As ons Hom wil volg, moet ons na gays luister

Kyk ook Luister na gay mense se verhale voordat jy die eerste klip gooi (Neels Jackson, 3 Sep 2022.)

*******

As ons Hom wil volg, moet ons na gays luister | Netwerk24

Neels Jackson, Pierre Van Ryneveld

04 November 2021

Smuts Janse van Rensburg se brief “Wanklank as NGK uit twee liedboeke bly sing” (28.10) het betrekking.

Hy reageer onder meer op die beroep in my brief dat dolerendes na die verhale van gay mense moet luister (25.10).

Janse van Rensburg onderskei twee strome in die NG Kerk, dié wat “luister na God” en “dié wat luister na ’n mens”. Dit is ’n vals teenstelling. Dis nie ’n keuse van óf na God óf na mense luister nie. Ons moet na mense se nood luister ómdat ons na God luister. Ons moet mense se nood hoor omdat Jesus die voorbeeld gestel het.

Die man by die bad van Betesda was 38 jaar lank siek. Niemand het sy nood raakgesien nie. Maar Jesus luister na sy verhaal, hoor sy nood en maak hom gesond (Joh. 5). Toe die vrou wat aan bloedvloeiing gely het aan Jesus se kleed raak, gaan staan hy en luister na haar verhaal (Mark. 5). Toe die blinde buite Jerigo na Jesus roep en mense hom probeer stilmaak, toe luister Jesus na hom (Luk. 18). Jesus luister na die pleidooie van die Kanaänitiese vrou (Matt. 15) en die Romeinse offisier (Luk. 7).

In gay mense se verhale is daar dikwels baie nood. As ons Jesus wil volg, as ons na God wil luister, dan móét ons na daardie verhale luister. In Matt. 25 praat Jesus oor die eindoordeel en verduidelik dat elke keer as iemand ’n mens in nood bygestaan het, het hy of sy dit vir Hom gedoen. Laat ons ook gay mense in hul nood bystaan.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui