Die Bybel sê: een man, een vrou

Kyk ook:

Die volgende artikel het in Kerkbode van 22 Januarie 2016 verskyn.

Ds Piet Otto het ook ’n baie duidelike preek in sy gemeente gelewer kort na die Algemene Sinode se besluit in Oktober 2015 waarin hy duidelik sy standpunt gestel het. Die preek het plaasgevind voor die kerkraad vergader het.

***********

Die Bybel sê: een man, een vrou

Oor die saak van selfdegeslagverhoudinge is die kerk diep verdeeld. Baie reken die verdeeldheid is onomkeerbaar. Hulle is dalk reg. Dit sou egter ’n fout wees om te dink dat die verdeeldheid eksklusief handel oor die goed- of afkeur van homoseksuele gedrag. Die rede vir die verdeeldheid lê veel dieper en is meer fundamenteel. Dit handel oor Skrifgesag en Skrifverstaan. Wie dit nie herken nie, sal voortdurend die simptome behandel, terwyl die siekte ongehinderd en vernietigend in die hart van die kerk voortwoed.

Byna saam met die koms van die Nuwe Suid-Afrika het onder meer die “rasionalisme” – die ou teologiese vyand van die gereformeerde leer – dit na eeue uiteindelik reg gekry om, saam met sy moderne ateïstiese filosofie-boetie, “teksdekonstruksie”, byna ongesiens by die agterdeur van die kerk in te sluip. Hulle het hulleself op ’n fatsoenlike wyse staan gemaak in die hart en verstand van ons teologiese fakulteite, ons kerkvergaderinge, ons preekstoele, ons kerklike tydskrifte, ons jong teologiestudente asook talle goedgelowige lidmate.

Nou is die Woord van God nie meer die bril van die geloof waardeur daar sin van die werklikheid gemaak word nie. Die menslike rede is nou die bril waardeur ’n gerespekteerde maar voorwetenskaplike ge-Skrif krities ontleed word ten einde sy “betroubaarheid, bruikbaarheid en toepaslikheid” vir die moderne mense vas te stel.

Die Skrif is nie meer God se selfopenbaring nie. Geïnformeer vanuit die onderskeie wetenskapvelde, menslike ervaring en die filosofie word die Bybel gereduseer tot ’n historiese geskrif wat net mense se idees en getuienisse oor hulle God bevat. Daarom kan dit ook nie die toets van die tyd deurstaan nie: “Ons weet vandag beter as hulle wat die Bybel geskryf het” is nou die slagspreuk. Of soos met die afsluitingsbyeenkoms van die Algemene Sinode gesê is: “Die teks is die hele week gedekonstrueer en ons moet God anders leer verstaan.” Wie dit nie aanvaar nie en nie die menslike rede tot hoogste norm bo die Skrif verhef nie is gewoon onwetenskaplik, oningelig, fundamentalisties, irrasioneel en daarom irrelevant.

Hierdie “nuwe” vertrekpunt noodsaak: ’n nuwe hermeneutiek; ’n nuwe Godsbegrip; dat menslike ervarings normatief gemaak word en dat etiese standaarde stelselmatig hierby moet aanpas. Uiteindelik bly net ’n “liefde” oor wat nie meer die sonde bedek of “wegsluit” nie, maar dit openlik in die kerk verwelkom. Dit bring onder andere leraars se legitimasie-eed en bevestiging in die gedrang as hulle verklaar: Hulle aanvaar die kerklike belydenisse omdat dit ooreenkom met die Woord van God en beloof dat hulle die Ou en Nuwe Testament as die enigste, onfeilbare Woord van God aanvaar, aangesien dit die volkome leer van verlossing is en beloof dat hulle alle leringe wat daarmee in stryd is sal verwerp.

Ongeag enige argument tot die teendeel, is dit onmoontlik om die Bybel gelowig te lees en nie te verstaan nie: Die huwelik is ’n skeppingsordening van God. Die Bybel ken slegs die huwelik tussen ’n man en ’n vrou. God self verbind ’n man aan sy vrou in die huwelik (nie die kerk nie). Alle vorme van seksuele omgang buite dié huwelik is ontoelaatbaar en alle vorme van homoseksuele gedrag in die Bybel word negatief beoordeel. Hier is geen sprake van beter uitlegkunde moontlik nie, maar eerder van onaanvaarbare inlegkunde. Dit is ten beste “onverant-Woord-like” Skrifuitleg en ten slegste leer-dwaling.

Daar word ook voortdurend verwys na die kerk se sondes en liefdeloosheid van die verlede en dat ons in elk geval gereeld ons “Bybelse” standpunte wysig soos met die dra van hoede deur vroue, die afwysing van apartheid, die feit dat ons nie meer mense stenig nie ensovoorts. Hierdie tipe “voorbeelde” word gebruik om die aanvaarding van homoseksualiteit binne die kerk te regverdig as net nog een van hierdie “noodsaaklike Bybelse regstellings”. Eerstens: Alhoewel alle kerklike sonde met trane en berou betreur word, verkondig ons nie ’n vol maakte kerk nie maar ’n volmaakte Verlosser. Tweedens: Liefde in die Bybel is ’n heilige liefde op grond waar van die sondaar hom/haar moet bekeer. Gelowiges kan hulle nooit op die liefde beroep ten einde sonde aanvaarbaar te maak nie. Derdens: Soos duidelik gestel word in NGB Art 25 is die seremoniële wet in Christus vervul en daarom stenig ons nie meer mense nie. Ensovoorts.

Ten laaste: Die Bybel mag ’n “ou” en “voorwetenskaplike” Boek wees, maar die God van die Bybel is nie verouderd nie. Dit is Hy wat in die Bybel “aan die Woord” kom. Hy is steeds meer relevant as die jongste nuusberig. Hy is immers gister, vandag en tot in ewigheid dieselfde. So sê die Bybel en so glo die kerk. Die selfdegeslagverhoudinge-gesprek kan alleen sinvol gevoer word as dit gegrond word op die beginsel dat “Die Skrif alleen” (sola scriptura) God se Woord is en dat dit die hoogste/finale norm (normata normans) in alle beredeneringe is. Mag dit weer so wees.

  • Ds Piet Otto is predikant van die NG gemeente Griekwastad en was voorsitter van die mees onlangse sinode van die NG Kerk in Noord-Kaapland.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui