NG gemeente Rietfontein-Suid se standpunt oor SGV

Kyk ook:

Die volgende is NG gemeente Rietfontein-Suid se standpunt oor selfdegeslagverhoudinge.

**************

NG Gemeente Rietfontein-Suid se standpunt oor selfdegeslagverhoudinge

Inleidend:

Hierdie gemeente het waardering vir die sinode se siening met betrekking tot:

  • die menswaardigheid van alle mense;
  • die ruimte dat gemeentes en leraars wel ’n eie (diskresionele) standpunt mag inneem en formuleer;
  • asook vir die feit dat die woord huwelik vir die verbintenis tussen een man en een vrou behou word.
  1. Die NG Gemeente Rietfontein-Suid distansieer hom egter van die Algemene Sinode se besluit wat selfdegeslagverhoudinge, op grond van ’n bepaalde interpretasie van die Skrif en ander oorwegings, regverdig. Ons beskou hierdie siening van die sinode as dwaalleer en vereenselwig ons hoegenaamd nie daarmee nie.
  2. Die NG Gemeente Rietfontein-Suid se standpunt oor selfdegeslagverhoudinge:
    1. Ons beskou die (christelike) huwelik as ’n lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou, wat Christus as Here erken.
    2. Ons glo dat die Skrif alle seksuele verhoudinge buite die huwelik verbied.
    3. Ons glo dat selfdegeslagverhoudinge teen God se wil is en as sonde beskou moet word.
    4. Ons glo dat daar vir persone wat in selfdegeslagverhoudinge leef – net soos vir enigeen wat enige ander vorm van sondige praktyke beoefen – vergifnis, bevryding, heling en oorwinning is, deur Christus.
    5. Ons glo dat persone wat in ’n selfdegeslagverhouding volhard, nie in ’n leierskapposisie (leraar, ouderling, diaken, dienswerker, bedieningsleier, omgeegroepleier, jeugleier en kategeet) in die gemeente kan dien nie.
    6. Ons sal as gemeente, met deernis in die Naam van Christus, persone wat in ’n selfdegeslagverhouding volhard omarm en bystaan op die pad van vergifnis, heling en oorwinning.
    7. In die lig van bogenoemde is die gemeente se fasiliteite ook nie beskikbaar vir die voltrekking van selfdegeslagverbintenisse nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui