Vra nuwe verbintenis vir pare

Hierdie artikel het ook as Huweliksbevestigings dalk uitgedien (11 Okt 2022) in Die Burger verskyn.

Kyk As jy Hom verloën, moenie sy seën verwag wat op hierdie brief reageer.

*******

Vra nuwe verbintenis vir pare | Netwerk24

Adv. Hein Van Der Walt, Ruimsig

Beeld, Saterdag, 8 Oktober 2022

Dankie vir Isabel Venter se berig “Geen formulier vir gay-huwelike ‘is tree terug’ vir NGK”.

In haar slotparagraaf haal sy, na my mening, ’n suiwer oplossing aan: “Die algemene sinode se advies aan kerkrade wanneer hulle ’n besluit oor die kwessie moet neem, is om te kyk na die persoon se toewyding aan die Here eerder as na eienskappe soos byvoorbeeld ras, geslag of seksuele oriëntasie.”

Wat wil ons in 2022 eintlik met ’n huweliksbevestiging bereik? Die paartjie wil slegs (plegtig) aan mekaar trou beloof voor getuies.

As hulle dit so verkies, voor die gemeente of vriende onder­ leiding van ’n landdros of ’n predikant. Dink heeltemal nuut.

Die debat oor ’n aparte formulier vir selfdegeslagverbintenisse en vir die tussen “een man en een vrou” kan oorkom word met ’n nuwe formulier wat verwys na ’n openbare verklaring soos wat die geloofsbelydenis ook ’n openbare verklaring is: “Ons vier hiermee die openbare verklaring van jul verbintenis.”

Die wewenaar en weduwee in die ouetehuis wil nie hul boedels saamsmelt en twis onder hul kinders met ’n tradisionele huwelik veroorsaak nie. Môre is die oom weer terug by sy kinders en die tannie met demensie in die siekeboeg. Hulle wil net trou aan mekaar beloof en nie die register teken nie.

’n Openbare verklaring van verbintenis maak dit dan baie vriendeliker.

Dan kan enige persoon van aansien versoek word om die verklaring te lei, kommissarisse, polisiebeamptes, prokureurs, skoolhoofde en ander persone.

As die paartjie die verbintenis wil ontbind, kan hulle dit eensydig ontbind of weer dieselfde persoon vra om dit te ontbind eerder as met duur skeisake.

Die kontraktuele aspekte kan met mediasie of litigasie besleg word.

Die betekenis van huwelik en trou het verskuif. Jare gelede was die verbreking van ’n verlowing ’n groot saak. Toe het die huwelik aangetoon wie die pa van die kinders is (vandag bepaal met DNS-toetse) en dat wie die man of die vrou trou, ook die skulde trou. Vandag betaal elkeen sy eie skuld en dwing gesinshowe onderhoud vir kinders af.

Destyds was owerspel ’n misdaad en is ’n huwelik eers volvoer ná seksuele omgang.

Huwelikskontrakte is ’n saak vir die paartjies, ’n vennootskap, ’n sosiale kontrak, binne of buite gemeenskap. Dit raak nie die kerk en die staat nie.

Hou die kerk steeds register van huwelike? Vir watter doel en wie het toegang daartoe? Vir watter doel moet huwelike by die staat geregistreer word? Hy is in elk geval agter daarmee. Wie gebruik dit nog as bron vir skuldinvordering?

Kom ons vier ’n liefdesverbintenis met vreugde soos Christus by Kanaän, met Goddelike liefde gebind.

4 thoughts on “Vra nuwe verbintenis vir pare”

  1. Ek het net twee opmerkings met Adv. Hein se skrywe. Eerstens, in my boek gaan toegwydheid aan die Here oor Liefde (vir Hom en jou naaste) en Waarheid (Sy Woord) en dan gehoorsaamheid daaraan. Liefde en Waarheid loop hand-aan-hand. Jy kan nie jou liefde vir die Here van die dak af uitbasuin, maar wil nie van jou sonde afsien nie omdat dit 2022 is en herinterpretasies oor sekere sondes gemaak moet word. Tweedens, wat ons in 2022 eintlik met ’n huweliksbevestiging wil bereik is gehoorsaamheid aan God wat die huwelik tussen een man en een vrou ingestel het, Punt. Niks meer en niks minder nie – daar het nog niks aan verander nie en dit kan ook nie.

    1. Baie dankie, ek ondersteun graag hierdie standpunt. ’n Huweliksverbintenis gaan eerstens altyd oor die eer van God en ons gehoorsaamheid aan Hom en sy Woord. Al leef ons tans in 2022 kan niks hierdie vereiste vir enige ware verbintenis vervang nie.

  2. Dankie Dolf …… party mense soos die Adv , wat nou wil slim wees agv van een of ander visgraad , wil weer alles onder die mat vee and weer ook compromise oor wat eintlik in die Bybel staan …….. dit is nou van n kamtig geleerde ou ….. dink hy is eerder n hoenerrrr

    1. Asseblief, mens raak nooit persoonlik wanneer jy van iemand se opinie verskil nie. Verduidelik hoekom jy anders dink en laat staan asb die beledigings..

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui