Waarom vier ons kersfees op 25 Desember?

Die volgende artikel is gekopieer van die Gelofteland.org. In hierdie artikel word gewys dat:

  • Die datum vir kersfees op 25 Desember is nie noodwendig geleen van ander gelowe nie.
  • Dit is baie moontlik dat Jesus wel naby aan 25 Desember gebore is.
  • Tydens kersfees op 25 Desember vier ons Jesus se geboorte, nie Sy geboortedag nie.

Die artikel The Myth of the Pagan Origins of Christmas beweer ook dat Jesus dalk werklik naby aan 25 Desember gebore is.

**********

Waarom vier ons kersfees op 25 Desember?

Is 25 Desember werklik die geboortedag van Jesus of kom dit uit die heidendom soos sommige kritici beweer? Die antwoord op beide die vrae is nee; 25 Desember is nie die werklike geboortedag van Jesus nie. Dit kom egter nie uit die heidendom nie. Wat wel waar is, is dat 25 Desember sedert die vierde eeu nC die Christelike kerk se feesdag is waarop Jesus se geboorte gevier word. Let wel: sy geboorte en nie sy geboortedag nie!

Dat Jesus se geboorte op of naby aan 25 Desember geskied het, is ’n baie sterk moontlikheid. Die vroeë kerk het aan die hand van ou Joodse geskrifte die tyd van Sagaria se diensbeurt in die tempel uitgewerk. Dit was glo in September van daardie jaar. In daardie tyd het ’n engel aan hom verskyn en van Johannes (die Doper) se komende geboorte verwittig. Werk dit ’n bietjie uit – Elizabeth was ses maande swanger toe ’n engel Maria oor Jesus se komende geboorte ingelig het. Dit was dus in Maart. Die kerk het hierdie datum op 25 Maart bereken. Die geboorte van Jesus was nege maande later – 25 Desember.

Daar is talle besware teen hierdie datum. Desember is winter in die Noordelike Halfrond en herders sou kwansuis nie tydens die koue in die veld wees nie. Dis moontlik. Tog moet daar rekening gehou word dat skape die heel jaar by die tempel geslag is, hoofsaaklik skape wat in Betlehem (naby Jerusalem) aangehou is. Daarom kon dit in Desember gewees het.

Uit ou geskrifte is dit duidelik dat Kersfees nie in die vroeë kerk gevier is nie. Dit het eers in 386 nC ’n vaste datum in die kerk geword, waarna 25 Desember oral byval gevind het. Veertien eeue later het kritici met bewerings voor die dag gekom dat Kersfees ’n heidense oorsprong het en die Roomse Kerk die skuldige een was wat ’n heidense fees verchristelik het. Daar is hoegenaamd geen bewyse vir so ’n aantyging nie. Gevolglik hou dit nie water nie.

Kersfeesdag kom wel na aan die winter-sonstilstand wat deur die Romeine op 26 Desember gevier is nadat dit deur ’n weeklange fees van 16-23 Desember voorafgegaan is. In die vroeë kerklike geskrifte is daar geen aanduiding dat die kerk ’n datum van die heidene geleen of dat Kersfees die heidense fees vervang het nie.

Die kerk was egter bewus van hierdie heidense fees, maar het geglo dat die herdenking van Jesus se geboorte op 25 Desember nie blote toeval was nie, maar deur God so beskik is. En daar was ’n goeie rede voor. In die Noordelike halfrond het die son dan gedraai en somer-toe begin beweeg. Die heidene het dan ’n sonfees ter ere van die onoorwinlike son gevier. Maar Wie is die ware onoorwinlike? Jesus Christus, onse Here! Hy is ook die Lig wat in die donker verskyn het; die Son van geregtigheid wat opgekom het. Dit was vir die gelowiges ’n goddelike bevestiging van ’n wonderlike waarheid.

Die presiese datum van Jesus se geboorte maak regtig nie saak nie. Christene herdenk nie sy geboortedag nie, maar sy geboorte as sulks. Nie die dag nie, maar die wondergebeure waarvan die teksvers melding maak.“En terwyl hulle daar was, is die dae vervul dat sy moes baar”.

Die vraag is nie of ons Kersfees mag vier nie, maar hoe gelowiges dit moet vier. Kersfees is ’n tyd van welwillendheid; ’n tyd van gee. God het gegee; ons moet ook gee. Daarom gee ons geskenke. Ongelukkig het dit wat heilig is ’n handelsfees geword – mense word met hoë pryse uitgebuit. Om te voorkom dat Kersfees heidene aanstoot gee, word eerder van die Festive Season gepraat.

Kersfees gaan oor God se liefde. “Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het….” (Joh.3:16). Dit wat God in Christus kom doen het, is die ewige maatstaf van wat liefde is. Vier Jesus se geboorte deur liefde te bewys. Ons het mekaar lief omdat ons God liefhet. Daarom is dit lekker om as familie by mekaar te kom en iets spesiaal vir mekaar te doen. Kersfees is die geleentheid vir getuienis van Christus se geboorte wêreldwyd. Daarom bly Christene dit wêreldwyd vier. Almal moet weet dat die Verlosser gebore is.

Dit is ook hiermee ons wens dat Geloftelandlesers hierdie Kersfees rondom Christus sal vier, omring van geliefdes wat saam die vreugde van Christus se geboorte en ons redding deel.

2 thoughts on “Waarom vier ons kersfees op 25 Desember?”

  1. Goeiedag Daniel

    Dankie vir die artikel. Ek weet dit is bykans vier jaar oud maar dit is steeds relevant en ’n handel met ’n vraagstuk waarmee ek reeds etlike jare worstel.

    Ek is nie ’n teoloog nie maar ’n gelowige. Ek probeer die Bybel lees en letterlik dog sinvol interpreteer. Ek verkies ’n letterlike interpretasie bo ’n interpretatiewe een. Ek glo dus dat God die aarde binne 6 dae geskape het, dat die aarde die middelpunt van die heelal is en dat die aarde stilstaan terwyl alle ander hemelliggame om die aarde draai. Ek weet veral laasgenoemde siening blyk nie wetenskaplik korrek te wees nie maar dit is in lyn met hoe die Bybel dit beskryf (byvoorbeeld 1 Kron 16:30; Ps 93:1; en 1 Sam 2:8, om maar ’n paar te noem).

    My siening oor die viering van kersfees verskil (ongelukkig?) van joune. Myns insiens bly die kernvraag of ek as Christin enigsins kersfees moet vier, en nie hoe ek dit moet vier nie.

    Jy sal merk dat ek die vraag hierbo en opmerkings hierna spesifiek op myself van toepassing maak en nie op Christine in die algemeen nie, gedagtig aan Rom 14:5-6. Dit is maar iets wat elkeen self oor moet oordeel. Hierdie is dus nie ’n poging om jou te probeer oortuig dat ek reg en jy verkeerd is nie. Inteendeel, ek deel bloot ’n paar gedagtes in ’n poging om myself te oortuig dat ek nie die kat aan die stert beet het nie. Sien dit dus asseblief in daardie lig.

    Kom ek verduidelik hoe ek dit sien en op myself toepas:
    – Die Bybel spel duidelik uit watter feeste gevier moet word, wanneer dit gevier moet word en hoe dit gevier moet word. Voorbeelde hiervan is dat die Sabbat weekliks gevier moet word (Eks 20:9-11; Lev 23:3) en die fees van die ongesuurde brode, fees van die oes, en fees van die insameling op spesifieke dae / tye (Eks 23:14-16). Dit is belangrik om daarop te let dat die viering van hierdie feeste verpligtend / opdragte was. Anders gestel, hierdie feeste was so belangrik dat God self dit ingestel het;
    – Die Bybel vertel van verskeie feeste wat gevier is, byvoorbeeld die speen van ’n kind (Gen 21:8), ’n bruilofsfees (Rigt 14:10-18 ens) en die bekende verhaal met die feesviering na die terugkeer van die verlore seun. Daar word egter veral in die Ou Testament gewaarsku teen die vier van feeste, veral waar dit met onreg saamgaan (Jes 1:13-14) en waar feesgevier word soos ander mense / nasies (Hos 2:10 en 9:1);
    – Die viering van die geboorte van Christus is nie deur God ingestel nie. Nieteenstaande wat geskryf staan in Luk 2:1-20 is dit duidelik dat God geen opdrag gegee het dat Jesus se geboorte gevier moet word nie; en
    – Jesus self het geen opdrag in die verband gegee nie. Trouens, Jesus het nie eens opdrag gegee dat sy dood en opstanding gedenk moet word nie – Mat 26:26-29, Mark 14:22-25 en Luk 22:19-20 bevat nie so ’n opdrag nie, terwyl die boek van Johannes totaal daaroor swyg. Die viering van die nagmaal is geskoei op Paulus se leer in 1 Kor 11:23-29, waar hy wat Paulus is vertel dat Jesus opdrag gegee het (“…neem, eet…” ten opsigte van die brood; en “…doen dit…” ten opsigte van die wyn) dat sy dood deur die gebruik daarvan verkondig moet word totdat Hy weer kom. Die nagmaal is dus nie ’n fees nie maar ’n wyse waarop die evangelie verkondig moet word.

    Die eerste Christine, insluitend Jesus se dissipels / apostels, het nie Jesus se geboorte of geboortedag gevier nie. Hulle het wel weekliks bymekaar gekom om onder andere die gemeenskaplike maaltyd te geniet.

    Die viering van geboortedae is meestal ’n heidense gebruik (byvoorbeeld Mat 14:1-11, Mark 6:14-29 asook Luk 3:19-20 en 9:7-9 wat die verhaal vertel van die onthoofding van Johannes die Doper tydens die viering van Herodes se verjaardag).

    Kersfees soos dit gevier word van meet af is dus mensgemaak en nie ’n Bybelse fees of opdrag nie. Mens kan dit veral deesdae sien aan die wyse waarop dit gevier word – uitspattig en luid, normaalweg gepaardgaande met te veel eet en drink. Dit word wêreldwyd gevier, meestal deur nie-Christine. Die waarskuwings in Hosea pla my in dié opsig.

    As die viering van Jesus se geboorte so belangrik was sou die Bybel sekerlik nie daaroor geswyg het nie, of minstens ’n vers of twee oor die viering daarvan bevat het.

    Myns insiens is die hoogtepunt van ’n Christin se geloofsjaar die dood en opstanding van Jesus, wat redding en vryspraak meebring in geloof. Dit is waaroor ek as Christin dankbaar is. Vir my is Jesus se geboorte ’n bysaak. Ek het al die argument gehoor dat as Hy nie gebore is nie, sou Hy nie kon sterf nie, en dus is Sy geboorte iets wat gevier behoort te word. Ek sien dit anders – dit is nie Sy geboorte wat my redding meebring nie maar Sy dood en opstanding, en dit is wat verkondig moet word, synde die ware boodskap van die evangelie.

    Ek kan dus nie anders nie as om te glo dat my deelname aan die viering van kersfees in sy huidige formaat sal bydrae tot die wanpersepsie van en weersin in Christine en Christenskap. Ek verkies dus eerder om dit glad nie te vier nie en bloot te fokus op die verkondiging van die evangelie.

    Ek weet dit is ’n mondvol maar hopelik sinvol.

    Groete in Christus

    1. Vir my as gelowige gaan dit daaroor dat dit die enigste tyd in n baie besige jaar is waar gesinne, vriende, eensames, saam kuier om n geleentheid te vier waar jy, uit dankbaarheid, die geboorte van ons Verlosser in n vreugdevolle saamwees, kan vier. Om waarlik die volle omvang van God se liefde in te drink. Die boom word nie verafgod nie, ook nie die kerse se aansteek nie. Ons aanbid net ons ware, lewende hemelse Vader, soos elke dag van ons lewe, maar op hierdie dag ook met al ons geliefdes. En ek gun elkeen die voorreg om, sonder veroordeling, te doen wat gemaklik is waar hulle hul bevind.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui