Kerkleiers saai verwarring

Kyk ook:

Maandag 10 November 2014 6:10 nm.

Prof. Nelus Niemandt se “versigtige optimisme” oor Belhar (06/11) is misplaas – nie omdat die ingewikkelde referendum wat tans in die NG Kerk aan die orde is dalk teen sy wens gaan afloop nie, maar omdat hy gaan verloor selfs as hy wen.

Die rede is dat sy oorwinning op verwarring en misleiding sal berus terwyl die een ding wat in die slag bly, die gereformeerde kerkbeskouing is wat bepaal dat elke gemeente in werklikheid kerk is en dat die Kerk van Christus één is, ongeag of dit in een struktuur georganiseer is.

Prof. Niemandt wek verwarring as hy sê “lidmate moet onthou dat die NG Kerk reeds die belydenis van Belhar aanvaar het”. Dit is duidelik daarop gemik om lidmate te laat instem tot die wysiging van Artikel 1, want gedane sake het tog nie keer nie.

Maar as dit so eenvoudig was, waarom die ingewikkelde proses? Feit is dat die Algemene Sinode, wat nie eens ’n sinode van gemeentes (sinodus plena) is nie, maar ’n sinode van sinodes (sinodus contracta), besluit het om die Belharbelydenis in ons belydenisgrondslag te integreer – juis by wyse van die proses wat tans gevolg word. Elke lidmaat se deelname is dus juis van die grootste belang – dit is nog geen gedane saak nie.

Voorts is dit misleidend om te sê “lidmate is verdwaal tussen kerkeenheid en die kerkorde” en dat dit “nie die geval (is) dat die VGK ons dwing om dit te doen nie”. Wil prof. Niemandt beweer dat die VGK nie die NGK se aanvaarding van Belhar as voorwaarde vir strukturele eenheid gestel het nie? En dat dit die rede is waarom hy nou Artikel 1 gewysig wil sien, al het die versoek van NG lidmate self gekom? Om voor te gee dat die Belharbelydenis self, die insluiting daarvan in die kerkorde en die huidige pogings tot kerkeenheid nie ten diepste met mekaar verweef is nie, is eenvoudig nie waar nie.

Maar wat is dit wat prof. Niemandt “versigtig optimisties” stem? Die feit dat ’n sinode die nuwe belydenisgrondslag met 73% aanvaar het, terwyl net 46% van die sinode se konstituerende gemeentes dit aanvaar het?

Of dat dié 37 gemeentes nog altyd deur ander gemeentes in die res van die land tot onder ’n derdeminderheid gedruk kan word? Praat ons politiek of praat ons oor die kerk van Christus se heilige roeping om sy geloof te bely?

“Dit is interessant dat lidmate nie die teologiese integriteit van die (Belhar-) belydenis bevraagteken nie,” sê prof. Niemandt. Interessanter is egter dat hulle dit, ten spyte van die ywer waarmee teoloë dit aanbied, ook nie ywerig omhels nie. Dit is immers wat uit die Oostelike sinode en gemeentes se stemmings blyk.

Feit is dat daar ’n gaping tussen lidmate en hul teologiese leiers ingetree het en dat dit deur uitsprake soos prof. Niemandt s’n net vergroot word. Lidmate hoor ook gedurig dat die Belhar-dokument nie onbybels is nie – maar dit is die meeste van oom Solly Osrovech se skrywes ook nie en hulle word nie tot belydenisse verhef nie.

Baie lidmate vrees dat hul kerkleiers maar weer, soos met apartheid, die ideologie van die dag probeer bevorder. Hulle is lugtig om bloot op sterkte van kerkleiers se teologiese aanbeveling iets te onderskryf waarmee hulle, selfs net intuïtief, nie gemaklik is nie – Hulle is reg.

Carel Boshoff (ouderling)

NG gemeente Orania

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui