2011 NGK huwelik- en saamwoonbesluit

Hier volg die Algemene Sinode se amptelike besluit oor die huwelik en saamwoon geneem op 12 Oktober 2011.

Punt 4 is soos Hennie Mouton hieronder sê “…baie duidelik, en nog ’n skande vir die NG Kerk.” Dit sê in effek dat mense saam kan woon om eers te kyk of ’n paartjie bymekaar pas en selfs die seksuele uit te toets voor hulle die besluit neem om te trou.

Verdere kommentaar verskyn in [rooibruin blokhakies].

*********

Oorspronklik: www.kerkargief.co.za/acta

Huwelik en saamwoon – Algemene Sinode NG Kerk – 12 Oktober 2011

HUWELIK EN SAAMWOON

  1. Die Algemene Sinode neem kennis van die verslag en spreek sy waardering uit vir die kommissie se eerlike poging ommet hierdie kontekstuele saak om te gaan.
  2. Die Algemene Sinode besef dat die huwelik soos ons dit vandag ken die produk van eeue se ontwikkeling is. Daarom kan sommige huweliksgebruike soos in die Bybel beskryf, byvoorbeeld leviraatshuwelike en die vrou as besitting, nie sonder meer dien as riglyne vir hoe Christelike huwelike vandag behoort te wees nie.
  3. Die Algemene Sinode erken dat saamwoonverhoudings (wat die seksuele insluit) vandag ʼn werklikheid in die samelewing is. Daar is verskillende redes waarom mense saamwoon. Sommige mense woon saam omdat hulle seksuele eksklusiwiteit nie as ’n belangrike aspek van ’n verhouding beskou nie. Hierdie verhoudings is weens die nie-permanente en selfsugtige aard daarvan, eties onaanvaarbaar.
    [Kommentaar: Dit is interessant dat daar gepraat word van “eties onaanvaarbaar” en nie “Bybels onaanvaarbaar nie. Is dit dalk ’n aanduiding dat die Bybel nooit as riglyn gebruik is in hierdie besluit nie?]
  4. Die Algemene Sinode is bewus daarvan egter dat daar ander redes is waarom ander pare saamwoon. Sommige woon saam met die argument dat hulle die huwelik hoog ag en daarom seker wil maak dat hulle in alle opsigte by mekaar pas, ook wat die seksuele betref, voordat hulle trou. Hierdie verhoudings reflekteer in baie opsigte die Bybelse waardes van liefde, respek en eksklusiwiteit en kan dus nie sonder meer afgewys word nie.
    [Kommentaar: Die implikasie van hierdie stelling is dat paartjies voorhuwelikse seks mag hê om seker te maak dat hulle bymekaar pas voor hulle besluit om te trou.]
  5. Die Algemene Sinode is nogtans daarvan oortuig dat die historiese ontwikkeling van die huwelik in die Bybel en in die geskiedenis vir ons duidelike riglyne bied van wat ’n Christelike huwelik is: ’n vaste, formele ooreenkoms tussen twee persone van die teenoorgestelde geslag om hulle lewens in alle opsigte met mekaar te deel in ’n lewenslange verbintenis waarin seksualiteit ’n eksklusiewe karakter dra, geseën of bevestig deur die kerk, gesluit in die teenwoordigheid van getuies, sover as moontlik in die gemeenskap van gelowiges en verkieslik erken deur die staat as ’n wettige huwelik.
  6. Die Algemene Sinode oordeel dat, in die lig van bostaande, gelowiges met reg die huwelik ’n gawe van God noem en dat seksuele gemeenskap buite so ’n vaste, formele ooreenkoms nie aan Christelike riglyne voldoen nie.
    [Kommentaar: Dus, ten spyte daarvan dat daar in punt 6 erken word dat die Bybel teen buitehuwelikse seks is, sê punt 4 dat dit nie sonder meer afgewys kan word nie.]
  7. Die Algemene Sinode beskou die reëlings van mediese fondse en pensioenskemas wat voordele van mense ontneem wanneer hulle na die dood van ’n eggenoot/eggenote weer in die huwelik tree, as eties problematies en onderneem om nogeens met die betrokke owerhede hieroor in gesprek te tree.
    [Kommentaar: Niks keer paartjies om slegs kerklik te trou nie. Dus is daar geen rede hoekom hierdie ’n probleem is nie.]
  8. Die Algemene Sinode wil mense wat in ʼn etiese saamwoonverhouding leef en dus die Christelike norme vir die huwelik uitleef, aanmoedig om die verbintenis nog vaster te maak deur die kerklike en staatkundige aspekte ook in plek te kry.
    [Kommentaar: Dit is ’n hopeloos te sagte benadering. Volgens God is buitehuwelikse seks sonde. Christene moet met alle sonde breek.]
  9. Bostaande besluite word nie afsonderlik nie, maar deurgaans as ’n eenheid beskou oor die kerk se standpunt ten opsigte van die saamwoon van ongetroudes.
  10. Die Algemene Sinode aanvaar dat al die implikasie rondom die bevestiging van ’n enkel kerlike huweliksverbintenis nog nie uitgeklaar is nie en daarom op hierdie stadium nie ten gunste van so ’n reëling nie.

Pastorale versorging

  1. Die Sinode versoek leraars om in pastorale hantering van pare-in-verhouding, hulle met deernis te begelei van onvolledige verbintenisse na die omvattende, Bybelse verbintenis van die Christelike huwelik, en hierdie ideaal nooit af te water nie.

Opdragte

  1. Ons verwys vir ondersoek na ’n kommissie die vraagstuk van die veranderende seksuele raamwerk en seksuele waardes van ons gemeenskappe.
  2. Die Sinode word versoek om ’n huwelikskursus te ontwikkel wat aan die jeug en ander vrywillig bedien word in die jaar na belydenis aflegging. Die oorsprong van huweliksprobleme word dan aangespreek en word die simptome (soos saamwoon) voorkom. Tans is die leiding vir die huwelik nie voldoende nie en word voorbeelde van ouers en die media slaafs nagevolg.
  3. Die Algemene Sinode gee opdrag aan die Moderamen om weë te soek waarin daar met die staat en ander rolspelers in gesprek getree word om wyses te vind waar daar nie teen persone gediskrimineer word op grond van die voortgaande voordele verbonde aan mediese fondse en pensioenskemas nie.

Die Huwelik se rol en plek

  1. Die Algemene sinode bevestig die plek en waarde van die Christelike huwelik in die kerk en die gemeenskap en motiveer leraars en lidmate om die duursaamheid daarvan te bevorder.
  2. Die Algemene sinode versoek leraars en lidmate om gesonde huwelike aktief te bevorder en moeite te doen met huweliksvoorbereiding en huweliksverryking, omdat die idee en praktyk van huwelike verskraal het.
  3. Die Algemene Sinode motiveer gemeentes om jaarliks op die tweede Sondag van Februarie wêreldhuweliksdag te vier.

Kommentaar

Ds Gideon Aggenbag
2011-10-19

Hierdie sinodebesluite is inderdaad, soos ons hengelaars sou sê, ’n uiters deurmekaar “kraaines” (moontlik omdat die A.S. op twee stoele probeer sit): Punt 4: Indien ’n paartjie maar net verlief raak, gaan saam woon en buitehuwelikse seks beoefen, reflekteer dit “Bybelse waardes van liefde, respek en eksklusiwiteit”. Hoe word dít “Bybels”? Niks word gesê van wat gebeur as hulle vind dat hulle NIE “bymekaar pas” nie. Hulle ag die huwelik só hoog dat hulle liewer saam woon. En dít is ’n “etiese saamwoonverhouding” waarin “die Christelike norme vir die huwelik uitgeleef word! (punt 8). Rêrig? Enige ander saamwoonverhouding – (vir watter rede ookal?) – is “eties onaanvaarbaar”! (Punt 3)

Hierteenoor noem die A.S. (asof op ’n afstand) (punt 6) dat “gelowiges met reg die huwelik ’n gawe van God noem” en erken dat “seksuele gemeenskap buite so ’n vaste, formele ooreenkoms nie aan Christelike riglyne voldoen nie.” Wie is nou reg – die “gelowiges” of die A.S.?

Die A.S., verteenwoordigend van die NG Kerk, noem ook nêrens dat die huwelik ’n God-geordende instelling is nie – waarbuite seks gebrandmerk word as hoerery, owerspel en losbandigheid.

Kommentaar op Facebook

(Vanaf Facebook):

Koos Lamont
Sjoe! Maar waar is die verbod op ’n manlike leraar om nie met ’n nie-maagdelike vrou, en ’n vroulike leraar nie met ’n man wat reeds voorhuwelikse seks beoefen het, mag trou nie. Wat ’n tekort aan dominees sal die NGK dan nie hê nie!
12 Oktober om 09:29 NM

Fanie van Emmenes
Dit is jammer dat die sinode nog nie tot ’n besluit kon kom oor ’n enkel kerllike huweliksverbintenis nie.
12 Oktober om 09:38 NM

Anton Bester
Koos jy is seker net besig om grappie te maak ne
12 Oktober om 10:03 NM

Jacobus van Straaten
Besluite soos hierdie wys nog hoe ras-homogeen die NG Kerk is. As ons na Afrika en die huwelik in Afrika wat tussen twee families voltrek word en meestal nie staatkundig nie, skiet die bogenoemde besluit (wat ’n opregte worsteling is) ver te kort. Ek wonder wat dit vir eenheid in die NG Kerkfamilie sê? Ons kan nog nie onsself as deel van Afrika dink nie.
12 Oktober om 10:22 NM

Chris Boonzaier
Deel van Afrika ja maar ook onderdaning aan die Woord van God.
12 Oktober om 10:25 NM

Ds Theunis Coetzee
Dit is maklik om seker hier kommentaar te lewer, soos Koos of Jacobus, die feit is die Kerk word beskuldig of tot verantwoording geroep – WANT ons moet bely en doen wat die Woord sê. Hartseer is dat ek verskeie gesinne ken waar skuldgevoel baie sterk voorkom. Voorbeelde… testamentêr van afgestorwene, as my weduwee weer trou verloor sy erfreg op eiendom en sekuriteit, dan het sy nog jong kinders,…beleef dit en ervaar dit! Met medies en pensioen, VANDAG se lewe in SA, indien jy weer trou, ongeag liefde, verbeur ’n weduwee dit. Een oom het my gesê – ’n kind kan nie vervang word, ’n ouer kan nie vervang word, maar jy kan weer liefkry! Hul is bereid om belofte in kerk te doen, al die rituele, al’s dieselfde, MOET DIT NET NIE REGISTREER BY BINNELANDSE SAKE! Baie van die ‘egpare’ is beter voorbeelde vir ’n huwelik, tog die skuldgevoel….wat van my kleinkinders en kinders, ons weet wat ons doen voor God, reeds gesê hulle is beter vbe. Dit is nie maklik om hierdie besluite dan weer te gee nie. Maklik om ’n ouma ’n “H!!@” te noem maar wie ervaar diep gelowigheid wat saam met gemeenskap uitgeleef kan word. LAAT ONS NIE OORDEEL MAAR ERRDER VERSTAAN EN BEGRYP OF STEL JOU IN SO’N SITUASIE. Ek, ek het die evangelie om te verkondig binne strukture en my gereformeerde belydenis. Trots op NG.
12 Oktober om 11:46 NM

Thabu Pienaar
skuldgevoelens? Dis nou een ding wat ons darem maar goed kan bedryf! Kan ons nie liewer begin om mense vry te spreek nie? Die kerk moet ’n standpunt inneem en ’n besluit daaromtrent formuleer, ek het begrip daarvoor…..maar uiteindelik staan die egpaar voor die Here. @Theunis: ek sou geen probleem he om so egpaar net kerklik te bevestig nie. Die kerk is nie die
13 Oktober om 06:25 VM

Thabu Pienaar
‎”eienaar” van genade en vryspraak nie!
13 Oktober om 06:26 VM

Ashton Brondin van Niekerk
Verskoon my, help my reg as ek verkeerd verstaan. Het die sinode beslis dat voorhuwelikse seks en saambly reg is in die geval dat ’n paartjie dit eers wil uit probeer voordat hulle trou?
13 Oktober om 07:24 VM

Ashton Brondin van Niekerk
Ek verwys na punt 4 hierbo.
13 Oktober om 07:26 VM

NG Kerk
Ashton, lees gerus die volledige verslag wat ons gedagtes oor die huwelik verduidelik. p193 van die agenda:
http://t.co/06d7eEf1
Jy kan ook James Kirkpatrick se inleidende opmerkings kyk op die video op hierdie bladsy.
Ons besluit is onbeskaamd pro-huwelik, maar ons erken die kompleksiteit in die samelewing, en dat alle saamwoon verhoudinge nie maar bloot oor dieselfde kam geskeer kan word nie.
13 Oktober om 09:43 VM

Ashton Brondin van Niekerk
Ek verstaan dit so, dis hoekom ek wonder. Ek vra spesifiek oor punt 4, keur die sinode proefhuwelike goed of nie, want soos ek punt 4 verstaan, keur die sinode dit goed?
13 Oktober om 11:51 VM

Hennie Hoepfner
Ek wil by Ashton aansluit en vra vir groter duidelikheid. Wat maak ek met punt 3 en 5 in die praktyk? Dit lyk asof dit mekaar weerspreek. In punt 3 kan die seksuele voor die huwelik in gevalle waar die huwelik hoog gegag word, nie sonder meer afgewys word nie. In punt 5 voldoen seksuele gemeenskap buite die huwelik nie aan Christelike riglyne nie. Hoe nou gemaak?
13 Oktober om 12:39 NM

Cobus Van Wyngaard
Ashton, jy het seker na komplekse geskiedenis van huwelike in die verslag deurgekyk?
Ek dink wat die sinode probeer sê is dat ons raaksien dat daar saamwoon verhoudinge is wat baie van die merke wat die kerk oor die jare heen as belangrik vir huwelike gesien het bevat. Binne ons konteks vandag dink ek dit is belangrik dat ons dit kan raaksien. Ek dink nie die sinode het op ENIGE stadium sogenaamde “proefhuwelike” goedgekeur, of eers goedgepraat nie. Wat wel gebeur is dat die sinode raaksien dat mense wat saamwoon se eie stem oor hulle verhoudinge probeer ernstig opneem, en wil erken dat van hierdie verhoudinge reeds die kenmerke van Bybelse huwelike bevat. Die kerk voel egter (punt 8) dat verhoudinge wat kerklik en staatkundig voltrek word beter is (maar as jy die inleiding kyk, erken ons dat wetlike huwelike met tye glad nie soos Bybelse huwelike lyk nie).
Hier was geen aanmoediging van nie-eksklusiewe seksuele verhoudinge nie, en om dit hier in te lees, sal wees om die sinode totaal te misbruik.
Dis elkgeval hoe ek dit interpreteer.
13 Oktober om 01:03 NM

Ds Theunis Coetzee
Soos ek dit verstaan Hennie en Ashton het die Sinode weereens besluit dat die huwelik (Kerklik en staatkundig) die etiese aanvaarde norm is soos Bybels verwoord. Ons wil nie oordeel oor persone wat saambly nie, seksuele losbandigheid is verkeerd maar die onus rus op die verhoudingspare en daarom word gevra na pastorale begeleiding.
13 Oktober om 01:05 NM

Ashton Brondin van Niekerk
Ons het eintlik net duidelikheid gesoek, want aan die eenkant lees ons dit is verkeerd en van die plasing hierbo blyk dit asof die sinode besluit het dat dit reg is, dis wat ons deurmekaar gemaak het. Ewenwel dit laat ons nogsteeds met ’n vraag, as mense wat so saambly, nou besluit dat hulle nie saamhoort nie, en hulle gaan uitmekaar, tel dit nie as skei nie?
13 Oktober om 04:35 NM

Johan Gouws
Beste sou wees om punt 4 en 5 saam te4 lees, die ideaal bly punt 5. Die woord “nogtans” is belangrik.
13 Oktober om 05:31 NM

Sarel Botes
Dit is tog vreemd dat die NG Kerk nog steeds selektief oor sekere “GROOT” sondes debateer. Twee mense wat as huweliksmaats saambly en God verstaan en dien word as sondaars beskou. Wel julle kan nie eintlik ’n definitiewe besluit neem nie – ou mense het gepraat van draadsitters. Die goeie ouderling of diaken of gewone lidmaat wat elke Sondag voor in die banke sit en volgens die NG Kerk se definisie van die huwelik getroud is – haal aan volgens punt 5 – “’n vaste, formele ooreenkoms tussen twee persone van die teenoorgestelde geslag om hulle lewens in alle opsigte met mekaar te deel in ’n lewenslange verbintenis waarin seksualiteit ’n eksklusiewe karakter dra, geseën of bevestig deur die kerk, gesluit in die teenwoordigheid van getuies, sover as moontlik in die gemeenskap van gelowiges en verkieslik erken deur die staat as ’n wettige huwelik. ” gedurende die week dronk by die huis aankom, sy vrou bietjie polish, sy kinders verjaag en soms nog so bietjie rondslaap vir die pret word nerens aangespreek nie, nie deur die hooggeagte dominee, kerkraad of dan die Sinode nie. Ons – die amptenare – moet mos die “moeilike sake” met liefde en deernis” benader. Asseblief tog net nie die water roer nie, broer lidmaat is vir ons as gemeente baie kosbaar.
13 Oktober om 11:32 NM

Sarel Botes
Neem ’n besluit volgens die Bybel – die Bybel is mos die riglyn wat God Drie Enig vir ons geskryf het, gegee het, nie waar nie? Moenie suikerlagies oor seker sake smeer nie. Die Bybel – Paulus, is baie duidelik in verband met die twee sake van man en vrou en guys. Miskien moet julle maar weer die Bybel as vertrekpunt gebruik en nie die samelewing se normes en waardes wat oor tyd aangepas word, as riglyn gebruik nie. – Apartheid is was mos ’n duidelike voorbeeld van hoe ’n kerk – lees daarin die lidmate – ampsdraers die pot misgesit het. As jy nie kan opstaan vir dit wat jy glo nie, hoekom glo daarin.
13 Oktober om 11:40 NM

Ashton Brondin van Niekerk
Hmm, ek sien daar is baie misverstande, ens. En dit lyk amper asof die Sinode nie op mense se tone wil trap nie. Ek dink die probleem is dalk onduidelikheid. Die sinode sê nie definitief of hulle iets goedkeur of afkeur nie. Die sinode gee verslag van die argumente, maar nie die beslissing nie, wel nie altyd nie. Ek wil graag ’n beroep doen dat die sinode duideliker, eenvoudiger verslae deurgee.

Ek dink byvoorbeeld aan ’n keer toe ek aan ’n vriend in die Dopper-kerk moes verduidelik dat die NG-Kerk nie homoseksualiteit goedkeur nie, soos dit vir my lyk dink die hele Dopper-kerk dat die NG-Kerk homoseksualiteit goedkeur. Ek blameer hulle ook nie, want as ek na die kerkorde kyk, kom ek tot dieselfde beslissing.

In Liefde
Ashton
::::::::::::::::::::::::::

Prys die Heer!
14 Oktober om 09:58 VM

Hennie Mouton
Punt 4 is baie duidelik, en nog ’n skande vir die NG Kerk.
18 Oktober om 03:06 NM

NG Kerk
Dit lyk nie asof Sarel of Hennie die verslag gelees het nie. Dan sal hulle nie sulke opmerkings maak nie. Veral Sarel se veroordelende taal laat mens baie aan die NG Kerk van weleer dink. Dis jammer.
18 Oktober om 03:14 NM

Sarel Botes
Dit is jammer dat die NG Kerk nie skriftuurlik standppunt kan in neem nie.
18 Oktober om 03:31 NM

Sarel Botes
Kan die NG kerk sy standpunt ten opsigte van homoseksualiteit stel? El sal dit waardeer as julle dit beskikbaar kan stel.
18 Oktober om 03:35 NM

Sarel Botes
Geliewe ook asb Ashton se vraag te beantwoord – as die pare dan besluit hulle hoort nou nie meer saam nie, is dit dan skei of nie?
18 Oktober om 03:37 NM

Hennie Mouton
Die res van die verslag maak nie wat in punt 4 staan ongedaan nie. Punt 4 moet verander word as dit iets anders wil sê.
18 Oktober om 03:45 NM

Somerset Morkel
Interessant: wanneer mens van die standpunte van die NGK se Alg Sinode verskil, of dit nou Belhar is of die huwelik of wat ookal, word mens eerstens aangeval deur die opmerking: Jy het nie die verslag/dokument gelees nie.. Dis m.i. pateties dat die amptelike mondstuk van die NGK ook hierdie metode volg (wat niks anders as nonsens is nie, en dis boonop ook oneerlik)..
18 Oktober om 08:56 NM

Somerset Morkel
Waarom spreek jul nie liewer die mese wat vrae het, se standpunte aan nie. As iemand die NGK se standpunt ’n skande noem, hoekom se hy dit? As hy reg is, dan bly dit ’n skande. Die Skrif is die riglyn, maar duidelik nie meer vir die NGK nie. Die huwelik is van die begin af (volgens Christus) ingestel. Die NGK se AlgSin kyk na menslike ‘wangedrag’ en sonde in God se oee, toon begrip daarvoor, maar in plaas van dit in perspektief te plaas, akkommodeer hulle dit. Dit bly ’n skande – en ja, ek het die verslag gelees..
18 Oktober om 09:00 NM

Somerset Morkel
‎@DsTheunisCoetzee: U het ’n sekere goeie punt beet, wat so ver glad nie ter sprake gekom het nie: Die samelewing is gebroke, en daar is allerhande faktore wat mense se lewens moeilik maak, soos bv dat ’n weduwee haar pensioen verloor as sy weer trou… wat ’n onding is… Die kernprobleem daar le daarin dat die staat hom die reg toe-eien om beheer oor huwelike te neem tot so ’n mate dat die kerk darem toegelaat word om huwelike te voltrek, maar nie toegelaat word om dit te ontbind nie (op Skriftuurlike gronde natuurlik).
18 Oktober om 09:21 NM

Somerset Morkel
Hier stel die staat hom weer eens aan as arbiter oor God se werk en instelling. ook wat pensioene betref. Die pensioen het niks te doen met die nuwe man in die vrou se lewe nie – dit is geld wat inbetaal is deur ’n hardwerkende man oor baie jare. Die staat ‘steel’ dit as’t ware as hy dit afsny wanneer sy weer trou. Dit is dus gewettigde diefstal, wat ’n natuurlike verloop van ‘die Staat as god’ is..
18 Oktober om 09:22 NM

Somerset Morkel
Die punt dat die huwelik ’n instelling van God is, bring dus die vraag na vore watter gesag die staat daarin het – en m.i. het hy nie veel nie, meer as om kennis te neem daarvan nie. Dus : wanneer die staat maatreels instel om mense se geld te ‘steel’ soos bv wanneer ’n weduwee weer amptelik trou, kan die Christen hom daarvan distansieer en goddelike status verkry, sonder toestemming van die staat – en sonder om by Binnelandse Sake te registreer…
18 Oktober om 09:25 NM

Somerset Morkel
Wat is ’n huwelik? Bestaan dit omdat die STAAT dit registreer? Nee. Omdat God dit aanvaar en so wil he. Dus: die kerk kan die mense in die huwelik bevestig en laat trou met ’n belofte voor GOD, en basta met die staat – die vrou hou haar pensioen (waarop sy in beginsel gergetig is). Is dit oneerlik? Nee. Want voor God is die belofte geldig. Die staat het nie inspraak nie, want hy erken God in elk geval nie.
18 Oktober om 09:27 NM

Somerset Morkel
Tegnies kan die kerk nie so ’n besluit neem nie, want die staat sal verseker inmeng. Ek gaan dus verder: die staat hoef nie darvan te weet nie, want dit le op ’n terrein van God, waar die staat in elk geval geen insig het nie, omdat hy god se oppergesag nie erken nie, maar slegs uit eie belang inspraak wil he ten einde mag uit te oefen..
18 Oktober om 09:30 NM

Gideon Aggenbag
Hierdie sinodebesluite is inderdaad, soos ons hengelaars sou sê, ’n uiters deurmekaar “kraaines” (moontlik omdat die A.S. op twee stoele probeer sit): Punt 4: Indien ’n paartjie maar net verlief raak, gaan saam woon en buitehuwelikse seks beoefen, reflekteer dit “Bybelse waardes van liefde, respek en eksklusiwiteit”. Hoe word dít “Bybels”? Niks word gesê van wat gebeur as hulle vind dat hulle NIE “bymekaar pas” nie. Hulle ag die huwelik só hoog dat hulle liewer saam woon. En dít is ’n “etiese saamwoonverhouding” waarin “die Christelike norme vir die huwelik uitgeleef word! (punt 8). Rêrig? Enige ander saamwoonverhouding – (vir watter rede ookal?) – is “eties onaanvaarbaar”! (Punt 3)

Hierteenoor noem die A.S. (asof op ’n afstand) (punt 6) dat “gelowiges met reg die huwelik ’n gawe van God noem” en erken dat “seksuele gemeenskap buite so ’n vaste, formele ooreenkoms nie aan Christelike riglyne voldoen nie.” Wie is nou reg – die “gelowiges” of die A.S.?

Die A.S., verteenwoordigend van die NG Kerk, noem ook nêrens dat die huwelik ’n God-geordende instelling is nie – waarbuite seks gebrandmerk word as hoerery, owerspel en losbandigheid.
19 Oktober om 01:12 VM

Sarel Botes
Ek sou graag die NG Kerk se amptelike standpunt oor homoseksualiteit wou hoor / sien. sal dit moontlik wees om dit beskibaar te stel?
19 Oktober om 01:31 NM

Sarel Botes
Gideon ek is dankbaar dat daar ook teoloe is wat die pot mis sit en nie net ons gewone onkundige mense nie. Dankie vir jou opmerkings – dit stel net nog duideliker dat die NG Kerk op ’n dwaalspoor is en nie Skriftuurlik opereer nie maar volgens die wil van die samelewing. Ek hoop nie ek is weer besig met “ou veroordeelende taal” gebruik nie.
19 Oktober om 01:37 NM

NG Kerk
Sarel, dit is tydens 2007 se Algemene Sinode bespreek en die laaste amptelike standpunt vir ’n Algemene Sinode kan dus in die besluiteregister gevind word: http://www.ngkerk.org.za/documents/Besluiteregsiter%202007%20(F)%20p193-p223.pdf (punt 12)
19 Oktober om 06:17 NM

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui