Belowende jonges tot struikeling gebring

Kyk ook:

Belowende jonges tot struikeling gebring | Kerkbode

Jan Louw van Reitz skryf:

27 November 2019

Teologiese student Tristán Kapp se noodroep in die Kerkbode van 12.11.2019, vra beter antwoorde as dié van dr Kobus Myburgh, Hoof Kerkeie opleiding vir die NGK, UP (22.11.2019).

Myburgh sê dat Kapp wel ’n lidmaat van die NG Kerk is, maar hy is nie as ’n kerklike student ingeskryf nie en staan dus nie onder die toesig van die Kuratorium nie.

Die vraag is egter waar het die jongman aan sy afvallige idees gekom? Idees soos dat die Bybel nie “die letterlike woord van God is nie, maar denke, gevoelens, idees, stories en poësie uit ’n antieke konteks wat anders gedink en redeneer het as ons”? Waar het hy geleer dat die meeste van die etiek in die Bybel “uitgedateer” is en nie op die moderne samelewing afgedwing kan word nie?

Myburgh se “moontlike misverstand” stel nie gerus nie:

1) Myburgh en die dosente is self deel van die narratief van ’n “uitgedateerde Bybelse etiek”, waarvan Kapp praat. Hoe anders regverdig die dosente en Myburgh, hulle LGBT standpunt, wat hulle telkens openlik propageer?

2) Myburgh verwys na die NG Kerk se “vennootskapsooreenkoms” met die Teologiese Fakulteit. Dit is juis die probleem! Die dosente met wie die kerk in vennootskap gegaan het is nie in diens van die kerk nie, maar hulle is aangestel deur ’n sekulêre onderwysowerheid. Daar is ’n groeiende gewaarwording dat die teologiese fakulteite ’n ongelowige en onbybelse teologie bedryf. Kapp se uitlatings is net nog ’n bevestiging van die feit.

3) Daar is kort-kort berigte van jong leraars wat onder toesig van die Kuratoria gestudeer het en gemeentes verwar, met dieselfde soort teologie wat Kapp voorstaan. Ek kan voorbeelde noem.

Die jong Tristán Kapp het ons ’n guns gedoen met sy openhartige brief aan die kerk. Hy het ons vermoedens andermaal bevestig oor wat in die verborge ruimtes van die teologiese klasse geleer word.

Myburgh en die lede van die Kuratoria staan in die beskuldigdebank. Hulle sien toe hoedat beroepsteoloë ons Kerk se belowende jongmense tot struikeling bring. Mense wat dit doen en toelaat, sê die Here, behoort met ’n meulsteen om die nek na die see toe gelei te word (Mat 18:6).

3 thoughts on “Belowende jonges tot struikeling gebring”

  1. Dankie Jan. Daar is aan my vertel dat ’n teologiese student van Tukkies wat in my vorige gemeente van tyd tot tyd gepreek het, van mening was dat Genesis 1 tot 11 uit antieke geskrifte kom en is nie deur Moses geskryf nie maar tydens die ballingskap. Ek het ongelukkig nie ’n geleentheid gekry om dit met die student te bespreek nie.

  2. Dankie Henrietta. Kapp se sieninge is ongetwyfeld ’n weeergawe van wat by die Fakulteite geleer word.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui