NG gemeente Durbanville-Bergsig se standpunt oor SGV

Kyk ook:

Bergsig: Kerkraad se besluit oor selfdegeslagverhoudings

Die Kerkraad van Durbanville-Bergsig het tydens ’n vergadering op 16 November 2015, die volgende besluite rondom selfdegeslag verbintenisse geneem, met die eenheid van die kerk as ononderhandelbare uitgangspunt.

  1. Ons aanvaar nie die 2015 Algemene Sinode besluit oor Homoseksualiteit nie.
  2. Ons vereenselwig ons met die 2007 Algemene Sinode besluit oor Homoseksualiteit.
  3. Ons voeg ons steun by die appélaksie by wyse van ’n stem ten gunste van die appélaksie wat ingedien word teen die besluit van die Algemene Sinode van 2015.

Die Kerkraad het tydens ’n vergadering op 22 Augustus 2016, die volgende aanvaar as implikasies wat sy 2015 besluite oor selfdegeslagverbintenisse vir Bergsig inhou: 

  1. As lidmate van Bergsig sal ons heel eerste voor God gaan sit en ons eie oortuiging met Hom deurworstel. Ons het elkeen ons eie geskiedenis met hierdie saak en ons moet eerlik, opreg en met ’n leerbare gees voor God en Sy Woord gaan sit en dit met Hom uitmaak todat ons vrede het dat ons eendag voor Sy regterstoel sal kan staan met ’n skoon gewete.
  2. As liggaam van Christus roep Hy ons tot eenheid al verskil ons van mekaar oor hierdie saak. Ons kan slegs in eenheid leef as ons mekaar in liefde respekteer en fokus op dit waaroor ons saamstem, naamlik die Evangelie tot redding van almal, dissipelskap en liefde vir ons medemens.
  3. Bergsig sien nie burgerlike selfdegeslag verbintenisse as alternatief vir die huwelik nie.
  4. Predikante van die gemeente sal nie selfdegeslagverbintenisse bevestig nie, op grond van die Kerkraad se 2015 besluit.
  5. Homoseksuele predikante sal selibaat leef.
  6. Daar word nie van Gay gelowiges verwag om van seksuele oriëntasie te verander nie, maar hulle word net soos heteroseksuele lidmate ingesluit in God se liefde en hulle word op grond van hulle doop en geloof as lidmate van die kerk van Christus aanvaar, verwelkom en gekoester. Onder lidmaatskap word verstaan toegang tot die sakramente, toegang tot die ampte (ouderlinge en diakens) en onderworpenheid aan die kerklike tug.
  7. Ons aanvaar dat daar meningsverskil onder leraars en gemeentelede is oor die bevestiging van gay lidmate in selfdegeslag verbintenisse. Die 2007 besluite van die Algemene Sinode het ’n definitiewe terughoudendheid daarin om nie alle selfdegeslagverbintenisse as sonde te verklaar nie.  Die integriteit van leraars en lidmate word in goeie trou aanvaar ongeag hul oortuigings hieroor.  Bergsig sluit ook by hierdie terughoudendheid en respek aan.  Ons aanvaar dit so dat nie alle leraars en lidmate van die gemeente die besluite van die Algemene Sinode persoonlik aanvaar nie.  Net so aanvaar ons dit dat nie alle leraars en lidmate van die gemeente die Bergsig besluite insake selfdegeslagverbintenisse persoonlik aanvaar nie.
  8. Ons bevestig dat ons in ons standpunte steeds lojaal bly teenoor die Algemene Sinode en Bergsig Gemeente, en persoonlike verskille met Sinode of Gemeente konstruktief en met liefde sal hanteer, elkeen vanuit hom/haar self.

Die 21 November 2016 besluit was as volg: 

“In die lig van soveel meningsverskille en verskille in interpertasie van die Algemene Sinode se 2016 besluit insake selfdegeslag verbintenisse, besluit die Kerkraad om te volstaan by sy besluit van 22 Augustus 2016.

Die Kerkraad versoek die gemeente om te bly bid vir die NG Kerk in sy soeke na God se wil in hierdie saak”

Ons besef dat daar lidmate is wat hiermee kan verskil en selfs in die proses seergemaak is, daarom nooi die Bestuurspan sulke lidmate uit na een-tot-een gesprekke.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui