Luister na gay mense se verhale voordat jy die eerste klip gooi

Kyk ook:

Vir ’n weerlegging van Jackson se argumente hieronder, kyk:

Miskien moet ’n mens ook na voorheen homoseksuele mense se getuienisse luister:

*******

Luister na gay mense se verhale voordat jy die eerste klip gooi | Netwerk24

Neels Jackson

03 September 2022

Lukrake interpretering van Bybeltekste hang soos ’n swaard oor hulle, skryf Neels Jackson.

In sy skrywe (“Gay mense verwoes? Nee, dis net wat Evangelie sê”, Rapport Weekliks, 28 Augustus) skryf prof. Dries du Plooy: “Ek wil vir Jackson vra hoe dit moontlik kan wees dat wanneer krities na die beoefening van homoseksualiteit gekyk word, mense se lewe verwoes kan word.”

Ek antwoord graag hierop en op ’n paar ander punte wat hy maak.

As iemand werklik wil verstaan waardeur gay mense gaan, moet hy doen wat Jesus gedoen het. Jesus het mense se nood raakgesien, by hulle gaan stilstaan, en met hulle in gesprek getree. So moet iemand wat gay mense se ervaring wil verstaan, by hulle gaan sit en na hul verhale luister.

En vir diegene wat sê hulle luister nie na mense nie, maar net na die Woord van God, wil ek daarop wys dat dit in die Bybel is dat ons lees dat Jesus hierdie voorbeeld gestel het. Daarteenoor was dit die godsdienstige leiers van destyds wat op die wet gesteld was en nie op mense ag geslaan het nie. Dit sien ’n mens in die verhale waar Jesus mense op die Sabbat genees het: Die man met die gebreklike hand (Markus 3), die vrou wat 18 jaar lank kromgetrek was (Lukas 13), die man by die bad van Betesda (Johannes 5), en die man wat blind gebore is (Johannes 9). Dis hierdie houding van mense miskyk en fokus op die wet wat daartoe lei dat Jesus “diep bedroef was oor hulle verhardheid” (Markus 3:5).

Jesus gee om vir mense, maar die godsdienstige leiers gee om vir die wet. Hulle sal die wet ten koste van mense toepas.

Wanneer ’n mens wel na gay mense se verhale gaan luister, hoor jy dikwels dat hulle hulself in ’n onhoudbare situasie bevind. Aan die een kant het hulle ’n seksualiteit wat hulle nie gekies het nie. En hulle kan dit nie verander nie. Soos jy jou nie van die kleur van jou oë kan bekeer nie, kan jy jou nie van jou seksuele oriëntasie bekeer nie. Biseksuele mense kan nog suksesvol oorskakel tussen hetero- en homoseksuele verhoudings, maar gay mense kan nie.

Aan die ander kant hoor gay mense tekste soos dié wat Du Plooy aanhaal: “Mense wat homoseksualiteit beoefen, sal geen deel kry aan die koninkryk van God nie.” Dit is ’n verskriklike swaard wat oor gay mense gehang word.

En gay mense probeer dié spanning tussen wie hulle is en wat van hulle verwag word, op verskillende maniere hanteer. Party ontken of onderdruk hul eie seksualiteit, selfs tot op die punt dat hulle hulself in heteroseksuele huwelike begeef wat dan onvermydelik misluk. Dit is een manier waarop verwoesting in lewens gesaai word – van die gay persoon, van dié een met wie hy of sy getroud was, en soms selfs van kinders wat uit die huwelik gebore is.

’n Ander strategie wat party gay mense volg, is om verhoudings te vermy. Hulle bly enkellopend en gaan eensaam deur die lewe. Dít terwyl God volgens Genesis 2:18 gesê het dat dit nie goed is dat die mens alleen is nie. God het mense as verhoudingswesens geskape en om van iemand te verwag om sy of haar behoefte aan ’n lewensmaat te onderdruk of te ontken, is nog ’n manier om lewens te verwoes.

’n Derde strategie wat party gay mense volg, is om eenvoudig weg te stap van kerk en geloof. Dit is seker nie wat Du Plooy wil hê nie.

Voordat hulle een van hierdie opsies kies, is baie gay mense gewikkel in ’n worsteling wat hulle aftakel. In baie gevalle loop dit uit op gevoelens van mislukking en selfverwerping, tot depressie en soms uiteindelik selfdood.

Dit is die uitwerking wat ’n teologie wat gay verhoudings as sondig voorhou, op die lewens van gay mense het. En dit klop glad nie met Jesus se evangelie van liefde nie. Jesus het heelgemaak. Hy het nie lewens kom verwoes nie.

Liefde is nie maar net ’n vae emosie van goedgesindheid of ’n warm gevoel om die hart nie. Dit is daardie diep omgee vir mense wat ’n mens telkens by Jesus sien. In die Griekse teks word dit met die woord “splagnitsomai” aangedui wat beteken dat ’n mens se ingewande in beweging kom van besorgdheid. Jou maag draai van ontsteltenis oor ander se leed. In Afrikaans word dit dikwels vertaal met die woorde dat Jesus mense “innig jammer” gekry het.

Du Plooy skryf: “Die liefde neutraliseer nie die wet of die wil (of voorskrifte) van God nie.”

Natuurlik nie. Die liefde ís die wet en die wil van God. Jesus sê in Johannes 13-15 herhaaldelik vir sy volgelinge: “Ek gee julle ’n nuwe gebod: Julle moet mekaar liefhê.” Daarby skryf Paulus in Romeine 13:8 dat die liefde die volle uitvoering van die wet is. Hy voeg by: “Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie.”

Daarom is ’n vertolking van Bybeltekste wat gay mense soveel skade aandoen, nie die wil van God nie.

Wat maak ’n mens dan met tekste soos dié waarna Du Plooy verwys? Jy sensureer dit nie. Jy probeer dit beter verstaan. En die eerste ding wat duidelik is, is dat die woord “homoseksualiteit” nie in die oorspronklike teks staan nie. Dis ’n woord wat minder as twee eeue gelede geskep is en wat foutiewelik deur vertalers in sommige vertalings opgeneem is.

Homoseksualiteit dui op ’n diepliggende aangetrokkenheid tot ’n maat van dieselfde geslag. Dit gaan oor baie meer as seks. Dit gaan oor ’n behoefte aan ’n maat wat die lewe met jou kan deel. Hierteenoor gaan die betrokke tekste net oor seksuele omgang tussen mense van dieselfde geslag. En as ’n mens die hele gedeelte in Romeine 1 lees, is dit duidelik dat die seksuele omgang waarvan hier sprake is, deel was van orgies as deel van daardie mense se afgodsdiens. Dit gaan hier glad nie oor gelowige mense wat in ’n permanente, getroue en liefdevolle verhouding met iemand van dieselfde geslag is nie. Paulus is teen afgodsdiens en die perversiteite wat daarmee saam gaan.

As jy verder luister na gay mense se verhale, hoor jy soms dat daar heling kom. En daardie heling kom met aanvaarding. As ’n gay mens se familie en vriende hom of haar as gay persoon aanvaar, help dit om heling te bring. As die persoon voel dat die gemeenskap, ook die kerk, hom of haar aanvaar, bring dit heling nader. Vir baie gay mense is aanvaarding of verwerping deur die kerk, ’n teken van aanvaarding of verwerping deur God. Hulle het nodig om te voel dat God hulle aanvaar soos Hy hulle gemaak het, om te kan heel word. Uiteindelik het hulle nodig om hulself te aanvaar vir wie hulle is, sodat hulle ’n vol lewe kan lei waarin hulle ook hul seksualiteit op ’n verantwoordelike manier kan uitleef.

As die kerk Jesus wil navolg en helend in gay mense se lewens betrokke wil wees, moet die kerk daarom hulle volledig aanvaar en in hul verhoudings ondersteun, soos wat die kerk ook met heteroseksuele mense en hul huwelike behoort te doen.

Dit is nie ’n sensurering van die Bybel nie, maar ’n gelowige reaksie in hierdie omstandighede op grondwaardes wat die Bybel leer. Dit lyk my eerder of ’n veroordeling van gay verhoudings neerkom op ’n sensurering van die voorbeeld wat Jesus gestel het, van dit wat Paulus oor die liefde geleer het en van God se uitspraak dat dit nie goed is dat die mens alleen is nie.

  • Neels Jackson is ’n voormalige nuusredakteur van die Kerkbode.

1 thought on “Luister na gay mense se verhale voordat jy die eerste klip gooi”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui