Skepper van hemel, aarde verhewe bo skepsels

Kyk ook:

Skepper van hemel, aarde verhewe bo skepsels

Volksblad, 2011-04-02

“Sommer lekker die bliksem in” is nie die woorde nie (“Hoe slaap dominee dan?”, By, 26 Maart).

Sakkie Spangenberg lag oor sy sogenaamde omstrede opstokery, maar voel nie verantwoordelik vir die onnoembare skade wat hy aan jong gelowiges en swakkeres doen deur hul geloof te takel nie.

Spangenberg kan ’n kenner van die Ou Testament wees, maar hy ken nóg die Ou nóg die Nuwe Testament, en hy glo nie aan die kernaspekte daarvan nie.

Aangesien Spangenberg die Bybel verwerp en daarom nie in Jesus of in God kan glo nie, sou hy homself seker as ’n “gewese” Christen beskou. Die Christen- gelowige beskou die Bybel as die hoeksteen van sy geloof. Daaruit vloei gebed, geloof, kontak met God, ervaring van God se goedheid en wonderwerke in die hedendaagse eeu.

Dan ontstaan dié vraag dadelik: Waarom teiken hy net die Christelike geloof, en nie die Moslems, Boeddhiste en sovele ander gelowe nie? Dit lyk vir my asof hy ’n totaal foutiewe godsbegrip het. Ek lees sy aansprake oor God se toorn, sy woede en hoe Hy mense verdoem, maar daar is geen woord oor Sy liefde nie.

Waar in die Bybel staan dit dat God diere minder ag as mense? Hy het almal uit die sondvloed gered, en daar is talle voorbeelde van diere wat deur die mens versorg en gekoester moet word in opdrag van die Skepper. Of sou Spangenberg reken diere behoort ook te kan skrywe en somme maak?

God het Spangenberg se brein geskape, dieselfde brein waarmee hy die godheid nou probeer verneder. Wie sou Spangenberg dink is die belangrikste: die Skepper van die hemel en aarde, of sy skepsels?

Die mens verstaan glad nie God se wondere nie, en die wetenskap se ontdekkings is aan te prys en bewonderenswaardig. Die wetenskap is myns insiens nie in konflik met geloof nie. Inteendeel, dit werk vir my aanvullend.

Wat die staat se gelykstelling van die Christendom met ander godsdienste betref: Ons moet mos God meer gehoorsaam wees as die mense, sê die apostels. Dit is ’n toets vir ’n individu om by sy geloof te staan te midde van soveel uiteenlopende afgode. God beveel ons om aan die owerhede gehoorsaam te wees, maar vas te staan in ons eie geloof.

Ek is hartlik sat vir die verdagmakery van die Christengeloof en die baie publisiteit wat gegee word aan die menings van “slim- mes” wat hulself nie voor hul Skepper kan verneder nie. Ek hoop dit is nou die einde daarvan.

MARTHIE DRIESSEN, Kommetjie

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui