Vies, verward en oneerlik. Regtig???

Bernhard Ficker het die volgende brief (300 woorde) aan Rapport gestuur vir plasing op 23 Augustus 2020, maar dit is nie geplaas nie. (Hy het ook ’n verkorte brief van 200 woorde gestuur.)

Vir meer agtergrond hieroor, kyk Debat oor evolusie in Rapport 2020.

**********

Vies, verward en oneerlik. Regtig???

Deur Bernhard Ficker

23 Augustus 2020

Jurie van den Heever verwys (16.08) na diegene wat in Bybelse Skeppingsleer glo as “vies, oneerlik, bang, en ’n groepie onvergenoegde en verwarde siele wat met hul naïewe wolhaarstories willens en wetens die wetenskapsbeginsels ignoreer”. George Claassen skryf (02.08) oor hulle as ‘onkundig, kwaksalvery, onsin en perdedrolle’. Filmalter daarenteen, maak geen onsmaaklike verwysings nie.

‘n Soortgelyke evolusie-debat waarin bogenoemde twee akademici ook gif gespoeg het, het gelei tot Leopold Scholtz se skrywe “Oop gesprek te min in Suid-Afrika aanwesig” (Die Burger 19/1/2007). Met verwysing na Jurie en George se skrywes, meld Scholtz “Dit wemel van verwyte en verdagmaking. Selfs die bydraes van sekere akademici, van wie ’n mens beter verwag, word gebou op loutere sarkasme pleks van die oop gesprek”. Vanjaar duur hul tirade voort. Is ’n oop gesprek oor evolusie dan onmoontlik?

Evolusionis Steven Weinberg het gesê “Anything that we as scientists can do to weaken the hold of religion should be done and may in the end be our greatest contribution to civilization”. Is dit wat Jurie en George motiveer?

Jurie is verkeerd as hy sê kreasionisme, of skeppingsleer, het in die VSA ontstaan? Die insiggewende webblad www.glodiebybel.co.za wat bedryf word deur behoudende gereformeerde teoloë en lidmate, bevestig dat skeppingsleer reg deur die eeue en tot onlangs nog ’n hoeksteen van alle gereformeerde kerke was/is. Hul boek, Die Trojaanse Perd in die NG Kerk – die Kanker van Evolusie en Liberalisme wys hoe makro-evolusieleer die NGK ingesluip het deur middel van liberale teoloe.

Jurie se verwysing na Kakamas perskes is ’n voorbeeld mikro-evolusie. Hy behoort te weet dat Kreasioniste voorstanders is van mikro-evolusie, maar nie van makro-evolusie wat op ekstrapolering baseer is en nie aan wetenskaplike kriteria voldoen nie. Die Bybel is immers die eerste boek oor evolusieleer en konstateer dat elk sal “na sy soort voortbring”, wat mikro-evolusie bevestig.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui