Wie was Anna Louw?

Kyk ook:

Oorlede: 29 Julie 2017

Hennie Mouton

Anna was die een mens wat oor die langste tydperk die forum aan die gang gehou het. Die opsommende doel van die forum was om die kerk en spesifiek die NG kerk aan te spreek oor dwalinge en te laat terugkeer na die Bybel en die evangelie van die Bybel. Sy het ’n reuse bydrae gelewer en alhoewel die doel van die forum nie bereik is nie, glo ek die forum het sy opdrag van waarskuwing, soos deur die Here gewil, uitgevoer tot op die punt waar die opdrag nie meer vir die forum gegee is om mee aan te gaan nie.

’n Belangrike nalatenskap wat hieruit ontstaan het, is die webwerf www.glodiebybel.co.za. Dit is geensins beperk tot die NG kerk nie, en bedien ’n heelwat breër Christelike geloofsgemeenskap.

Ek eer en dank die Here wat my en Anna se paaie laat kruis het. Sy het die Here bo alles liefgehad, het talle beledigings van invloedrykes Jesus-voorbeeldig hanteer, en was vir my persoonlik ’n groot voorbeeld in talle opsigte.

Dankie Jesus dat U vir Anna in U heerlikheid ontvang het, en ek bid dat U Gees vir Gert, Sarie en Abraham sal vertroos en sal lei. Mag die talle mense, wat deur Anna se Hebron-gebedshuis en ander bedieninge geseën is, U ewige vrug dra.

Henrietta Klaasing

Ek glo Anna Louw is soos Ester deur die Here gekies “vir ’n tyd soos hierdie” in die geskiedenis van die NG kerk. Sy was die hart en siel nie net agter die Forum nie, maar ook die skryf van die boek “Die Trojaanse perd in die NG Kerk” en later die webwerf www.glodiebybel.co.za.

Sy het die merkwaardige vermoë gehad om te inspireer en op te kommandeer sonder om fisies teenwoordig te wees. Telefoongesprekke en eposse was haar troue bondgenote!

Anna en ek het mekaar vir die eerste en enigste keer van aangesig tot aangesig ontmoet by die Mispa-kampterrein, toe sommige van ons as skrywers en medewerkers aan die boek in April 2010 daar bymekaar gekom het om die boek te finaliseer. Ons het onmiddellik gekliek: geesgenote en kletsgenote! Van toe af het daar skaars ’n week verbygegaan wat ons mekaar nie gebel het nie. Anna was ’n mens met wie ek diep dinge en gevoelens kon deel en kon weet, as gebedsstryder sou sy dit in Horeb, die Gebedshuis langs hulle huis, aan die Here se voete lê.

Sy was my “sussie in Jesus”. Al is die gemis erg, verheug ek my in die weersien in die hiernamaals. Ek eer haar nagedagtenis.

Arend du Preez

Die woorde van DL Moody wat hy by geleentheid gesê het, het by my opgekom toe ek van Anna se heengaan gehoor het. Hy het gesê : “As julle hoor dat DL Moody oorlede is, moet julle dit vir geen oomblik glo nie, want in daardie stadium sal DL Moody meer lewendig wees as wat hy ooit op aarde was!”

Vir die ware kinders van God is dit die wonderlikste gebeurtenis van ons bestaan – mag ons ook daarna uitsien om in die teenwoordigheid van onse Here Jesus te kan wees sodra ons hierdie wêreld verlaat. Sy koms is in elk geval naby!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui