Beloftebos: Die een se reg ‘diskriminasie’ teen ander | Netwerk24
Deur Jana Breytenbach
19 September 2020
Mag ’n mens se grondwetlike reg om die geloof van jou keuse uit te oefen gebruik word om teen iemand anders se grondwetlike reg tot seksuele oriëntasie te diskrimineer?
Dit is die kernpunt van ’n saak wat hom in die gelykheidshof in Kaapstad afspeel.
Die partye is die Menseregtekommissie (MRK), die trou-venue Beloftebos by Stanford en sy eienaars, Andries en Coia de Villiers, en ’n gaypaartjie, Megan Watling en Sasha-Lee Heekes, van Kaapstad.
Agtergrond
Die MRK het in Maart vanjaar die saak teen dié venue in die gelykheidshof ingedien en aangevoer hy oortree art. 6 van die Gelykheidswet waar niemand teen ander mag diskrimineer nie. Die MRK wil keer dat Beloftebos weer onbillik diskrimineer en verder dat hy om verskoning moet vra aan die paartjies.
In die aansoek is Watling en Heekes as partye gelys, asook ’n ander paartjie, Alex Thorne en Alex Lu.
Albei pare is nie toegelaat om by Beloftebos te trou nie weens die eienaars se persoonlike geloofsoortuiging dat hulle nie gasheer vir troues van mense van dieselfde geslag kan wees nie.
Thorne en Lu is in 2017 weggewys en Watling en Heekes in Januarie 2020.
Daarna het adv. André Gaum namens die MRK die klag by die hof ingedien, maar het dit duidelik gestel dat Watling en Heekes van plan is om hul eie saak in te dien.
Watling en Heekes kon weens die pandemie en die hof se riglyne wat gelas het dat nie-dringende sake eers later ingedien kan word, nie hul saak indien nie.
Verwikkelinge in Mei
Nadat die MRK sy klag ingedien het, het Beloftebos en sy eienaars ’n teenaansoek teen die MRK gebring.
Dit is bitter ironies dat die MRK vinnig stappe gedoen het nadat ons gesê het ons is van plan om ’n saak te maak.
Volgens hul hofstukke vra hulle die hof om dele van die Gelykheidswet as ongrondwetlik te verklaar – veral die deel wat handel oor of iets onbillike diskriminasie is of nie. Hulle vra ook dat die saak na die konstitusionele hof verwys word waar finale uitsluitsel oor die kwessie verkry moet word. Beloftebos het ook die minister van justisie en grondwetlike ontwikkeling as partye in die aansoek gelys.
Die MRK staan die aansoek teen.
September
Met die verslapping van die koronavirus-regulasies het Watling en Heekes begin September ’n aansoek ingedien om as tussenpartye toegelaat te word.
In hul hofstukke het hulle aangevoer die MRK het sy aansoek “te haastig” ingedien voordat hulle hul saak kon indien. Hulle sê dit blyk net vir die media-aandag te wees.
Ook wou hulle nie gehad het die MRK moet hulle verteenwoordig nie, omdat hulle uitgevind het die eerste paartjie het in 2017 ’n klag by die MRK teen Beloftebos ingedien, maar dié het in drie jaar niks daaraan gedoen nie.
“Dit is bitter ironies dat die MRK vinnig stappe gedoen het nadat ons gesê het ons is van plan om ’n saak te maak,” lui die hofstukke.
Hul geloofsoortuigings is ’n integrale deel van hul menslike integriteit en daarom ook geregtig op respek en die beskerming van die MRK.
Gaum het egter daarop gereageer deur te sê hy wil nie by “ ’n moddergooiery betrokke raak en die fokus van die eintlike kwessies aflei nie”.
Die paartjie verduidelik deur die aansoek wat te vroeg gebring is, en die daaropvolgende teenaansoek van Beloftebos, is dit van uiterste belang dat hulle as tussenkomende party toegelaat word.
As Beloftebos suksesvol is in sy aansoek, sal hul aansoek geen gronde hê om op te staan nie omdat dele van die Gelykheidswet dan ongrondwetlik sal wees.
Hulle voer aan ’n mens kan nie jou reg tot geloof gebruik om teen mense te diskrimineer nie. Beloftebos se optrede is strydig met art. 9 van die Grondwet en strydig met die Wet op die Bevordering van Gelykheid en die Voorkoming van Onbillike Diskriminasie.
Luidens hul hofstukke vra hulle die hof om te bevind die eienaars het teen hulle gediskrimineer gegrond op hul seksuele oriëntasie deur te weier om hul troue daar te hou. Hulle vra ook ’n onvoorwaardelik apologie waarin die eienaars erken dat dit wat hulle gedoen het, ongrondwetlik is en skade veroorsaak het.
Hulle eis skadevergoeding van R2 miljoen. As hulle suksesvol is, sal dié geld aan liefdadigheid geskenk word.
Reaksie:
Beloftebos se regspan het intussen bevestig hulle sal dié aansoek teenstaan.
Michael Swain, hoof van Freedom of Religion SA, wat die eienaars van Beloftebos bystaan, sê die “dreigement van R2 miljoen sal nie die eienaars afskrik van hul geloofsoortuigings nie”.
“Hul geloofsoortuigings is ’n integrale deel van hul menslike integriteit en daarom ook geregtig op respek en die beskerming van die MRK,” het hy gesê.
Gaum het egter die paartjie se aansoek verwelkom en voer aan dit sal die saak net soveel sterker maak.