Vreemde Gereformeerdheid

Deur Dr. Gerhard Mahne

10 November 2020

Die afgelope dekades hoor ons kort-kort in kerklike vergaderings dat ʼn gereformeerde kerk gedurig moet reformeer. Dit is nie asof ons voorgangers dit nie besef het nie, want hierdie slagspreuk geld al sedert die dae van die Reformasie. Die gevaar bestaan egter dat daar, onder die dekmantel van semper reformande allerlei vreemde opvattings op die kerk afgelaai word. Instrumente vir die invoering van ʼn vreemde Evangelie wat deur kerklike owerhede hiervoor ingespan word, is onder meer, konsensusbesluitneming, alternatiewe hermeneutiese sleutels, ʼn nuwe plek vir die sogenaamde antieke belydenisskrifte, verdagmakery met betrekking tot fundamentalisme, ʼn nuwe ortodoksie en ʼn oordrewe sin vir luister na mekaar.

1. Konsensusbesluitneming

Met konsensusbesluitneming is daar niks fout nie,

behalwe as dit “unanimiteit” beteken (unus=een+animus=denke) waardeur jy “gedwing” word om jouself uiteindelik, met herhaalde selfondersoek en gebed, geheel en al aan ʼn meerderheidsbeslissing oor te gee. En

behalwe wanneer konsensusbesluitneming gebruik word om voorafbeplande uitkomste te fasiliteer (manipuleer), sodat ʼn hele vergadering uiteindelik sal glo dat almal onder leiding van die Heilige Gees die regte besluit geneem het, selfs al bots dit oënskynlik met die Skrif.

Wettisisme manifesteer dikwels as drukmeganisme onder die voorwendsel van unanimiteit. In “unanimity” geld die reël dat “believers are expected to come to God in similar ways, to have similar experiences with God, and to use excepted phrases in describing those experiences” (Taylor 1986:35 The myth of certainty; the reflective Christian and the risk of commitment). ʼn Vergadering verdaag om eers te gaan bid totdat almal onder leiding van die Heilige Gees eenders voel. ʼn Sogenaamde dwarstrekkerige lid van ʼn vergadering word met deernis gevra om voor die Here stil te word totdat hy ook een of ander tyd soos die res van die vergadering dink en voel. Indien nie, is dit verkieslik dat so ʼn persoon homself dan maar liewer onttrek. Wat in een vergadering geld, geld ook in ander – in kerkrade, gemeentes, ringe, klassisse, streeksinodes of in ʼn nasionale vergadering of algemene sinode. Enige vergadering of groepering wat weens gewetens – of Skrifbesware onttrek aan ʼn meerdere vergadering se besluite, loop die risiko om as liefdeloos en fundamentalisties beskryf te word. Die beskerming van kosbare kerkeenheid word aan die groot klok gehang met oproepe soos, “ons moet mekaar tog asseblief net nie los nie”! Van eenheid in waarheid is daar egter weinig sprake. Wat is waarheid in elk geval? Die Skrif en Skrifwaarhede wat gereformeerde kerke wêreldwyd deur eeue heen bely, en via 6 belydenisskrifte verwoord het, geld nie meer soos altyd nie want dit het relatief geword. In die plek van eenheid in waarheid word dit hoe langer hoe meer eenheid ter wille van eenheid, want wat is waarheid in elk geval? Ons moet eerder net saam na waarheid bly soek, die waarheid wat ons nie meer het nie.

Waar legalisme met sy outoritêre gees onder kerklike bestuurslui manifesteer veroorsaak elke kritiese vraag wat teen hulle besluite indruis, ʼn mini-krisis. Verskille en krisisse, wat normaalweg ʼn heilsame uitwerking sou hê, indien dit volgens gereformeerde kerkordelike prosedures vanuit die Skrif hanteer word, verdwyn. Kritiek word eenvoudig geïgnoreer en openlike debatvoering in vergaderings, stopgesit, want kritiek en gesprekvoering bring die moontlikheid van onskriftuurlike besluite na vore en van sistemiese krake wat aan die lig kom.

Unanimiteit in ʼn kerk se bestuurstelsel, is ook die rede waarom leertug nie meer toegepas word nie, want tug veroorsaak spanning wat eenparigheid bedreig. Omdat daar gekies moet word tussen leertug aan die een kant en unanimiteit aan die ander kant word laasgenoemde gekies, want die twee kan nie meng nie. Sensitiewe sake word weggehou van behoorlike kommissieverslae en debatvoering, omdat kommissies en debatte voorafbeplande uitkomste bemoeilik en selfs onmoontlik maak. ʼn Ysterhand vanaf die voorsitterstoel is daarom ook nodig om dwarstrekkers in toom te hou en andersdenkendes se spreekbeurte tot die minimum te beperk. Hierdie ysterhand optrede herinner aan die voor-reformatoriese fase van die Middeleeuse Roomse kerk.

ʼn Mens kan die kontemporêre spiritualiteit in sodanige Gereformeerde kringe, Konsensus-spiritualiteit noem, waar tafelgesprekke en tafelmonitors ʼn deurslaggewende rol speel om die proses te help bestuur en die uitkoms sodoende te help bepaal. Dit word puik gedoen, sodat die vergadering as geheel later dink, proe en glo dat almal ʼn deel kon bydra en saam goeie besluite kon neem. Die media sal dan ook so oor die vergadering verslag doen.

2. Alternatiewe hermeneutiese sleutels

Die Skrifbeskouing dat die Bybel nie die Woord van God is nie, maar dat dit slegs menslike woorde oor God is wanneer dit as sodanig gelowig aanvaar word, beteken dat die mens die handelende subjek word wat God se Woord deur geloof tot lewe roep, of nie roep nie. God se Woord word ondergeskik gemaak aan die mens se denke, navorsing en besluite. Die kerklike vergadering bepaal ook tot watter mate God se Woord ʼn spreekbeurt het of nie. Wanneer die mens nie sy samewerking gee nie, word God eenvoudig tot stilswye gedwing. God mag wel praat, maar liefs deur sy Gees as deur die Bybel want ons verstaan nie die Bybel nie. En as Hy deur die Bybel nog iets te sê het, moet dit met inagneming van, en ondergeskik aan kontemporêre geesteswetenskaplike navorsing wees.

ʼn Verskeidenheid hermeneutiese sleutels waarmee die mens God se boodskap beter moet verstaan tree na vore. Sekere sleutels (en eintlik is niks van hulle nuut nie) manipuleer die Skrif ten opsigte van ons verhouding tot God en ons naaste, in so ʼn mate dat ʼn kind die Bybel nie meer kan lees en verstaan en glo nie.

Histories is daar die volgende bekende sleutels:

  • Allegoriese hermeneutiek (pseudo-ooreenkomste – Dawid se 5 klippies is liefde, goedheid, getrouheid ens. Die olie in die lampe van die 10 meisies is die Heilige Gees)
  • Kerklike outoriteit as hermeneutiese sleutel (die kerk sê vir die teks wat om te sê en laat die Skrif in sy breë raamwerk nie toe om sy eie ortodoksie en ortopraksie te bepaal nie – aflaatstelsel in die 16de eeu, Nazi-teologie en sekere aspekte van enige Apartheidsteologie).
  • Die Skrif as sy eie kriteria in Hermeneutiek (Skrifgedeeltes verklaar ander Skrifgedeeltes – Reformatoriese standpunt).
  • Schleiermacher (1768-1834) se psigologies/ filosofiese hermeneutiese sleutel (grammatika plus kontemporêre psigologie. Hierdie sleutel is die afgelope dekades deur gereformeerde bestuursliggame ingespan om seks tussen persone van dieselfde geslag in lyn te bring met kontemporêre psigologiese studies en oortuigings. Hierdie etiek word nie in lyn met duidelike en voor die handliggende Skrifgedeeltes gebring nie, en ook nie in lyn met die breë boodskap van die Skrif ten opsigte van enige verhouding nie. Goedkeuring vir die LGBTIQ+ beweging wat tans deur die geboortekanaal van liberale kerkvergaderings beweeg, is ʼn Schleiermacher-uitkoms wat hierdie Christen teoloog waarskynlik nie voorsien het nie.
  • Karl Barth se hermeneutiek van openbaring (die teks openbaar self sy boodskap aan elke oplettende en gehoorsame leser – ʼn stelsel waarin die mens ook handelende subjek van die Godsopenbaring word).

3. ʼn Nuwe plek vir ons sogenaamde antieke belydenisskrifte

Wanneer vreemde hermeneutiese sleutels gebruik word, kyk die kerk desnoods ook met vreemde, nie-gereformeerde oë, na sy eie belydenisskrifte. Vir die Reformasie was die belydenisskrifte nooit deel van die Kanon nie. Hulle is as norma normata ondergeskik aan die enigste norma normans, die onfeilbare Woord van God. Die belydenisskrifte het kerklike gesag en nét die Bybel, Goddelike gesag. Net soos wat die Bybel ʼn skopus en periferie het, het die belydenisskrifte dit ook. Die probleem is dat hierdie onderskeid tussen skopus en periferie uit die oog verloor word. Daarom sal die periferiese artikel 36 van die NGB oor die taak van die Christelike owerheid van die tafel afgehaal word en sommer daarmee saam ook twyfel uitgespreek word oor talle skopusartikels soos die maagdelike geboorte, die fisiek historiese opstanding van Jesus Christus uit die dood en die aanhaling van 1 Kor. 6:9-10 in Sondag 32 vraag en antwoord 87 van die HK wat gayseks veroordeel. Dan word verklaar dat ons gereformeerde belydenisskrifte in geheel nog waar is, en nog steeds onderskryf en bewonder word, maar dan as antieke meubels wat eintlik nie meer geskik is vir hedendaagse gebruik nie.

4. Verdagmakery met betrekking tot fundamentalisme in die kerk

Dit raak al hoe meer opvallend dat leraars wat hulleself hou by die skopus van die Skrif en belydenisskrifte as fundamentaliste beskou word. Die skopus van die Skrif is in ʼn neutedop, die leer oor sonde, verlossing en dankbaarheid. Hierdie dogmas van Skrif en kerk is onveranderlik. ʼn Vreemde gereformeerdheid meng in ons dag hierdie skopus en periferie. Wanneer daar byvoorbeeld debat gevoer word oor sekere gruwelsondes wat in die Ou Testament veroordeel, en in die Nuwe Testament steeds as sterk veroordeelde sondes gehandhaaf word, is die liberale argument dikwels gegrond op die Bybel se periferiese waarhede wat verander het. En as periferiese waarhede verander het, kan skopus waarhede ook mos verander word. Dis asof dit wat jy eet en aantrek op dieselfde vlak lê as, “jy mag nie moord pleeg nie”. Dit kan tog nie! Periferiese waarhede is veranderlikes en lê nie op dieselfde vlak as onveranderbare skopus waarhede oor sonde, verlossing en dankbaarheid nie. Die periferie in die Bybel bestaan onder meer uit Skrifgedeeltes wat handel oor aardrykskunde, sterrekunde, dieetkunde, modeontwerp in die gebruik van plantaardige vesel of wol, bokhaar of kameelhaar in klere. Dit lê op ʼn tydhistoriese veranderende periferie en kan dus nie as argument gebruik word om skopus-waarhede ook onder verdenking te bring nie.

Vra jy watter dominees fundamentaliste is en op grond waarvan, bly die antwoord in die lug hang, want om ʼn fundamentalis te wees, moet jy immers aan sekere kriteria voldoen. Daar was deur eeue heen in die kerkgeskiedenis liberaliste en fundamentaliste. Miskien moet ons oor die benaming, fundamentalis binne vandag se Christelik gereformeerde kringe rustigheid kry. As die skoen jou pas, trek hom aan en ruk jouself reg of ontspan. Want, indien iemand ʼn fundamentalis genoem word omdat hy glo dat die Skrif die Skrif verklaar en omdat hy Schleiermacher se hermeneutiek verwerp, en omdat hy glo dat die Bybel die onfeilbare Woord van God is, en omdat hy, saam met die kerk van die eeue, in die maagdelike geboorte en die fisiek, historiese opstanding van Jesus Christus uit die dood, glo, en omdat hy die LGBTIQ+ leer as buite die Bybel verwerp, is dit ʼn eretitel om ʼn “fundamentalis” genoem te word. So ʼn fundamentalisme het immers niks te make met radikalisme wat hulle daarvoor beywer om die sogenaamde “vyande van die God” met die swaard te dood nie. So ʼn gereformeerde fundamentalisme, as jy dit dan so wil noem, het inteendeel alles te doen met ʼn kerk, wat in gehoorsaamheid aan sy opgestaande Christus, die staalswaard weggooi en die Bybel se Evangelie van verlossing uit skuld, smet en ellende met liefde verkondig. Wat die Bybel se skopus as sy hoogste norm aanhang.

5. ʼn Nuwe ongereformeerde ortodoksie

Die terme ortodoksie en ortopraksie het onder meer hul “oorsprong” in Paulus se vermaning aan Timoteus dat hy goed op sy leer en lewe moet let, want daardeur sal hy homself red asook die wat na hom luister (1 Tim 4:16). Vandag is hierdie Siamese tweeling aan die doodgaan, want hulle deel dieselfde hart van die Skrif, en die hart of skopus word deur ʼn veranderde omgewing aangetas. Ortopraksie word stelselmatig verander tot die beoefening van slegs daardie dinge wat vir die post-moderne mens aanvaarbaar en aangenaam is. Vanaf kansels en in sy getuienis na buite, waar hy nie aanstoot mag gee nie, verkondig hy daarom met woord en daad liefs net boodskappe van genade, liefde, vrede en harmonie, al raak dit ook los van die Skrif bloot goedkoop genade en Skrifvreemde deugde. Hy wil sodoende ʼn getuienis dra van iets wat altyd in aanvraag is en sal bly binne die konteks van ʼn altyd veranderende wêreld. Die probleem hiermee is dat dit bloot gaan om die behoeftebevrediging van die mens deur prediking en aksies wat lekker werk. Daarom is dit uit die mode om langer die 10 Gebooie in ʼn erediens voor te lees omdat dit met al sy mag-nie bepalings die triomferende gemeente negatief stem. Dit is eweneens oudmodies om as gemeente die 12 Artikels in geloof te bely, omdat die mites van ʼn maagdelike geboorte en liggaamlike opstanding uit die dood nie in die denke van die natuurlike mens inpas nie. Dis trouens bo-natuurlik! Die gevolg is ʼn Skrifverwyderde ortodoksie en gepaardgaande daarmee ook die gevolglike Skrifverwyderde ortopraksie wat uitmond in Skrifverwyderde besluite in gereformeerde kerkvergaderings. Ortodoksie en ortopraksie is soos die twee vlerke van ʼn voël; as jy met die een vlerk peuter is die ander op sy eie, nie in staat om die voël langer in die lug te hou nie. Dan kry jy in gereformeerde kringe dinge soos buitengewoon Skrifvreemde charismatiese strominge, vreemde sienings oor die doop en doopvieringe; duisende kerse wat in kerkgeboue tydens eredienste moet brand om die regte goddelike atmosfeer te skep vir ware aanbidding en ʼn ware ontmoeting met die lewende God van die kerk. Dit gebeur veral tydens nagmaalsgeleenthede binne ringe, klassisse, streekssinodes of algemene vergaderings (sinodes), waar emosie in plaas van denke moeilike besluite deur die drif moet dra. Die honderde kerse en dowwelig-musiek wat atmosfeer moet skep kan moontlik, gedeeltelik daaraan toegeskryf word dat ons in gereformeerde kerke soms die Evangelie so abstrak maak dat mense moeilik verstaan wat ons preek. Ons moet maar hand in eie boesem steek want abstrakte Woordverkondiging veroorsaak onder meer vreemde belewenis praktyke. Ortodoksie en ortopraksie moet albei aan die breë en eenvoudig verstaanbare boodskap van die hele Bybel gekoppel bly. Waar dít ontbreek land ons nie net in vreemde strominge nie, maar uiteindelik ook buite die stroom van die Christendom.

6. Buite die stroom van die Christendom

Die kerk van die eeue het sekere Skrif-lyne waarbinne ʼn groepering “kerk” genoem kan word. Wie buite hierdie Skrif-lyne beweeg en die mense so leer, is nie langer “kerk” nie, maar “kultus”. Christelike kultusse is byvoorbeeld groeperinge wat die Drie-Eenheid, of die Godheid van Christus, of die Godheid van die Heilige Gees, verwerp, wat sonde in ʼn mens bloot reduseer tot een of ander psigologiese samestelling van gene en DNS, wat verlossing deur die bloed van die enigste Middelaar, Jesus Christus en psigoterapie as sinonieme beskou, wat ʼn dankbaarheidslewe van gee relativeer tot iets wat jy slegs binne jou eie etniese groep beoefen. Dis ʼn kultus.

Wie die skopus van die Skrif aantas haal homself leerstellig uit die kerk van Christus omdat sy kerk op die Skrif gegrond en gebou is. Daar is heelwat skopus-belydenisse in die Bybel soos byvoorbeeld opgesom in die 12 Artikels. Matteus 16:13-18 gee ʼn voorbeeld van een van hulle waarsonder niemand homself deel van Christus se kerk op aarde kan noem nie. Die vraag is dus of ons nog van kerk kan praat waar groeperinge of waar kerklike vergaderings die skopus-waarhede van die Skrif doelbewus en volhardend bly ontken. ʼn Kultus is die resultaat van sinkretisme waar die benaming kerk nie meer geld nie, al word kerklike taal en selfs Christus se Naam nog daar gebruik (Matt 7:22). Metafories beteken sinkretisme dat ʼn groep mense deur ʼn rivier swem en anderkant uitklim. Die rivier sit dan nog aan hulle almal vas want hulle is rivier-nat. Maar omdat hulle uitgeklim het, is hulle nie meer in die rivier nie. Hulle praat dalk nog rivier-taal maar is nie meer in die rivier nie. Hulle het nog Bybelse gewoontes en – gebruike, maar is nie meer in die Bybel nie. En wie die Bybel agterlaat laat ook die kerk agter en word ʼn sinkretistiese kultus. Christus se kerk is ʼn Skrif-skopus-belydeniskerk (Matt 16), of te wel ʼn Skrif-skopus-ortodoksie en – ortopraksie (1Tim 4), ongeag die naam van die denominasie.

7. Die luisterende kerk en sy vreemde gereformeerdheid

So ʼn dekade of twee gelede (rondom 2004-05) het die gedagte van ʼn luisterseisoen in sommige gereformeerde kringe in Suid-Afrika posgevat, ʼn mooi gedagte wat verdraagsaamheid en nederigheid as onderbou vertoon. Onder hierdie mooi rok steek daar egter ʼn onderrok uit; een van leerdwaling wat verdra moet word omdat die kerk nie meer weet wat die waarheid is, of hoe dit vertolk moet word nie. Teoloë en lidmate wat die bestaan van die duiwel ontken, die maagdelike geboorte van Christus en sy fisiek historiese opstanding uit die dood loën, asook hulle wat ʼn buitebybelse etiek oor homoseksuele verhoudings voorstaan, moet gehoor en verstaan word, en nie meer onder leertug geplaas word nie, want ons beskik nie (meer) oor die volle en absolute waarheid rondom hierdie en ander sake nie. Die waarheid lê van nou af iewers tussen ons, sodat ons deesdae by mekaar moet hoor wat waarheid eintlik is, iets wat ons voorgeslagte waarskynlik gemis het – so asof hulle nie ook belese was en dit wat hulle geweet het, by mekaar geleer het nie. Ons situasie is dus baie uniek, wat eintlik nie waar is nie. Mense het verander en daarom is die waarheid nie meer so eenvoudig uitspelbaar soos in die eeue wat verby is nie. Ook dit is nie waar nie want sedert die skepping het niks ooit aan snelle verandering ontsnap nie. Die waarheid is nie eenvoudig nie en staan nie langer in eenvoudige taal in die Bybel opgeteken nie. Dit lê eerder iewers opgeteken in ons as post-moderne generasies se denke, gereed om gedeel en geopenbaar te word. Dit is die seisoen van luister na mekaar! Verborge waarhede wag iewers tussen ons, wag om ontdek te word. Die vraag is natuurlik na wie ons nou eintlik moet luister en of almal se menings gelyke gewig dra. En word daar regtig ook nog enigsins geluister na die kerk van die eeue se belydenisse, of is daardie belydenis nie meer ons gemeenskaplike samebindende belydenisse nie? Is ons in die luisterseisoen nie dalk besig om onsself stelselmatig van die Sola Scriptura kerk van die eeue los te maak nie, en dit in die hoop om vorentoe te beweeg in ʼn nuwe bedeling? Binne hierdie vreemde gereformeerdheid bly gewone logika natuurlik ook in die slag, want jy kan op ʼn swaai nie verder vorentoe swaai as wat jy bereid is om ook agtertoe te swaai nie. Die luisterseisoen is dus besig om môre te verloor in sy strewe om gister te ignoreer.

8. Net ook iets oor die ontluikende kerk

Kerkvervreemding is die gevolg van swak gereformeerde ortodoksie en ʼn ewe swak gereformeerde ortopraksie. Dit dwing ons om binne die gereformeerde tradisie altyd hand in eie boesem te steek. Ons strakheid het kerklosheid en uiteindelik ook kerkloosheid tot gevolg. Mense is nog gelowig maar nie meer kerklik nie, praat nie eers van gereformeerd-kerklik nie! Die kontemporêre ontluikende kerk het daarom ten doel om diesulkes weer tot aanbidding te organiseer, maar nie langer binne bestaande kerklike strukture nie. Eredienste word byvoorbeeld iewers in winkelsentra se “pubs” gehou en nie slegs in kerkgebou nie. Dis ʼn gawe idee. Jesus sou waarskynlik ook daaraan deel wou hê. Sy lering was immers net so dikwels in informele plekke as in die tempel of sinagoges. Opkomende kerke behoort hulleself egter nie van bestaande kerke los te maak nie. Dit sou net bydra tot ʼn verdere versnippering van denominasies en die uiteindelike verwarring wat daarmee gepaard gaan. Opkomende gereformeerde gemeentes met hulle nuwe, vars opkomende eredienste behoort as bedieningsarm van bestaande formele gemeentes te funksioneer, en wel op só ʼn wyse dat hierdie ontluikende “kerk” se werk met volmag en vertroue (ook volmag oor eie geldsake) aan hulle gedelegeer word. In so ʼn geval word dit dan nie maar net nog ʼn stuk Vreemde Gereformeerdheid in ons midde nie.

TG Mahne – 10 November 2020.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui