Gay besluit moontlik gestuit

Kyk ook:

Op Sondag 15 November 2015 het die artikel Gay-besluit gestuit, deur Jean Oosthuizen, in Rapport verskyn en op Maandag 16 November 2015 het die artikel NG Kerk besin weer oor gays ná appèlle in Beeld en Die Burger verskyn.

Die Rapport-artikel is baie misleidend. Die opskrif beweer dat die gay besluit reeds gestuit is, maar dit is nie waar nie. ’n Betroubare bron het die volgende oor die twee berigte geskryf:

Beeld en Rapport se berigte is albei in verskeie opsigte foutief: net voorbeeld te noem:

    • Tokkie [Johann Ernst] was nie sekondant van die besluit wat aanvaar is nie. Hy was saam met vier ander, die sekondante van Chris van Wyk se voorstel wat oorspronklik direk teenoor Andre Bartlett se voorstel gestaan het. Na fasilitering olv Frederik Marais het beide Chris van Wyk en Tokkie gat omgeswaai en ter vergadering gepleit dat almal vir Andre Bartlett se effens gewysigde besluit moes stem. Hulle het albei hul voorstel laat vaar en vir Andre se voorstel gestem. Die koerant is dus verkeerd as hulle sê Tokkie was die sekondant van Bartlett se voorstel.
    • Die koerant is ook verkeerd om te sê Tokkie het ’n appèl ingedien. Tokkie het tot nou toe beslis nie ’n appèl ingedien nie. Hy het bloot ’n brief geskrywe aan die predikante steunspan waarin hy sekere dinge gesê het wat deur die koerante totaal verkeerd vertolk is.
    • Die koerante is ook verkeerd om te sê dat die AS se besluite reeds opgeskort is weens appèl. Dit was deel van die Algemene Regskommissie se aanbevelings aan die ASM wat op een of ander wyse uitgelek het, maar die ASM vergader eers vandag [Maandag, 16 Nov 15] tot Woensdag. Daarna sal mens eers verseker weet wat besluit is en wat hulle met die aanbevelings gemaak het.

Pasop om nie alles te glo wat koerante skryf nie.

Hier is, saam met al die ander skandes wat die NG Kerk leierskap al gemaak het, weer ’n reuse verleentheid vir die NG Kerk.

Selfs al sou die gay besluit gestuit word, sal NG gemeentes ’n reuse fout maak indien hulle dink dat die geveg verby is. Hierdie is hopelik slegs die begin van die geveg om die NG Kerk te suiwer van dwalende leiers en kuratoriums, indien dit nog enigsins moontlik is.

************

Gay-besluit gestuit | Netwerk24

Deur Jean Oosthuizen

15 November 2015

Dr. Johann Ernst het die mosie tydens die sinode gesekondeer, maar nou van plan verander.

Die NG Kerk se geskiedkundige besluit om gay lidmate toe te laat om in dié kerk te trou, is nou weer uitgestel.

Dr. Gustav Claassen, algemene sekretaris, het aan Rapport bevestig daar is appèl aangeteken en die hele historiese besluit is in die weegskaal.

Dit is sover bekend die eerste keer dat ’n besluit van die algemene sinode op appèl geneem word, en dit sal hoog op die agenda wees wanneer die moderamen môre vergader. Die algemene sinode wat die appèl moet oorweeg se volgende vergadering is egter eers vir oor twee jaar belê.

Nóg ’n topkerkleier wat hom nie in die openbaar mag uitspreek nie, sê hulle is uiters gefrustreerd omdat die appèl nou die kerk terugplaas in die posisie wat dit was voor die besluit oor gays.

Predikante van die NG Kerk sal intussen ook nie verbintenisse tussen gay paartjies kan bevestig nie.

Ná die aanvanklike sinodebesluit dat gay lidmate nie meer selibaat hoef te wees nie en dat gay leraars beroep mag word, slaan sommige kerkleiers wat die sinodebesluit gedryf het nou bollemakiesie.

Dr. Johan Ernst, die vorige aktuarius van die algemene sinode, het die mosie in die sinode gesekondeer. As aktuarius was hy tot onlangs deel van die kerk se top-leierskap en die persoon wat die kerkreg moes vertolk.

Maar Ernst het nou klaarblyklik van plan verander en ’n skerp bewoorde brief aan sy kollegas gerig waarin hy uitvaar oor wat hy noem “die onregmatige beïnvloeding” wat daar in die sinode ten gunste van die besluit was.

Hy sê in die brief mense het in die sinode meermale hul eie saak op propagandistiese wyse gedryf met betoning van weinig liefde (en selfs haat) vir diegene wat dit gewaag het om enigsins van hulle te verskil. “Die hemele behoed ons!” skryf hy in sy brief. “Op ’n stadium is ek amper soos Agrippa van ouds oorgehaal om ja te sê vir selfdegeslagverhoudings. Maar daar het dinge gebeur en daar word dinge gesê wat met my huiwerende lees van die Bybel al hoe meer op die teendeel wys.”

Hy beweer die vergadering is op verskeie punte onregmatig beïnvloed en sê hy voel skaam om deel van so ’n vergadering en die besluit te wees.

Die brief is gerig aan die kerk se Algemene Steunspan Predikantesake.

Gay mense wat die sinode se debat bygewoon het asook die dosente aan die kerk se kuratorium loop veral kwaai deur in die brief.

By navraag het Ernst gesê hy beskou die brief as privaat en sal stappe doen indien Rapport die inhoud daarvan bekend maak.

“Ek het niemand toestemming gegee om dit aan die koerant te gee nie.”

Ds. Nelis van Rensburg, die NG Kerk se moderator, sê hy is bewus van Ernst se ongemak oor die besluit. Hy wou nie daarop kommentaar lewer nie.

Die kerk se moderamen vergader in die komende week, en die gay-besluit en hoe om die appèlproses te hanteer sal hoog op die agenda wees. Die moderamen bestaan uit ongeveer 50 -lede met verteenwoordigers uit elke sinode.

Van Rensburg sê hy hoop die vergadering sal ’n geleentheid wees waar daar in ’n “gees van liefde” oor die saak gepraat word met wye deelname en begrip vir mekaar se standpunte.

Ernst en die onbekende persone wat ’n amptelike appèlproses van stapel gestuur het, is egter nie alleen in hul opstand teen die besluit nie.

Verskeie gemeentes rebelleer teen die sinode se besluit (sien grafika). [Kyk NG gemeentes teen 2015 gaybesluit.] Sommige predikante sê die algemene sinode het die kerkverband flenters geskeur.

Volgens Claassen het die kerk nog nie ’n volledige lys van kerkrade wat amptelik beswaar gemaak het teen die sinode se besluit nie.

“Dit kom nog so drupsgewys in. Baie van die kerkrade gee kennis aan hul streeksinodes en nie noodwendig aan die algemene sinode nie.”

Claassen sê hulle behoort ná die moderamenvergadering ’n idee te hê hoe dit regtig in sinodes gaan.

************

NG Kerk besin weer oor gays ná appèlle | Netwerk24

Deur Pieter Steyn, Beeld, Maandag, 16 November 2015

Johannesburg. – Die NG Kerk sal vandag weet hoe hy die besluit oor gays wat op die afgelope algemene sinode geneem is, gaan hanteer wanneer die moderamen vergader.

Onsekerheid heers nou nadat vier appèlle teen die besluit – om gay mense dieselfde regte en voorregte in die NG Kerk as heteroseksuele pare te gun – ingedien is.

Dr. André Bartlett, een van die voorstellers van die finale besluit, het gesê hy is verbyster oor die appèlle en dat dit vir hom baie sleg is dat gays nou weer die kerk-politieke speelbal geword het. Hy wou nie verder kommentaar lewer nie.

Een van die appèlle is deur dr. Johann (Tokkie) Ernst ingedien. Ernst, ’n vorige aktuarius van die algemene sinode, was een van die sekondante van die finale besluit wat deur die algemene sinode aanvaar is.

Hy het gister ontken dat hy ’n sekondant van die finale voorstel was en uitgevaar teen Beeld en Rapport, susterkoerante van Die Burger.

“As Christen teenoor Christen sê ek vir jou julle kan maar aangaan en die lesers bedrieg. Ek het geen vertroue in jul beriggewing nie. Hoekom skryf julle nie eerder oor wat in Parys gebeur het as oor die gays en die kerk nie?” het Ernst gevra.

Luidens ’n berig in Rapport het Ernst ’n skerp bewoorde brief aan die algemene steunspan oor predikantesake gerig.

Ds. Helgard Janse van Rensburg, moderator van die Vrystaatse sinode, kerkregkenner en lid van die algemene steunspan oor regte (ASR), het gister gesê die kerkorde is “nie duidelik” oor die proses nie en die ASR het regsadvies ingewin oor wat die kerk te doen staan. Volgens Janse van Rensburg hanteer die appèlkommissie gewoonlik appèlle wat kerkordelik van aard is en die algemene sinode appèlle wat oor skrifgetrouheid en belydenisskrifte handel.

Hy het gesê dit is moontlik om ’n buitengewone algemene sinode te hou, maar dit sal waar-skynlik uit ander afgevaardigdes moet bestaan as die sinode wat die besluit geneem het. “Die vraag is, as dit dieselfde afgevaardigdes is, of hulle tot ’n ander besluit sal kom?”

Ds. Nelis Janse van Rensburg, moderator van die algemene sinode, het by navraag gesê die appèlle sal vandag op die vergadering van die moderamen bespreek word.)

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui