Kerkraad vermaan gesin weens swak kerkbywoning

Op 29 September 2025 het die Gereformeerde Kerk Nelspruit ‘n brief aan Pierre van Vuuren en gesin geskryf om hulle daaraan te herinner dat hulle belowe het om betrokke by die gemeente te wees.

Pierre van Vuuren het waarskynlik gedink dat die brief belaglik was en dit op Facebook geplaas.

Izak du Plessis, van Nuuspod, het ook die brief op 8 Oktober 2025 op sy Facebook geplaas en op dieselfde dag het hy hierdie kwessie op sy nuuskanaal op Youtube bespreek. Kyk

Tydens die gesprek het Izak, soos dit wil voorkom, op die ingewing van die oomblik besluit om ds Dirk Kotzee te bel, maar daar was nie antwoord nie. Daarna het hy die skriba, Hannes van Wyk, gebel en ‘n onderhoud met hom gevoer.

Hier volg die brief aan Pierre van Vuuren en gesin:

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*********

Gereformeerde Kerk Nelspruit

Predikant: Ds. Dirk Kotzee, 079 305 3297, dkotzee@gmail.com

Admin: Coleen Viljoen, 013 741 2928, gknelspruit@gmail.com

Skriba: Hannes van Wyk, 071 580 8609

Straatadres: 75 Koraalboom laan, West Acres Posadres: Posbus 15350, West Acres, Nelspruit, 1211

29 September 2025

Beste Broer Pierre van Vuuren en gesin

I.S. VERMANING MBT BETROKKENHEID BY DIE GK NELSPRUIT

Die ouderling van wyk 7 rapporteer nou al ‘n geruime tyd dat u onverskillig is in die bywoning van eredienste en in u betrokkenheid by die kerk.

Met hierdie skrywe wil ons u as medegelowige in ons Here Jesus Christus herinner aan die beloftes wat u self gemaak het met belydenisaflegging.

Beloof u, terwyl die volle gemeenskap met die kerk van Christus nou vir u ontsluit word, om as ‘n lewende lid van die kerk die bediening van die Woord en van die sakramente ywerig op te soek, om u gawes gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van die ander lidmate en tot die uitbou van die koninkryk van God te gebruik? Beloof u verder om u aan die Christelike vermaning en tug te onderwerp as u in leer of lewe sou oortree?

Hierop het u “ja” geantwoord.

Dit is ons bede dat u spoedig sal terugkeer na die gemeenskap van gelowiges en ywerig betrokke sal wees in die kerk. Indien u egter volhard in u onverskilligheid jeens u eie beloftes, sal die kerkraad geen ander keuse hê as om gevolg te gee aan die tug prosedure nie.

Broederlike groete

(Geteken)

Oudl JPMJ van Wyk (Skriba)

Kommentaar

Daniel Louw

Ek het die onderhoud tussen Izak en Hannes baie positief ervaar. Dit was alles in ‘n goeie gees gedoen en Hannes het sy woord baie goed gestand gedoen.

Ek het gemerk dat daar op Facebook heelwat negatiewe kommentare teenoor die gemeente was. Ek verstaan dit nie.

Die feite is dat elke lidmaat by aansluiting belowe om hulleself aan die gemeente se tug te onderwerp en om ‘n betrokke lidmaat te wees. Pierre van Vuuren het duidelik nie by hierdie belofte gebly nie.

As dit vir hom ‘n probleem is dat die gemeente, waaraan hy homself vrywilliglik onderwerp het, hom aanspreek oor sy gebrek aan betrokkenheid, is hy en sy gesin baie vry om bloot te bedank. Wat is die sin om aan ‘n gemeente te behoort en dan onbetrokke te bly?

En dan moet almal wat dink dat die gemeente se brief belaglik was, die vraag vra: Hoe voel God hieroor?

Daar is by my geen kwessies daaroor dat die Here by die gemeente staan en nie by die mense wat die gemeente kritiseer en belaglik wil maak nie. Die gemeente het bloot net hulle werk gedoen. Ek wil hulle daarvoor gelukwens.

Ds. Daan Malan

Die HERE laat nie met Hom spot nie, broeder en suster. Hy het deur talle mondelinge oproepe en besoek julle in groot liefde en lankmoedigheid terug geroep na Sy kerk/gemeente, VIA JULLE KERKRAAD, maar julle wou nie luister en dankbaar reageer nie. Die HERE het toe, nog steeds in liefde en lankmoedigheid julle kerkraad gebruik om julle persoonlik, in die geheim/vertroulik, ernstiger en amptelik terug te roep, en te vermaan. Toe gaan julle werklik sover om iets en maak julleself, en julle sonde, in die openbaar bekend, en verkleineer God se kerkraad, EN SO OOK VIR GOD SELF, in die openbaar, in plaas daarvan om voor God te buig en vergifnis te vra, en met die ouderling/kerkraad julle koudheid en probleme te gaan bespreek… steeds in vertroulikheid.

Ek vermaan julle weereens in liefde, maak julle saak met die HERE reg, kom julle verbondsbeloftes teenoor die HERE na, en vra nou in die openbaar verskoning vir julle onreg gepleeg teenoor mede lidmate in die gemeente, God se kerkraad wat Hy daar gestel het om die gemeente te bedien, en die lidmate van alle Gereformeerde Kerke in SA, MAAR BOWENAL VIR GOD SELF.

En onthou, ek se weer, DIE HERE LAAT NIE HOM BESPOT NIE.

1 thought on “Kerkraad vermaan gesin weens swak kerkbywoning”

  1. Ja. Dankie tog dat daar nog gemeentes is wat liefdestug toepas en genoeg omgee om nog n brief te skryf. Wens daar is berigte oor nog sulke gemeentes!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui