Anton Knoetze skryf: 2023 | Advies vir ’n goeie vooruitsig

Kyk ook:

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Anton Knoetze skryf: 2023 | Advies vir ’n goeie vooruitsig | Kerkbode

Kerkbode, 6 Maart 2023

Deur Anton Knoetze

Vanjaar skep unieke uitdagings vir gelowiges in ’n tyd waar alles rondom ons letterlik en figuurlik pikdonker lyk, skryf Anton Knoetze.

Watter positiewe vooruitsig is daar as die groeiende armoede en werkloosheid vir duisende mense rondom ons geen vooruitsig bied nie?

Watter positiewe vooruitsig is daar as die beskuldigings oor misdaad selfs in ons hoogste regeringskringe hoogty vier?

Watter lig is daar vir ’n land sonder krag en korrupsie wat standaardpraktyk geword het as jy iewers wil kom in die lewe?

Hoe bemoedig jy lidmate van ’n kerk wat die laaste dekades meer as 200 000 lidmate verloor het?

Watter positiewe vooruitsig is daar vir ’n Afrikaanse gereformeerde kerk wat sy ruim huis se deure wawyd oopgemaak het vir vernietigende werk van die liberale teologie?

Watter troos is daar vir ’n kerk wat stadig maar seker besig is om uitmekaar te skeur weens eie geestelike afvalligheid wat gretig deur die media ondersteun word. Dit het my laat dink aan die eenvoudige preek van ’n bejaarde NG leraar baie jare gelede: Broers en susters, onthou, as die uitsig vorentoe donker lyk, probeer die uitsig boontoe! Ons weet geen omstandighede rondom ons kan so donker wees dat die uitsig boontoe nie werk nie.

Dit het my ook herinner aan die bekende Amerikaanse menseregte-aktivis en prediker dr Martin Luther King wat in opstand gekom het teen die Amerikaners se rassistiese skending van duisende swart Amerikaners se basiese menseregte.

Hy het dit reggekry om duisende Amerikaners te motiveer om in ’n donker tyd van hulle geskiedenis, bo hulle omstandighede uit te styg met die bekende slagspreuk: “I have a dream …” en daarvoor sal hy altyd bekend bly. Op 28 Augustus 1963 lei hy ’n opmars met meer as 200 000 swart en wit Amerikaners na die Lincoln-monument in Washington. Daar hou hy toe sy bekende toespraak “I have  dream …” Later het hy die Nobelprys vir Vrede ontvang vir hierdie toespraak wat grootliks die oorsaak was wat uiteindelik die omstandighede van duisende Amerikaanse inwoners radikaal verander het.

So word ons almal een of ander tyd gekonfronteer met omstandighede wat ons nie gekies het nie, maar wat ons gedwing word om te hanteer. Dikwels is dit baie donker omstandighede wat ons nie gekies het nie. Dink maar aan die kind wat in ’n armoedebuurt gebore word en geen keuse oor sy sosiale status het nie. Die persoon wat gedwing word om met een of ander gevreesde siekte saam te leef, het in die meeste gevalle nie daarvoor gekies nie. Wanneer ons sien hoe ’n geliefde afgetakel word deur ’n ernstige siekte, is dit nie iets wat gekies is nie, maar ’n omstandigheid wat ons moet aanvaar. In so ’n tyd kan jy maklik vasgevang raak in jou omstandighede. Daarom is party mense se uitsig op die lewe totaal na binne gekeer, en kan hulle glad nie verder dink as net aan daardie omstandighede nie. Wie dit doen beland in wanhoop, ontnugtering en sinisisme.

Moedeloosheid oor die ongeregtigheid en korrupsie, die uitbuiting van armes, die plaasmoorde, misdaad en wanbestuur wat daagliks in ons land floreer is tans een van die mees algemene emosies. Dr King se preek oor Psalm 27 illustreer dat sy droom hom ook geleer het om boontoe te kyk. In die mees uitsiglose tye van sy lewe, het hy in geloof boontoe gekyk en vasgehou aan Psalm 27:13: As ek darem nie geglo het dat ek die goedheid van die Here sal sien in die land van die lewendes nie …

Ons weet almal Elia was een van die merkwaardigste profete van die Ou Testament. Maar ook hy was op ’n stadium vasgevang in sy eie uitsiglose omstandighede. Ten spyte van soveel groot wonders was sy toekoms, asook dié van sy volk op ’n stadium baie uitsigloos. So erg dat hy tot God uitroep: “Neem asseblief my lewe. Die hele volk het U verlaat. Hulle het die altare afgebreek. Hulle het die profete doodgemaak. Ek is die enigste een wat nie na Baäl gedraai het nie.” Toe vra God hom: “Wat maak jy hier Elia? … Gaan na Damaskus.” Elia staan toe op en kyk weer verby sy omstandighede. Hy gaan na Damaskus toe. Hy ontdek daar is nog seweduisend wat nie die knie voor Baäl gebuig het nie. Hy styg bo sy omstandighede uit, want hy kyk boontoe met die wete “I have a dream …”

Die mooiste voorbeeld om ons donker toekoms met ’n helder vooruitsig te vervang, was sekerlik Stefanus in die Nuwe Testament. Terwyl ’n woedende skreeuende skare op hom afstorm om hom te stenig lees ons in Handelinge 8: “Maar Stefanus, vol van die Heilige Gees, het opgekyk na die hemel en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat aan die regterhand van God staan. ‘Kyk,’ het hy gesê, ‘ek sien die hemel geopen en die Seun van die mens wat aan die regterhand van God staan.’”

Daarom, as ek my vooruitsig vir 2023 kan saamvat, kan ek saam met duisende positiewe gelowiges in Suid-Afrika, my kop optel en getuig: Ek het ’n droom vir hierdie pragtige land Suid-Afrika, en ’n droom vir die kerk van Chistus, ook die NG Kerk, want Jesus het self belowe: “die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.”

  • Dr Anton Knoetze is die voorsitter van die Kairos Netwerk.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui