Dit sal nie help om in die wind na God te soek nie

Kyk ook:

Dit sal nie help om in die wind na God te soek nie | Rapport

2010-08-21 12:52

Adrio König

Izak du Plessis reageer op my artikel oor mense wat na God soek. Dankie! Veral vir sy gesindheid. Maar daar is tog ’n paar opmerkings nodig.

Ek wonder baie oor sy stelling dat ek sou gesê het dat ek nie die maagdelike geboorte aanvaar nie. Ek sê al jare lank ek het nog nooit van die maagdelike geboorte ’n issue gemaak nie omdat dit nie in die Nuwe Testament die teologiese betekenis kry wat die kruisiging, opstanding en wonderwerke van Jesus het nie. Maar ek het my seker verspreek as ek ooit gesê het ek aanvaar dit nie.

Ek het immers nog onlangs in my Groot Geloofswoordeboek twee bladsye daaraan gewy om te toon dat daar twee onafhanklike getuies in die Nuwe Testament is wat dit vertel, maar dat geen skrywer in die Nuwe Testament daar besondere betekenis aan gee nie (bl. 307-308).

Maar my eintlike probleem is dat Izak die onderwerp verander waaroor ek geskryf het en my dan by die afgode probeer aflaai. Ek het geskryf oor mense wat sê hulle soek na God. Maar Izak maak daarvan ’n algemene vraag: Mense wat vrae oor die geloof het soos evolusie, lewenssin en “aangeleenthede wat lidmate op intellektuele vlak kwel”. Maar dis nie waaroor ek geskryf het nie. Ek het kritiese vrae gevra oor die groot soektog na God wat ook onlangs deur Abel Pienaar aangekondig is.

Algemene godsdienstige vrae vra ek my lewe lank en moedig lidmate aan om dit te doen. ’n Goeie vriend het selfs gesê hy dink ek gaan lank lewe, want ek sal baie lastig wees Daar Bo met al my vrae.

Maar dis heeltemal iets anders om te sê ons soek na God. Kom ons kyk wat die implikasies is van so ’n groot soektog.

Mense het ’n groot soektog as iemand/iets weg is; iemand/iets wat baie kosbaar is, maar nie met ’n gewone soektog gekry kan word nie.

Maar waar is God heen? Waarom kruip Hy so weg? En waar sal ’n mens na Hom soek? Sou dit nie eintlik ’n skande vir Hom wees as ons Hom later iewers kry nie? Is Hy so onbeduidend?

Ek sien vanoggend in ’n koerant ’n spotprent van Div wat met ’n landmyn-opspoorder Springbokke soek wat drieë druk. Maar dis mos omdat die Springbokke op die oomblik nie alte goed speel nie.

Ek wonder of die Godsoekers nie eintlik iets anders bedoel nie: Dat hulle nie tevrede is met die prentjie wat “die kerk” oor God aan mense voorhou nie; dat hulle dink God lyk eintlik anders.

Dit lyk my ’n gesonde vraag wat ons almal ernstig moet opneem. Het ons onder die kerkleierskap ’n eensydige en arm voorstelling van God? Dalk te wetties, of te veroordelend?

Dis moontlik. Wat interessant is, is dat ek die laaste tyd juis met die teenoorgestelde vraag besig is: Het ons nie dalk ’n eensydige liefdes- en genade-voorstelling van God nie wat vergeet dat Hy ook mense oordeel en straf? Dat Hy ook ’n verterende vuur is? Dat dit sleg lyk as Hy sonde straf (die kruis)!

Maar waar gaan soek ek? In die Bybel. Op hierdie vlak sal ek graag saam soek. Dit gaan nie help as Div Springbokke wat kan drieë druk onder die grond soek nie. Hy sal na rugbyklubs moet gaan.

Dit sal nie help om in die wind na God te soek nie. Kom ons soek daar waar mense ons van?Hom?vertel.?Mense?wat?nooit na Hom gesoek het nie; mense wat Hy gesoek en gekry het.

Want dis tog merkwaardig dat Israel nooit na Hom gesoek het nie. Hy het hulle nie gesoek nie, maar gemaak. Uit Abraham ’n nuwe volk geskep en toe na hulle gekom en só met hulle gewerk dat hulle Hom as hul God aanvaar het.

As ons God toelaat om met ons te werk, sal ons nie te lank na Hom soek nie. Maar ons sal dalk wel ’n lewe lank in die Bybel lees en in ons eie lewe ervaar wie Hy regtig is in sy merkwaardige veelsydigheid. Ons sal dalk vind dat Hy in verskillende situasies verskillende gesigte aan ons kan wys.

Adrio König is ’n teoloog en skrywer van Die Evangelie is op die spel.

– Rapport

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui