’n Vriend van die wêreld is ’n vyand van God

*******

Brief | ’n Vriend van die wêreld is ’n vyand van God | Rapport

Sondag, 27 Julie 2025

Ds. Pieter de Jager, Reddersburg, skryf:

In ’n filosofiese relaas oor die oorsake en gevolge van vyandskap tussen wêreldmoondhede en die faksies daarbinne, trek prof. Johann Rossouw ook die lyn deur na die huidige konflik in die NG Kerk: “Sien jy jou spieëlbeeld in jou vyand?”

Dit gaan vir hom in hoofsaak om twee groepe in die kerk, waar een hom op die waarheid beroep en die ander op die liefde. Die een is meer oop en inklusief vir almal, die ander meer geslote en gereserveerd. Volgens prof. Rossouw handel albei partye, sonder twyfel, uit ’n diep gehegtheid aan hul kerkverband.

Die tragiese egter in die geskiedenis van die kerk wentel juis om verskeurdheid binne kerkverband.

Rossouw bring die begrippe liefde en waarheid na vore en toon ’n diskrepansie aan waar hierdie begrippe teenoor mekaar afgespeel word in die huidige kerklike konflik.

Daar mag egter nie ’n wig ingedryf word tussen hierdie eienskappe van God nie. Waarheid word immers gegenereer vanuit die liefde en liefde is die kroon van die waarheid. Die worstelstryd van die Kerk gaan juis om die volle som van alle eienskappe van God in die mens as beelddraer te verenig en Sy eer in alles te soek.

Die stryd van dolerende gemeentes is om sinodale besluite in ooreenstemming te bring met die Woord van God. Hier sien ons hoe die duiwel homself verskuil in besluite waar wonderlike medemenslikheid uitstraal: “Met strelende woorde en vleitaal mislei hulle die harte van naïewe mense” (Rom 16:18). Hulle is nie Godvriendelik nie!

“Wie ook al ’n vriend van die wêreld wil wees, maak homself ’n vyand van God” (Jak. 4:4). En daarom ’n vyand van die Woord wat ontmasker moet word.

“Dit is hulle wat volhou om die waarheid deur ongeregtigheid te probeer onderdruk” (Rom 1:18) en liefde te soek waar God in waarheid toorn oor sonde.

Om pêlle te wees met sondaars is om te veragter in die genade.

Liefde vir jou vyande is om steeds Gód se beeld en nie jou spieëlbeeld nie, in hulle te soek.

briewe@rapport.co.za

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui