “Christine (sic) haat,” “ ’n afgod aanbid”, “heidene” is, en dat “almal as (die terreurgroep) Isis beskou” moet word.

Ander het gesê die eintlike hartseer is dat daar nie tyd was om die Moslems te bekeer nie.

De Villiers word onder meer op die blad daarvan beskuldig dat hy homself “oopmaak vir die bose magte,” ’n “valse leraar” is,” en een van die “anti-christe” is wat “hulle by die kerk inwurm en eenheid van binne afbreek”.

Van die kommentare was só skokkend dat die Moslem Juridiese Raad (MJR) dit as haatspraak beskryf het.

De Villiers sê hy is geskok oor sy kollegas en ander mense se kommentaar op Kerkbode se Facebook-blad.

“Die kommentaar gee jou meer insig oor die situasie waarin die wêreld homself bevind,” sê hy.

“God is die Skepper van die heelal wat alle mense na sy beeld gevorm het en gelykes voor God is. God het nie net ’n spesifieke groep, oftewel Christene of wit mense of heteroseksuele mense, meer lief as ander nie,” sê De Villiers.

Hy is verder “verstom” oor die kritiek dat hy na Moslems as broers en susters verwys.

“Om te sê broer of suster is om te sê jy is deel van my menslike familie en ek sal jou lief hê en ek sal saam met jou treur en ek sal saam met jou soek vir geregtigheid wanneer jy weens stereotipering en vooroordeel leed aangedoen is, soos nou in Christchurch.

“Die waarheid is dat Jesus saam met hulle (Moslems) sou getreur het.

“Ek veroordeel dié dominees se uitsprake ten sterkste.”

Maulana Abdul Khaliq Ebrahim, adjunkpresident van die MJR, sê die aangeleentheid gaan by hul volgende vergadering bespreek word.

“Ons gaan nie noodwendig ’n groter saak hiervan maak nie. Ons aan­vaar en respekteer mense se verskillende interpretasies oor geloofsaangeleenthede, maar haatspraak is onaanvaarbaar. Dis ook jammer om te sien hoe onsimpatiek en gevoelloos sommige mense is teenoor die slagoffers van die Christchurch-aanval.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui