Moderators soek ‘hoërvlak-gesprek’

Kyk ook:

*******

Moderators soek ‘hoërvlak-gesprek’ | Beeld

Beeld, 22 Mei 2009

Die moderators van die NG Kerk se verskillende sinodes het gevra dat die teologiese gesprek in die kerk oor die opstanding van Jesus op ’n hoër vlak gevoer word.

Dit kom nadat prof. Adrio König in sy boek Die evangelie is op die spel verskeie teoloë se teologiese sienings bevraagteken het en proff. Cas Vos en Dirk Human in ’n skerp bewoorde brief aan die uitgewer daarop gereageer het.

Die moderators sê meningsverskil in ’n kerk is ’n goeie ding. Dit help om die kaf van die koring te skei. “Sonder so ’n robuuste onderskeidende gesprek kan ’n kerk nie werklik teologie bedryf nie.”

Hulle voel egter ook dat die gesprek oor die opstanding ““soms uitgerafel en baie persoonlik geraak het”.

Dit, sê die moderators, pas nie by die kerk nie. Dit saai verwarring en bring Christus se boodskap in diskrediet.

“Ons roep dus alle partye in die teologiese gesprek op om met deernis, leerbaarheid en openheid met mekaar te praat. Anders hoor ons mekaar nie goed nie en gee ons mekaar se standpunte nie billik weer nie.

“Dan raak die gesprek maklik kleinerend en selfs kwaadwillig en bedreig dit die geloofseenheid tussen ons.”

Omdat die verwarring oor so ’n kernsaak in die teologie gaan, vra die moderators die NG Kerk om saam met hulle die volgende drie punte oor die opstanding te bely:

  • Dat Jesus liggaamlik uit die dood opgestaan het op die derde dag na sy kruisiging (Luk. 24);
  • Dat sy fisieke liggaam opgeneem is in ’n opstandingsliggaam op ’n wyse wat ons begrip te bowe gaan (1 Korintiérs 15); en
  • Dat ons liggame ook uit die dood sal opstaan, soos Hy ons belowe het (Joh.11; 1 Korintiérs 15).

Volgens die moderators is dit die kernbelydenis van die Bybel en die kerk se belydenisskrifte.

Dit is wat Christene aan mekaar bind en dis wat hulle saam met alle gespreksgenote wil bely.

njackson@beeld.com

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui