NG-leiers skuld gays ’n verskoning

Kyk ook:

Die volgende artikel word geplaas bloot vir rekorddoeleindes.

***************

NG-leiers skuld gays ’n verskoning

Chris Jones

2019-03-26

Op 19 Maart verskyn daar op Netwerk24 ʼn berig waarin gesê word dat die NG Kerk nie gaan appelleer teen die onlangse hofbeslissing wat bevind het hy het gefouteer toe daar in 2016 besluit is dat selfdegeslagverhoudings nie in dié kerk voltrek mag word nie.

Van die redes wat deur Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk, aangevoer word, sluit in: die kerk het “van die begin af te kenne gegee dat hy besware op ʼn kerklike wyse wou hanteer en nie die hof as opsie oorweeg nie … Daar is duidelike riglyne in die kerkorde oor remedies wat gebruik kan word om besware op kerklike wyse te hanteer. Die kerkorde is duidelik daaroor dat die kerk uit die hof moet bly.” Volgens dr Claassen sou dit dus in stryd met die kerk se aard wees om homself na die hof te wend en aansoek om appèl te doen.

Nie lank gelede nie sê dr Claassen die volgende: “Die kerk sal uiteraard deur die loop van die komende dae die uitspraak saam met ons regspan bestudeer en dan besluit of daar redes is waarom ons aansoek sal doen om te appelleer.” Hoekom het die leierskap nie dirék na die hofuitspraak gesê dit is in stryd met die kerk se aard om hom tot die hof te wend as dit dan so ʼn belangrike oorweging vir die kerk is nie? Waarom die indruk skep dat opsies en moontlike redes eers oorweeg word? En het die moderator nie heelwat vroeër aangedui dat dit goed sal wees as daar regsekerheid oor hierdie saak kom nie?

Steeds word die vinger maar (al is dit per implikasie) na die 12 lidmate gewys wat die kerk hof toe gevat het. Hierdeur probeer die kerkleierskap die morele hoë grond behou. Die vraag is: Wat kon/moes die 12 lidmate nóg gedoen het om al die kerklike weë uit te put voordat ons hof toe is? Laat ek een voorbeeld noem oor hoe moeilik dit soms is om langs kerklike weë te probeer vorder, alhoewel ons dit enduit volledig probeer doen het. Ek sou al die pogings hier kon aandui – ons het dit alles op rekord – maar laat ek volstaan met die volgende. Op 13 November 2017 skryf ek aan Gustav Claassen ʼn e-pos om ʼn navraag te doen na aanleiding van onderstaande omsendskrywe aan (alle) leraars van die NG Kerk vanuit sy kantoor gedurende Oktober 2017 rakende die vordering rondom die hantering van die hofstukke wat ontvang is: “Soos deur die Kerkorde vereis, het die ATR [Algemene Taakspan Regte] by die ontvangs van die applikante se hofstukke besluit om alles in hulle vermoë te doen om die aansoek buite die hof te skik. Toe dit blyk dat dit nie haalbaar sou wees nie, het die ATR die Algemene Sinode se regsverteenwoordiger, mnr Hans Oosthuizen van die regsfirma Couzyn, Hertzog & Horak Ingelyf, geraadpleeg.”

My navraag het gegaan oor wat presies hulle gedoen het om die saak buite die hof te skik sedert hulle die hofstukke vroeër daardie jaar ontvang het, omdat ons (ook ons regspan) van absoluut niks bewus was nie. Dr Claassen het my na die ATR verwys. Hy het hierdie gedeelte blykbaar net soos hy dit van die ATR ontvang het, in die omsendskrywe geplaas. Onmiddellik hierna het ek dieselfde e-pos aan dr Ungerer (van die ATR) gestuur (November 2017). Ek het tot vandag geen antwoord van hom of die ATR ontvang nie. Is dit maar hoe mens optree as jy skeidsregter én speler is?

Hoe kan jy die kerk vertrou om ʼn belangrike saak soos selfdegeslagverhoudings op ʼn kerklike wyse te hanteer as daar van die begin af geweet is en uitgewys is dat hulle hul eie kerkorde verkeerd verstaan en aangewend het? Dat hulle slordig in hierdie proses te werk gegaan het? En dat hulle jou ignoreer as jy sekere belangrike vrae vra?

Hoeveel het die 2016 buitengewone sinode die kerk gekos? En al die vergaderings wat hierrondom gehou is sedert senior advokate die kerk gewaarsku het dat hulle hul eie kerkorde in hierdie opsig oortree het?

Ons sal mettertyd sien wat die hofsaak die kerk gaan kos. Maar die vraag is wie aanspreeklikheid hiervoor gaan aanvaar. Daar was verkeerde besluite téén senioradvokaat-menings in geneem. Die kerk het ʼn kostebevel teen ons 12 lidmate gevra. Sou die saak teen ons draai en die kostebevel toegestaan word, sou ons moes opdok. En dit om die goeie, inklusiewe 2015-besluit van die algemene sinode te verdedig en geldig verklaar te kry. So hoekom behoort die betrokke leiers/individue wat verantwoordelik is vir hierdie besluite, nie pa te staan vir hierdie koste nie?

En hoekom behoort hierdie betrokke leiers nie uit hul kerkposisies te bedank nie? In ander sfere van die samelewing sou hulle waarskynlik deeglik moes verduidelik het en goeie redes vir die aanbly in hul posisies moes verskaf het.

As die kerkleierskap maar net weet wat die waarde van ʼn verskoning in hierdie opsig sou wees. Die erkenning dat hulle wat die hantering van hierdie spesifieke saak betref, ʼn fout gemaak het en daarom vir kerklidmate en gay persone onvoorwaardelik jammer sê? Is dit nie hoe jy veilige ruimtes skep en jou kwesbaarheid/broosheid, waarna so dikwels verwys word, omarm nie?

Of is dit ʼn kwessie van woordryk, maar belydenisarm, soos by ʼn Petrus van ouds?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui