Om standpunt in te neem vir God

Kyk ook:

Ons hoor al hoe meer van Christene wat gedagvaar word weens hulle geloofsoortuigings wat hulle daartoe dwing om te “diskrimineer” teen homoseksuele mense:

  • Jack Phillips wou nie vir ’n gaypaartjie ’n troukoek bak nie is hof toe gesleep. Ná baie maande het die hooggeregshof in Amerika egter in 2018 besluit dat hy dit kon doen. Kyk hier, hier en hier.
  • In 2008 het Moreletaparkgemeente ’n hofsaak verloor toe hulle Johan Strydom afgedank het omdat hy homoseksueel was. Kyk Gay wen teen kerk.
  • Tans het ’n lesbiese paartjie, Megan Watling en Sasha-Lee Heekes, die trouplek, Beloftebos, se eienaars hof toe gesleep omdat hulle nie wil hê dat ’n gaypaartjie daar trou nie. Kyk hier, hier en hier.

Wat moet ’n Christen in so ’n geval doen? Hier is glad nie maklike antwoorde nie en elke geval is anders, dus is daar waarskynlik nie vaste reëls wat gevolg kan word nie.

In die Eenjaarbybel word die volgende oordenking gegee by Daniël 3 en dit het my aan hierdie kwessie laat dink:

Oordenking: Daniël se drie vriende uit die brandende oond gered (Daniël 3:5):

Die drie jong mans het nog net een kans gehad. Hulle kon agt redes aanvoer waarom hulle voor die beeld sou buig en daardeur hulle eie lewens sou red:

  1. Ons sal buig, maar ons sal nie die afgod aanbid nie.
  2. Ons sal nie afgodsaanbidders word nie, maar ons sal hom maar hierdie een keer aanbid, en God daarna vra om ons te vergewe.
  3. Die koning se mag is absoluut en ons móét aan hom gehoorsaam wees – die Here sal dit tog verstaan.
  4. Die koning het ons aangestel, en ons is dit aan hom verskuldig.
  5. Ons is tog in ’n vreemde land, en die Here sal verstaan dat ons gehoorsaam moet wees aan die gebruike van hierdie land.
  6. Ons voorouers het afgode in die tempel van God ingebring. Wat ons nou moet doen, is nie naastenby so erg nie!
  7. Ons benadeel tog niemand nie.
  8. As ons nou doodgemaak word en ons plekke word deur heidene ingeneem, sal hulle beslis niks doen om ons volk wat in ballingskap is, tehelp nie.

Hierdie verskonings klink miskien aan die begin logies en geldig, maar hulle is in werklikheid baie gevaarlik. As hulle voor die beeld sou buig, sou dit ’n oortreding wees van die bevel van God in Eksodus 20:3 gee: “Jy mag nie nog ander gode buiten My aanbid nie.” Hulle sou ook daardeur verseker dat hulle nooit weer getuies vir God sou kon wees nie. Hulle sou nooit weer kon sê dat hulle God magtiger as alle ander gode is nie.

Watter verskoning voer jy aan wanneer jy nie standpunt inneem vir God nie?

Mag God ons wysheid gee en mag ons soos Sadrag, Mesag en Abednego wees en nie soos Petrus nie.

2 thoughts on “Om standpunt in te neem vir God”

  1. My gevoel: In enige saak moet jy terugkeer na jou kern/boublok/fondasie want dit sal/moet altyd jou uitgangspunt wees. Oppas vir die woorde ‘ek is ’n christen’. ’n Christen se uitgangspunt kan niks anders wees as God nie, die Woord/Bybel. Enige ander fokus as ‘christen’ en Gods woord is dat ons dwaal en nie kennis van die Woord en mag het nie. Mat. 12:24, Die 3 vriende het Gods mag geken.

  2. Ek stem met jou saam Jurgens as jy sê ons uitgangspunt moet nie wees: Ek is ’n Christen nie. Die Woord van die Here moet ons uitgangspunt wees.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui