Kyk ook:
Kyk die volgende kommentaar op hierdie artikel:
- ’n Vriend van die wêreld is ’n vyand van God (Pieter de Jager, 27 Jul 25, Rapport)
- Die Here se kerk is nie ’n koalisie soos die ANC en DA nie (Johannes de Villiers, 3 Aug 2025, Rapport)
*******
Johann Rossouw: SA, NG Kerk, sien jy jou spieëlbeeld in jou vyand? | Rapport
Johann Rossouw
Sondag, 20 Julie 2025
Die voorwaardes is neergelê vir ’n vorm van eskalasie tot die uiterstes tussen die twee vernaamste vennote in die regering, naamlik die ANC en die DA. En ook in die NG Kerk, skryf Johann Rossouw.
In 2007, agt jaar voor sy dood in 2015, het René Girard, grondlegger van die mimetiese teorie, sy laaste boek, Achever Clausewitz (vertaal as Battling to the End) gepubliseer.
In dié boek tree Girard in gesprek met die werk van die grootste moderne Westerse militêre strateeg, die Pruisiese offisier Carl von Clausewitz.
Von Clausewitz se bekendste uitspraak lui dat oorlog die voortsetting is van die politiek deur ander middele. Daarmee bedoel hy wanneer normale politieke instrumente, soos byvoorbeeld onderhandelinge, misluk om ’n geskil tussen twee teenstanders op te los, een van die twee kan oorgaan tot oorlog om sy politieke oogmerke te probeer bereik.
In Achever Clausewitz sluit Girard egter aan by ’n ander, minder bekende begrip van Von Clausewitz, naamlik dit wat hy die eskalasie tot uiterstes noem. Volgens Von Clausewitz is onderlinge mededinging tussen teenstanders ’n wesenlike aspek van die konflik tussen hulle en as dié mededinging nie op die een of ander manier te bowe gekom word nie, sal die twee teenstanders se konflik bly eskaleer tot uiterstes.
Girard ontgin dié begrip van Von Clausewitz om sy eie begrip van mimetiese mededinging te verruim van die interpersoonlike en die sosiale na die politieke en staatkundige terreine.
Girard stel dit so: “Mimetiese teorie weerspreek die tese van selfstandigheid. Dit neig om selfs die moontlikheid tot introspeksie te relativeer: om inwaarts in jouself te gaan, is om altyd die ander te vind – die bemiddelaar, die een wat my begeertes rig sonder dat ek daarvan bewus is.”
Wat hy in Achever Clausewitz daarmee bedoel, is dat dit wat ’n individu of ’n kollektief (soos ’n faksie in ’n instelling of ’n party of ’n staat) begeerlik vind, bepaal word deur dit wat my teenstander begeerlik vind – my teenstander is “die een wat my begeertes rig sonder dat ek daarvan bewus is”.
Nog ’n rede vir die eskalasie tot die uiterstes van die konflik tussen die twee teenstanders, sê Girard, is dat die twee teenstanders van binne die konflik nie die nodige afstand het om te sien hoe hulle eintlik spieëlbeelde van mekaar is nie en dus, hoe meer hulle hulself van mekaar probeer onderskei, hoe meer eskaleer hulle hul aggressiewe reaksie op mekaar.
Waarnemers van buite die konflik kan dit sien gebeur, maar as die teenstanders binne die konflik dit nie ook op die een of ander manier sien nie, gaan die konflik net bly eskaleer – met wedersydse vernietiging ’n baie moontlike uitkoms daarvan.
Girard is ook daaroor bekommerd dat dié soort konflik tussen groepe, faksies, partye en state net al hoe meer in ons era gaan voorkom. So voorspel hy byvoorbeeld al in 2007 dat mimetiese mededinging tussen Amerika en China waarskynlik die vernaamste bron van konflik in die eietydse geopolitiek gaan word – en nie eens 20 jaar later nie is dit inderdaad die belangrikste konflik wat vandag aan die oplaai is.
Dis belangrik om in gedagte te hou dat die vermenigvuldiging van konflik tussen mededingers wat mekaar se spieëlbeelde is, allermins tot China en Amerika of tot die geopolitiek beperk is.
In die bloedige oorlog tussen Rusland en Oekraïne kom twee lande, wat tradisioneel soos broers is, teen mekaar te staan en die eskalasie word tot die uiterstes ook selfs in die Ortodokse Kerk op die spits gedryf en skeur die Kerk.
In die burgeroorlog in Soedan, wat verreweg die bloedigste van ons tyd is, is dit eweneens broer teen broer wat meeding om mag en beheer oor die staat en sy bronne.
In die konflik tussen Iran en Israel sien ons twee state wat al hoe verder van hul moderne sekulêre basisse wegbeweeg, en waarin godsdiens en nasionale identiteit ingespan word om teen mekaar mee te ding om streekhegemonie.
Benjamin Netanyahu, premier van Israel, moet toenemend die agenda najaag van sy ultra-ortodokse koalisievennote, wat ’n suiwer Joodse teokrasie wil sien. Die ajatolla Ali Chamenei, opperleier van Iran, lei eweneens ’n teokrasie wat die ideaal van ’n wêreld gesuiwer van Jode voorhou.
Die eskalasie tot uiterstes kom ook toenemend voor in lande wat tradisioneel deur twee partye oorheers is – soos die Tories en die Arbeiders in Brittanje, of die Demokrate en die Republikeine in Amerika.
Dit hou egter nie daar op nie – namate sulke partye hulle al hoe duideliker van mekaar probeer onderskei, word hulle nie net albei al hoe meer ekstremisties nie, maar begin ook versplinter in onderling mededingende faksies. Dieselfde nasionale versplintering kenmerk toenemend die meeste lande waar daar nie meer sterk nasionale identiteite is nie.
In Suid-Afrika, soos al voorheen in dié rubriek daarop gewys is, het onderlinge mimetiese wedywering tussen die Afrikaners en “die Engelse” die gang van sake min of meer van die einde van die 19de tot die einde van die 20ste eeu bepaal – soos wat die onderlinge wedywering tussen die swart nasionaliste en hul voormalige Afrikaner-nasionalistiese oorheersers steeds ons nasionale politiek bly vergiftig.
In dié rubriek is ook al daarop gewys hoe die ANC vandag toenemend ’n ras-nasionalistiese spieëlbeeld van sy ras-nasionalistiese voorganger, die Nasionale Party, geword het.
Toe die regering van nasionale eenheid teen wil en dank tot stand gekom het om een vorm van die eskalasie tot uiterstes te voorkom, naamlik dié van ’n koalisie van psigies verwonde rasbehepte Afro-nasionaliste wat in die sondebokmaking van hul vorige oorheersers tot enige uiterste sou gaan om die mag te behou en hul waardigheid te probeer herstel, is die voorwaardes egter neergelê vir ’n ánder vorm van eskalasie tot die uiterstes tussen die twee vernaamste vennote in die regering, naamlik die ANC en die DA.
In albei partye is daar faksies wat die ander party as die duiwel self beskou en dié party wil vernietig. In albei partye is daar faksies wat insien ter wille van die land het die twee partye mekaar nodig en moet ’n groter mate van samewerking nagestreef word.
Die dilemma is egter dat dit wat die saamwerkendes as klein oorwinnings op die pad van groter samewerking beskou, die ander faksies in hul partye as kapitulasie en oorgawe aan die duiwel self beskou.
Gelukkig is dit so dat genoeg mense sowel binne as buite dié partye al oor dekades heen sedert 1994 genoeg kon saamwerk dat hulle mekaar kon verlos van die abstrakte kategorie van mededinger, en insien dat wat ek wil hê en wat jy wil hê slegs verwesenlik kan word as ons sáám iets groters skep waarin ons kleiner, onderskeie oogmerke nie ten koste van mekaar nie, maar tot voordeel van mekaar, verwesenlik kan word.
In my tuisprovinsie, die Vrystaat, is tallose voorbeelde daarvan in klein dorpies en in die landboubedryf. En ons nasionaal geliefde Springbok-span is nog ’n sprekende voorbeeld daarvan.
Nader aan eie taal en liggaam word ons almal se geestelike moeder, die NG Kerk, óók vandag verlam deur ’n eskalasie tot die uiterstes. In die jongste inkarnasie van die ou onderlinge mimetiese mededinging tussen diegene wat hulself as oper beskou teenoor diegene wat hulself as meer geslote beskou, word dit toenemend op die spits gedryf.
In ’n tragiese ironie, so asof dit reg uit Girard se besinnings oor mimetiese dubbelgangers kom, verskyn daar die afgelope twee Sondae hoofbriewe deur briefskrywers met dieselfde naam wat die spanning tussen ewebeelde van mekaar weerspieël. Soos dit nou al tekenend van dié konflik is, beroep die een hom op die waarheid en die ander op die liefde.
Die eskalasie tot die uiterstes neem dan gewoonlik die vorm aan dat die waarheidsgerigte die liefdesgerigtes van onwaarhede beskuldig en die liefdesgerigtes die waarheidsgerigtes van liefdeloosheid.
En tog, in die Logos – Christus – sien ons dat die waarheid en die liefde een en dieselfde is.
Kan Girard se insigte die partye wat gewikkel is in mimetiese mededinging met mekaar oor botsende idees van wat Suid-Afrika moet wees of wat die NG Kerk moet wees, ’n stappie laat terugtree en hulself afvra in watter mate hulle mekaar se strydende spieëlbeelde geword het?
In die geval van die NG Kerk kan dit miskien makliker wees – albei partye handel sonder twyfel uit ’n diep gehegtheid aan hul kerkverband. En as hulle die oog biddend op die Logos kan hou – Hy wat ons volgens Girard van álle mimetiese mededinging verlos deur God en mens in Homself te herenig – kan hulle mekaar dalk help om die liefde en die waarheid in mekaar te herenig.
• Johann Rossouw is ’n professor in filosofie aan die Universiteit van die Vrystaat.