Kom ons mors nie mekaar se tyd nie

Hieronder volg ’n advertensie vir ’n leraarspos by die NG gemeente Petrus Steyn.

Dit word geplaas om aan te toon wat deesdae gespesifiseer moet word indien jy ’n behoudende gemeente is. In effek word bloot vereis dat die aansoeker steeds by sy legitimasie-eed staan, want dit kan vandag nie meer as vanselfsprekend aanvaar word nie. Indien jy dit nie so doen nie, is die gevaar dat mense net mekaar se tyd gaan mors.

************

VAKATURE: VOLTYDSE LERAAR VIR DIE NG GEMEENTE PETRUS STEYN

Die kerkraad wag in biddende afhanklikheid van die Here, aansoeke in vir die pos van leraar.

GEMEENTEPROFIEL: Die NG Gemeente Petrus Steyn is ’n plattelandse gemeente, geleë in die Noord-Oos Vrystaat, ongeveer 200 km vanaf Johannesburg via die R59 en 280 km vanaf Bloemfontein. Die gemeente is in 1914 gestig en bestaan reeds deur die genade van die Here, vir die afgelope 106 jaar. Die gemeente bestaan uit ongeveer 220 belydende- en 40 dooplidmate, wat verdeel is in 5 plaaswyke en 8 dorpswyke. Daar is ’n aftree-oord in die gemeente asook ’n goeie laerskool en uitstekende hoërskole met koshuise in Heilbron (44 km), Reitz (35 km) en Bethlehem (90 km).

LERAARSPROFIEL EN AMPSPLIGTE: Die volgende is vir die kerkraad baie belangrik:

  • Die aansoeker moet in ’n innige verhouding met die Here leef en oortuig wees van die roeping van die Here om as leraar diensbaar te wees in die gemeente.
  • Van die aansoeker word Skrifgetroue Woordverkondiging en -standpunte verwag, veral tov die maagdelike geboorte, opstanding, hemelvaart en weerkoms van Jesus Christus en dat Hy die enigste Verlosser van die wêreld is, wat entoesiasties aangebied word en geestelike groei bevorder. Ook dat Hy wonderwerke gedoen het en dat die duiwel bestaan. Hy/sy moet ook al die dwaalleringe van die Algemene Sinode ten opsigte van bogenoemde verwerp, asook die standpunte van 2019 tov selfdegeslagverhoudinge.
  • Iemand wat geheg is aan die gereformeerde leer en die belydenisskrifte van die kerk.
  • Iemand vir wie veral huisbesoek en ander pastorale besoeke belangrik is.
  • Die aansoeker moet ’n aanvoeling hê vir die plattelandse bediening in die Vrystaat en meelewend wees in die wyer gemeenskap.
  • Iemand wat begrip het vir die uitdagings wat die landbou hedendaags beleef en die invloed daarvan op lidmate en die totale gemeenskap.
  • Moet ook kennis neem dat Petrus Steyngemeente ’n dolerende gemeente is met al die implikasies daarvan.

VERGOEDING: Pakket onderhandelbaar, wat ’n ruim pastorie wat beskikbaar is vir inwoning.

AANSOEKE: Aansoeke moet vergesel word van ’n CV wat nie langer as drie bladsye is nie, met kontakbesonderhede van ten minste twee verwysings. Rig aansoeke aan:

Posadres: Die Pre-Advies Kommissie, Posbus 117, Petrus Steyn 9640

E-pos: ngpetrussteyn@gmail.com

Tel/Faks: 058 8713260

Kandidate moet beskikbaar wees vir ’n moontlike onderhoud en preekbeurt.

SLUITINGSDATUM: 15 Oktober 2020

NAVRAE:

Kontrakleraar – Stephen Heyns, 083 231 7556
Leierouderling – Mike Botha, 072 427 7364
Skriba – Danette van der Westhuizen – 079 894 5072

Die Kerkraad behou die reg voor om nie ’n aanstelling te maak nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui