Hulle het nié brief geteken, sê 7 van UP

*******

Hulle het nié brief geteken, sê 7 van UP | Beeld

Beeld, 27 Jun 2005

Johannes de Villiers

Studente distansieer hulle van ‘dwaalleer’-kritiek

Kaapstad. —Minstens sewe van die Tukkie-teologiestudente wie se naam onderaan ’n protesbrief oor hul dosente se “dwaalleer” verskyn, ontken dat hulle dié brief onderteken het.

Dié sewe Presbiteriaanse studente ontken ook dat hulle ooit die dosente wat in die protesbrief beskuldig word, enige van die “dwalinge” hoor verkondig het waarvan hulle beskuldig word.

In die brief word beweer ’n aantal vooraanstaande teoloë, waaronder drie dosente aan die Universiteit van Pretoria se fakulteit teologie, erken nie Jesus se opstanding uit die dood as historiese waarheid nie.

Altesame 46 studente se naam verskyn onderaan die brief met die titel “Status confessionis aangaande Jesus se opstanding”.

Sewe van dié studente, mnre. John Mokoena, Christopher Chabani, Lentekile Mashoko, Wonke Buga, Gabriel Nkuna, Vuvolwethu Mbaru en me. Patricia Mogale het in ’n brief aan die fakulteit geskryf hulle het nooit die brief onderteken nie.

“Ons glo ons is deur van ons studentekollegas in dié saak mislei en ons wil ons distansieer van die kritiek teen die fakulteit se personeel wat in dié brief uitgespreek word.”

Intussen het die universiteit ’n verklaring uitgereik waarin hy sê van sy personeel se standpunte word verdraai sodat dit klink asof hulle dwaalleer verkondig. “Op dié wyse word op ’n gruwelike en onverdiende wyse skade berokken aan die reputasie van individue wat oor baie jare heen as kerkmense en dosente die gemeenskap gedien het.

“As individuele lidmate van kerklike denominasies voel dat predikante of dosente binne hul kerkverband hulle aan ’n dwaalleer skuldig maak, behoort daar binne die grense van kerklike tug teen diegene opgetree te word.

“Petisies waar handtekeninge onder twyfelagtige omstandighede verkry word of heksejagprosesse waar ’n algemene verdagmakery plaasvind, is nie die aangewese wyse waarop debatte van dié aard behoort te geskied nie,” skryf prof. N.J. Grové, registrateur van die universiteit.

Kommentaar

Uit Opgestaan, bladsy 70:

John Mokoena spesifiek (wat voorsitter van die Presbiteriaanse studentevereniging was), was baie ingenome met die verklaring en het my nog op die rug geklop en sy vriende gaan roep om dit ook te teken. Teen laat die middag is die verklaring deur 36 studente onderteken wat dit self onder oë gehad het.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui