Die Here sal jou beskerm

Kyk ook:

Die volgende nuusbrief is in Mei 2003 deur Jan Louw geskryf en gestuur aan sy wykslidmate.

**************

Ek het lief geword vir Psalm 91. Hierdie Psalm gaan oor die beskerming wat die Here vir sy kinders gee. Dit is iets waarna ons kan uitkyk – die beskerming van die Here.

Die afgelope tyd het ek skielik baie bewus geword van huwelike in ons gemeente wat op die rotse geloop het. Ek het by myself gedink. Wat maak ’n mens as jy tot die ontdekking kom – dit is besig om met my ook te gebeur. My huwelik dreig nou ook om op die rotse te loop. Ek probeer keer, maar dit help nie. Ek probeer red, maar ek kan nie. Daar is ’n mag groter as ek, wat besig is om my te beroof van my grootste aardse besitting. My huwelik is besig om op die rotse te loop. Wat sê ek vir die Here?

Jy kan sê: Neem my in U beskerming Here volgens U belofte. Beskerm my teen die gevare wat my lewe bedreig. Dit is op allerhande maniere van toepassing. Here, neem my kinders in U beskerming. Neem my finansies in U beskeming. Neem my liggaam wat siek is in U beskerming. Here ek kruip by U weg vir die gevare waarteen ek nie opgewasse is nie.

Sal die Here my regtig beskerm? Kyk na Ps 91:14-16: Omdat hy my liefhet …. sal Ek hom beskerm. Die belangrikste wat jy dus vir die Here kan sê is: Here ek het U lief. Dit is wat die Here by ons wil hoor en by ons wil sien. Wys vir die Here dat jy vir Hom lief is deur jou gehoorsaamheid, jou nederigheid, en jou jou diensbaarheid. Ons kan nie die Here se beskerming verdien nie, maar die Here sit sy vlerke van beskerming rondom die wat Hom liefhet.

Bietjie humor

’n Man en sy vrou uit Gauteng besluit om vir ’n langnaweek Durban toe te vlieg om saam vakansie te hou. Weens werksverpligtinge kon die vrou nie saam met haar man reis nie. Die man het die Donderdag vertrek en sy vrou sou die Vrydag by hom aansluit. By sy aankoms in die hotel besluit hy om gou vir sy vrou ’n e-pos te stuur. Ongelukkig het hy ’n fout met die adres gemaak en die brief het by iemand anders uitgekom.

In Bloemfontein het ’n weduwee pas van haar man se begrafnis af terugekom. Sy het die aand na die begrafnis die rekenaar aangesit om te kyk of daar nie vir haar troosboodskappe van familie en vriende gekom het nie. Toe sy die eerste boodskap lees het sy flougeword en by die rekenaar neergeslaan. Haar seun het ingestorm om haar te kom help. Op die rekenaar se skerm was die volgende boodskap: 

To: My liewe vrou
From: Jou verlangende man
Subject: Veilig aangekom!

Ek het sopas aangekom en is ingeboek. Ek sal sorg dat alles gereed is vir jou koms môreoggend. Ek sien daarna uit om jou weer te sien! Hoop jou reis is net so voorspoedig soos myne.

Liefde!

NS: Dis nogal warm hier!

Groete en geniet die koeligheid van die Hoëveld.

Ds Jan Louw

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui