Homoseksualiteit – die ander kant

Kyk ook:

Die voorstaanders van permanente selfdegeslag verbintenisse juig na die algemene sinode se 54% vs 46% besluit. Diegene wie ’n ander oortuiging het oor die saak is huidig egter baie hartseer. Diegene wie die pro-standpunt handhaaf is oortuig dat die liefde van Christus hier seëvier. Diegene wie hierteen is voel dat God se Woord verdraai word en dat God se eer hier ernstig aangetas word.

Op die oog af klink albei partye se uitgangspunte goed. Die vraag is wie is reg. Sekerlik kan albei standpunte rondom permanente gay-verbintenisse nie reg wees nie. Was ons tot so 15 jaar gelede hier plaaslik – en dalk bietjie langer oorsee – heeltemal in die duister oor die Skrif se spreke oor gay verbintenisse? Sal die twee standpunte ooit versoen kan word?

Ons is in Suid-Afrika nogal trots daarop dat ons ’n demokratiese land is met ’n vrye pers, tog het ekself, en ek hoor dit ook by andere, net ’n toe deur by die kerklike media en taakspanne gekry om die anti-standpunt te laat hoor. Indien jy dus wel hierdie stuk wel in Vrydagnuus lees, is ek baie dankbaar daarvoor. Ek wil dan graag die ander kant van die siening oor gay-verbintenisse belig.

Eerstens ’n paar gedagtes rondom Skrifvertolking. By die Algemene Sinode van die NG Kerk in 1986 is die besluit rondom homoseksualiteit feitlik eenparig goedgekeur. Dit was die bevestiging van die duidelike opdrag in die Skrif dat homoseksuele dade buite die wil van God val. Tydens 1999 se Wes-Kaapse sinode van die NG Kerk het die voorstel op die tafel gekom dat die kerk uit ’n nuwe hoek sal kyk na die Skrifgedeeltes wat seksuele omgang tussen persone van dieselfde geslag verbied. Toe, en daarna, het die volgende voorstelle op die tafel gekom:

Levitikus 18:22 en 20:13 – Daar is beweer dat dit hier nie soseer oor homoseksuele dade gaan nie, maar wel oor die afwysing van tempelprostitusie en afgodediens. Die geforseerde Skrifuitleg is afgewys in die lig daarvan dat ons hier nie net met moontlike kultiese gebruike te make het nie, maar ook met algemene etiese riglyne.

Romeine 1:26 en 27 – Hier word beweer dat Paulus net teen verkeerde vorme van homoseksualiteit gekant is. Aangaande Paulus se woorde dat homoseksuele dade teennatuurlik is, is die verweer dat liefde vir dieselfde geslag natuurlik is vir die homoseksuele persoon. Die woord natuurlik verwys hier egter na God se skeppingsorde waar die natuurlike geslagtelike verkeer die tussen ’n man en ’n vrou is.

1 Korintiërs 6:9 en 1 Timoteus 1:10 – Hier is die argument dat die Griekse woord hier net beteken “mans wat rondslaap”, daar sou dus nie ’n homoseksuele konnotasie wees nie. Dis egter presies dieselfde woord wat die Griekse vertaling van die Ou Testament gebruik om homoseksuele dade mee aan te dui.

Die suggestie dat Paulus nie kennis sou dra van “gesonde homoseksuele verhoudinge” onder ander kultuurgroepe in die destydse wêreld, is ook as foutief bewys. Paulus het immers van Tarsus gekom – ’n heidense stad waar ’n klomp kulture gemeng het en waar die Griekse kultuur sy stempel afgedruk het.

Israel se kultuur van sedes het homoseksuele verhoudings totaal uitgesluit. Dit was die duidelike uitvoering van die Here se geopenbaarde wil. Indien die nuwe eksegetiese teorieë waar moes wees, nl. dat homoseksuele verhoudinge net by die kultusdiens verbode was, dan moes dit mos algemeen en aanvaar gewees het in die Joodse samelewing. Hoekom was dit nie so nie? Hoekom was daar ook nie in die vroeë Christelike kerk nie ’n aanvaarding van gay verbintenisse nie? Die antwoord is duidelik – gelowiges het geen twyfel daaroor gehad dat dit teen God se wil is nie.

Tweedens – die gebruik van wetenskaplike bevindinge. Daar word ook toenemend deur teoloë, wie voorstaanders is van gay verbintenisse, na die wetenskap verwys. Die hartseer van die saak is dat daar selektief na uitsprake binne ’n vakdissipline gekyk word. Daar word ook nie aandag aan die volle spektrum van wetenskappe gekyk nie. Kom ons kyk net kortliks na die volgende :

  • Dr. Francis Collins, leier van die ‘Human Genome Project’, het na hul navorsing gesê: “An area of particular strong public interest is the genetic basis of homosexuality. Evidence from twin studies does in fact support the conclusion that heritable factors play a role in male sexuality. However, the likelihood that the identical twin of a homosexual male will also be gay is about 20 percent…” (my vetdruk)
  • Dr. Dean Hamer, wie bekend is vir sy navorsing oor ’n moontlike gay-geen, het as antwoord op die vraag of homoseksualiteit slegs ’n biologiese oorsprong het, gesê: “Absolutely not. From twin studies, we already know that half or more of the variability in sexual orientation is not inherited. Our studies try to pinpoint the genetic factors…not negate the psychosocial factors.”
  • Die ‘American Psychological Association’ gee as antwoord op die vraag wat ’n homoseksuele of biseksuele oriëntasie veroorsaak: “There is no consensus among scientists about the exact reasons that an individual develops a heterosexual, bisexual, gay or lesbian orientation… Many think that nature and nurture both play complex roles.”

Uit die hoek van die fisiese en geesteswetenskappe kom die boodskap dat “nature and nurture” – ons gene en ons grootword omstandighede – ’n komplekse rol speel in wat ons uiteindelike geslagsgerigtheid as volwassenes sal wees. Elke individu se geslagsgerigtheid word dus deur ’n komplekse aantal faktore beïnvloed. Deels geneties, maar ook deels deur sake soos die aard van verhoudinge met vader/moeder, die geslagsidentiteit waarmee ’n kind grootword en seksuele ervaringe tydens die grootwordjare.

Die Algemene Sinode sê in sy besluit oor dieselfde geslag verhoudinge: “In ooreenstemming met die NGB Art 2 behoort die besondere en algemene openbaring gebruik te word, dws die beste huidige menswetenskaplike bevindings.” (Dis die laaste sin van punt 8). Hierdie besluit van die Algemene Sinode is weliswaar belangrike woorde, maar in die verslag van die taakspan oor dieselfde geslag verhoudinge, word die volle waarheid van wetenskaplike bevindinge ignoreer. Die uitgangspunt van die taakspan rondom dieselfde geslag verhoudinge, is skynbaar dat mense geneties gepredisponeerd is tot hul onderskeie geslagsoriëntasie. ’n Kerkraad van Stellenbosch sê bv. in die Sinode se stukke dat mense se seksuele oriëntasie ’n “gawe uit die Skepper se hand” is. ’n Teoloog van Stellenbosch het ‘tyd gelede in die “Burger” geskryf dis mense se “Godgegewe identiteit”. Hierdie stellings strook nie met die waarheid nie – vir navolgers van Hom Wie die Waarheid is en gesê het jou ja moet jou ja wees en jou nee moet jou nee wees – is dit nogal baie erg.

Ten Slotte. Wanneer daar nie sonder enige vooropgestelde menings na die volle waarheid gekyk word nie – die volle waarheid van die Woord en alle wetenskaplike bevindinge oor die volle spektrum van die veld van die wetenskap – word die leuen gedien. Dit verhinder enersyds dat ons as mense/gelowiges by mekaar uitkom, en andersyds dat ons ons verantwoordelikheid as mense kan nakom. Deur volstruispolitiek met die volle waarheid te speel, word onder andere die ouer se uiters belangrike taak in die opvoedingsproses buite spel geplaas. Net soos die Waarheid – Jesus – ons vrymaak, so maak die volle waarheid ons ook vry. Net deur hierdie beginsel te volg sal daar klarigheid en vrede oor hierdie saak kan kom.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui