Jesus se leë graf is die toetssteen

Hierdie is een van ’n paar artikels wat deel van ’n debat is oor Adrio König se boek Die evangelie is op die spel.

Kyk Verskillende maniere van glo vir die vorige artikel en Teoloë kap König oor sy nuwe boek vir die eerste artikel.

**********

Jesus se leë graf is die toetssteen

2009-10-08 22:05

(Die oorspronklike artikel kan hier gelees word.)

Adrio König

Ongelukkig het Neels Jackson nie gereageer op my twee spesifieke vrae nie:

  • Watter leuens het ek vertel?
  • Waarom het hy in die gesprek juis tot die einde gewag om te sê ek lieg, toe daar nie meer tyd was om sinvol daarop te reageer nie?

Hy meen dat ek sekere teoloë verkeerd interpreteer en noem dit nou “onwaarhede”. Maar verkeerde interpretasies is nie onwaarhede of leuens nie, dis verkeerde interpretasies.

Te meer nog omdat hy aanvaar dat ek met goeie bedoelings optree.

Watter leuens het ek vertel?

Dr. Ben du Toit

Jackson sal onthou dat ek nie die enigste een is wat destyds beswaar gemaak het teen Du Toit se boek nie.

Nuwe Testamentiese geleerdes wat hewig beswaar gemaak het, is onder andere Andries du Toit en Jan du Rand.

Maar daar was letterlik ’n vloedgolf briewe van protes.

Volgens Jackson verwerp Du Toit glad nie die lys kernoortuigings nie (drie-eenheid, twee nature, maagdelike geboorte, wonderwerke, bose magte); Du Toit sou slegs aanvoer dat dit in ’n postmoderne raamwerk nie nodig is om presies te verstaan “hoe dit werk” nie. Maar is dit so? Noem Du Toit dit nie selfs “futiel” om hierdie fasette van ons geloof te verdedig nie? En as ek dink aan die maagdelike geboorte, waarom dan die vreemde vrae soos: Het Maria ooit geweet hoe konsepsie (bevrugting) werk en beteken “maagd” nie dalk net ’n ongetroude jong meisie nie? Interpreteer ek hom nou verkeerd as ek aflei dat hy impliseer Jesus was waarskynlik ’n buite-egtelike kind? Is dit nodig om so rof met geloofsake om te gaan?

Waarna Jackson nie verwys nie, maar wat destyds sterk kritiek uitgelok het, was die totale afwesigheid van enige positiewe uitsprake oor die gesag van die Bybel. Du Toit kom nooit verder nie as om die Bybel te noem die vertrekpunt van die Christelike geloof, of die oorsprongdokumente. Wat die gesag die Bybel is, kom nie ter sprake nie, wel die teendeel: dat ons nie die Bybel “outoritêr, absoluut en finaal” mag lees nie. Dis dan ook nie vreemd dat hy wesenlike aspekte van die evangelie kan afskryf nie.

Ek verstaan Du Toit so dat hy vyf sentrale geloofsoortuigings nie meer aanvaar nie, selfs onsensitiewe uitsprake oor sommige soos die maagdelike geboorte maak en geen aandag gee aan die gesag van die Bybel nie. Is die evangelie nie op die spel nie?

Prof. Danie Veldsman

Oor my interpretasie van Veldsman se artikel oor die leë graf voel Jackson ook erg beswaard. Hy meen Veldsman probeer juis die evangelie verdedig.

Dit gaan oor die sogenaamde herbegrafnis van Jesus. Drie persone sou Jesus die Vrydagaand herbegrawe het: Petrus, Tomas en Josef van Arimatea.

Hulle sou dit gedoen het sodat hulle dan sou kon vertel dat Hy opgestaan het. Op dié wyse wou hulle hul teleurstelling oor sy kruisdood oorwin.

Hy meen daar is heelwat steun in die Evangelies vir hierdie teorie. Ons lees in Johannes 20:4 dat Petrus stadiger as Johannes graf toe gehardloop het. Hy meen dis omdat hy natuurlik geweet het die graf is leeg. Verder meen hy die jong man wat die vroue aansê om aan die dissipels te gaan vertel dat Jesus opgestaan het, het doelbewus Petrus se naam genoem omdat hy een van die drie was wat Jesus se liggaam verwyder het. En dan die storie van die Joodse leiers dat die dissipels Jesus se liggaam gesteel het. Veldsman vra: Is Matteus besig om (sy eie) spore (en dié van Josef, Tomas en Petrus) dood te vee deur hierdie “komplot” aan die priesterhoofde toe te skryf?

Die implikasie is tog seker dat Matteus hierdie storie self uitgedink het.

Is dit hoe ’n mens omgaan met die Bybel? Stel hy nie die dissipels as bedrieërs voor nie?

Verder is Veldsman se volgende vraag opvallend: “Waarom sou die skrywer (d.i. Johannes) opnuut vroue as getuies van die verskyning kies?” Hierdie vraag impliseer tog dat die evangeliste willekeurig gekies het wie hulle as getuies van die verskynings in hul Evangelies sou inskryf.

Wat gaan ons nou glo en wat nie? Is die evangelie nie op die spel nie?

Prof. Julian Müller

Jackson gee ’n goeie samevatting van Müller se siening van die opstanding.

  • Müller glo Jesus het opgestaan,
  • maar dit was anders as Lasarus, wat net weer lewend geword het,
  • en Jesus se opstanding het “geweldige implikasies vir gelowiges se daaglikse lewe”.

Maar omtrent ’n dekade lank vra die kerkvolk aan Müller wat hy bedoel met Jesus se opstanding. En hy wil nie sê nie. Maar ons weet daar is altyd onaanvaarbare interpretasies van die opstanding. In 2Timoteus 2:16-17 lees ons van twee mense wat wel die opstanding bely het, maar hul interpretasie daarvan word ’n “kanker” genoem wat “voortvreet aan die geloof”.

Paulus put hom uit (1Korintiërs 15) om ’n verduideliking van die opstanding te gee. Dit word die langste hoofstuk wat hy in hierdie boek skryf. Dit gaan dus nie net daaroor dat ’n mens die opstanding glo nie, maar oor die interpretasie van die opstanding.

Dit is dus nie onredelik as die kerkvolk aan ’n leier vra hoe hy die opstanding verstaan nie. En dit te meer omdat Müller jare lank nalaat om te antwoord op die vraag of die graf leeg was.

Die leë graf as toetssteen

Waarom is die leë graf die toetssteen vir ons interpretasie van die opstanding? Omdat daar onder die Jode en in die Nuwe Testament van geen ander vorm van opstanding sprake is nie.

Opstanding is in die Nuwe Testament liggaamlike opstanding of dis nie opstanding nie. In Paulus se groot hoofstuk oor die opstanding gebruik hy die woord vir “liggaam” tien keer.

Dit is dus geen wonder dat elke Evangelie eindig met die leë graf nie. En ook nie dat Veldsman dink as die dissipels die volgende dag wou vertel Jesus het opgestaan, sou hulle eers van die liggaam ontslae moes raak nie.

Jesus se opstandingsliggaam was ’n (radikaal!) veranderde liggaam, maar dit was nie ’n ander liggaam nie. Hy is met ’n vernederde liggaam in die graf in en Hy het met ’n verheerlikte liggaam uitgekom. Maar dit was dieselfde liggaam wat verheerlik is. En dít hoor ons Müller nie sê nie. Maar as hy dit nie sê nie, hoe moet ons weet of hy nie aan ’n ander “opstanding” as dié van Jesus dink nie? En dan is die evangelie op die spel.

Jackson is reg dat Müller baie maak van die misterie van die opstanding.

Maar Müller maak heeltemal te min daarvan. Hy het in werklikheid ’n arm opstandingsbeskouing. Jesus staan net hier en daar op – op onverwagse oomblikke in iets soos die glimlag van ’n kind, iets waarvan daar nie sprake is in die Nuwe Testament nie.

Die werklike misterie van die opstanding is:

*dat Jesus deur sy opstanding die eindopstanding ingelui het sodat die apostels geglo het die wêreldeinde is op hande;

*dat Jesus deur sy opstanding die Bose oorwin het;

*en dat Jesus ons deur die doop en die geloof in sy opstandingsliggaam inlyf sodat ons met ons sonde kan ophou en God met oorgawe kan dien.

Het ek die teoloë “verkeerd geïnterpreteer” en “in ’n vreeslike slegte lig gestel”?

*König is afgetrede professor in sistematiese teologie aan Unisa.

– Beeld

Kommentaar

Willie Vermaak 10/9/2009 10:38:00 AM
Neels Jackson se ‘Verskillende maniere van glo’ en nou prof Adrio Konig se ‘Jesus se lee graf is die toetssteen’ het betrekking. Ateiste se dit prontuit: God is dood. Dit kan en wil ek nie se nie. Maar gegewe die verdoemende en opspraakwekkende onthullings wat prof. Konig maak oor vooraanstaande teoloe in die NG Kerk wat nie meer wil glo in Jesus se liggaamlike opstanding nie, wil ek dit waag om die volgende bewering te maak: God is (dalk) dood in die NG Kerk – ten minste vir solank as wat die lasterlike ‘eksperimente’ van teoloe soos dr Ben du Toit, proff Danie Veldsman en Julian Muller langer verdra word. Willie Vermaak

Susan van Jaarsveld 10/9/2009 10:51:32 AM
Oor die jare volg ek die kerksake waaroor Neels Jackson berig nogal met aandag. Ek het nog altyd gedink jy berig uitstekend (veral oor Angus Buchan!)Neels. Maar nou is ek verward. Ek wil jou glo oor prof. Konig wat ‘onwaarhede’ oor dr Ben du Toit, professore Danie Veldsman en Julian Muller uitspreek. Prof. Konig se substansiele antwoorde na aanleiding van jou bewering is egter van so ’n aard dat dit baie baie moeilik gaan wees om jou storielyn te volg. As dit byvoorbeeld regtig waar is dat volgens Du Toit, Maria Jesus as ’n buite-egtelike kind gehad het; dat, volgens Veldsman die dissipels agteraf besluit het om Jesus se liggaam te steel; en prof. Muller nou al vir byna ’n dekade weier om die lee graf van Jesus te bely, dan is dit nie net ’n geval dat jy jou huiswerk nie goed gedoen het nie, maar ook ’n geval van die NG Kerk wat in ’n lewensbedrygende krisis verkeer. Ek is nie lidmaat van die NG Kerk nie, maar sal veral na wat ek nou gelees het soos nooit tevore nie moet bid vir hierdie kerk. Susan van Jaarsveld.

Faan Bester 10/9/2009 10:55:54 AM
Prof Konig, Word wakker. Ons leef in die 21ste eeu! Ben du Toit, Danie Veldsman en Julian Muller gee weer bietjie geloofwaardigheid aan geloof. Ek hoef nie meer in die lee graf van Jesus te glo om gelowige te wees nie. Hoe is dit in elkgeval moontlik vir ’n lyk om weer letterlik op te staan. Dit het ons geglo toe ons kinders was. Faan Bester

Hettie Joubert 10/9/2009 10:59:30 AM
My oe kan nie glo wat dit vanmore lees nie. Ek is siek van ontsteltenis. Hoe kan Danie Veldsman en Julian Muller ons kinders leer by Tukkies as hulle nie in Jesus se liggaamlike opstanding uit die dood glo nie? Dit is mos die basis van ons geloof. Hettie Joubert

Bertus Joubert 10/9/2009 11:04:09 AM
Gelowiges mag maar oor baie dinge verskil maar ek glo nie oor Jesus se opstanding nie. Om dit te betwyfel is om die bestaansreg van die kerk te ondergrawe. Prof. Konig julle gaan moet meer doen as net koerant artikels skryf oor mede teoloe wat ons kerk se geloof ondermyn. Onthou – as ek dit reg het leer proff. Veldsman en Muller die nuwe domineetjies wat more en oormore ons kinders se predikante gaan wees. Het jy al daaraan gedink?Bertus Joubert

Past.Marius Muller 10/9/2009 11:06:58 AM
Gelowiges kan die Here dank vir mense soos Prof.Konig.”Nuwe Reformasie”teloë is besig om die evangelie gruwelik te verdraai en te bevraagteken,dit het die gevolg om talle “nuwe” christene geweldig deurmekaar te maak.Satan het reeds in die paradys gevra”het God regtig so gesê?”,met die bedoeling om twyfel te saai.Teoloë moet baie meer verantwoordelik wees met die radikale onnodige vrae waarvan die meeste lankal reeds in die bybel beantwoord is.Leer n les by Prof.Konig ,hy is ten minste nederig en verantwoordelik.Miskien is die ou engelse gesegde waar”the church is being destroyed by degrees”.

Jan Harm Mostert 10/9/2009 11:07:29 AM
Neels Jackson, jy skuld of vir Adrio Konig ’n amptelike verskoning of ek kom tot ten minste twee konklusies:
1) Jy is baie subjektief en nalatig in jou beriggewing
2) Of, jy het ’n verskuilde agenda om die liberale NG teoloe te beskerm. Dis in jou hande om skoon te kom.
Jan Harm Mostert

Bennie Venter 10/9/2009 11:10:59 AM
Ek is baie bang om uit te praat en daarom doen ek dit onder ’n skuilnaam. Ek is ’n student en moet erken dat proff Veldsman en Muller my verwar. Hoe kan ek bly glo dat Jesus se graf leeg is as die professore dit nie vir ons wil leer nie? Anonieme student

Jacob Badenhorst 10/9/2009 11:15:57 AM
Die netto effek van die beskouings van die teoloë [du Toit, Veldsman, Julian Müller] skep presies dit wat Adrio König beweer: dit laat die indruk dat die liggaamlike opstanding van Jesus gediskrediteer word. Verder word hierdie uitsprake gekoppel aan “die NG Kerk” [soos duidelik uit die opmerkings van Willie Vermaak. Laat die wêreld dit kliphard weet dat die NG Kerk – by monde van die Algemene Sinodale Kommissie in ’n amptelike verklaring hierdie beskouings verwerp het en dat dit ’n klein minderheid is wat dit handhaaf…dankie prof Adrio !

Sarel van Rensburg 10/9/2009 11:17:33 AM
As daar enige waarheid sit in prof Konig se bewerings dan plaas dit ernstige vraagtekens teen Neels Jackson se aanval op hom maar dalk meer belangrik – dit bring die geloofwaardigheid van die NG Kerk in geheel in die gedrang. ’n Kerk sonder Jesus se liggaamlike opstanding is soos ’n boot wat besig is om te sink sonder reddingsbootjies (a la Titantic?) Sarel van Rensburg

Jarissa Meintjies 10/9/2009 11:22:08 AM
Ek wil vir Julian Muller opkom. Hoekom moet ek in die lee graf van Jesus glo? In my wereld staan mense nie op nie – nooit nie. Ek is ’n natuurwetenskaplike wat krities ingestel is. Ek kan wel simbolies in die opstanding glo en as ek dinge reg lees wil Julian Muller ook vir my ruimte skep binne die kerk. Jesus se bergrede is vir my baie meer belangrik as ’n lee graf. Jarissa Meintjies

Johan Lombaard 10/9/2009 11:41:23 AM
Willie Vermaak se kommentaar is presies die rede waarom König verskoning behoort te vra vir die skewe beeld wat hy met sy boek die wêreld ingestuur het. In sy antwoord op Neels Jackson se insiggewende artikel gooi König getrou aan sy aanvallende styl net nog méér klippe na die teoloë wat in sy visier is.

Adrio König klink al hoe meer na ’n verbitterde ou man wat op sy oudag probeer om kwaad te stook. Hy is besig opm sy eie nalatenskap te versuur en ognelukkig sal die geskiedenis op die langduur niks onthou van die goeie teologie wat hy in sy jionger dae gepredik het nie maar hy sal beoordeel word vir die bitter en persoonlike aanvalle teen die einde van sy lewe. Hoe tragies is dit nie!

Gerhard van Schalkwyk 10/9/2009 11:55:11 AM
Hierdie teoloe gaan almal voor ons opgestaande Here Jesus verskyn en sal moet antwoord op hoekom hulle Sy versoeningsdood en -opstanding weggeredeneer het. Jesus het vir ons sondes ’n offer vir God gebring en die bewys dat God dit aanvaar het is dat Jesus opgestaan het uit die dood.

jaco 10/9/2009 12:13:59 PM
ek weet nie wat beeld of wie ookal probeer bereik nie. wil hulle mense laat begin twyfel in die Christelike geloof? is dit hulle doelpunt? want dis duidelik al waarin hulle goed is

ErickV 10/9/2009 12:27:19 PM
Ek kan nie sien hoekom dit vir Neels Jackson nodig is om vir Veldsman, du Toit en Muller op te kom nie. Die drie here kan mos vir hul self opkom, of is hulle te bang om dit te doen? Adrio Konig moet hom nie baie aan Jackson steur nie om die volgende rede:
*Jackson is nie ’n teoloog nie
*Jackson is nie ’n ekspert op die Bybel nie
*Jackson is ’n kerk verslaggewer wat nie ’n baie groot ekspert op kerke is nie.

Ek het ’n ruk gelede aan Jackson op ’n ander blog gevra wat sy mening oor die Shofar kerk in Stellenbosh is waarop hy genoem het dat hy nie weet wat dit is nie.

Ek plaas Jackson in dieselfde lig as Ray McCauley, Angus Buchan, Fred May en Kent Hovind. Hulle prioriteit is geld. Neels Jackson moet probeer help om koerante te verkoop, dit is sy grootste doel. Hy weet natuurlik dat die Christenskap hom baie daarmee gaan help. Ek is by voorbaat jammer om dit te se, maar dit is my beskeie mening.

Daniël Michau 10/9/2009 12:59:56 PM
Liberale teoloë neig wetend of onwetend na een wêreld godsdiens. Daarom word die unieke aard van Jesus afgewater, byvoorbeeld dat Hy bonatuurlike dinge gedoen het, liggaamlik uit die dood opgestaan het, God was en is, en die enigste Verlosser en weg tot die ewige lewe is. Afhangend van die graad van hul liberalisme, sal teoloë, en ander geleerdes een of meer van hierdie afwykende denkrigtings ondersteun en probeer bevorder. Die groot konsep uit die Christelike geloof wat hulle probeer inwerk in so ’n godsdiens is Christelike waardes. Dit klink goed, maar word uiteindelik niks anders as ’n werke-godsdiens in plaas van ’n geloof in ’n genadige God se offergawe — Jesus Christus — nie. Die sogenaamde ontluikende kerk werk ook hieraan mee deurdat hulle ook ander godsdienste se goeie waardes probeer omhels, en in die proses al flouer uitstaan vir Jesus Christus as die enigste weg tot ewige redding. Prof. Adrio König se groot standpunt dat die evangelie op die spel is, is reg, maar ongelukkig het hyself dit alreeds onwetend begin ondergrawe deur sy gedeeltelike ontkenning van die werklikhede van Genesis waar die rede waarom die mens ’n Verlosser nodig het, geopenbaar is. Die werklikheid van die Oplossing maak eenvoudig nie sin as die werklikheid van die oorsprong ontken word nie.

Joost Oosthuizen 10/9/2009 1:15:58 PM
My volk vergaan oop oë van onnoselheid. Lees maar die fudamentalistiese kommentaar op hierdie debat. König jou bydrae tot goeie gesprek vir denkende mense is ’n ronde nul! Vir jou arrogante en hooghartige styl kry jy egter tien uit tien. Veels geluk!!

jaco 10/9/2009 1:32:46 PM
hoekom moet alles altyd so debat wees wat mense uitmekaar skeur?? glo jy of glo jy nie…punt.

James-Henry van der Merwe 10/9/2009 2:10:16 PM
Ek staan verslae met wat ek vanoggend lees. Mense, om die liggaamlike opstanding van Jesus Christus in twyfel te trek of erger, dit te wil ontken, is om Satan se oorwinning oor God (wat ’n belaglike idee) te erken, te fier en daarin te roem. Daar is GEEN doel hoegenaamd vir die Christendom om verder te bestaan, sou die liggaamlike opstanding onwaar wees. Weet julle wat noem die Bybel mense soos julle? DWASE!!!

Willie 10/9/2009 2:19:11 PM
Ds. CF Heiberg het reeds in 1992 soortgelyke aantygings gemaak teen Prof. Julian Müller in sy “Verantwoording van kritiek teen teologiese leringe van dosente aan die teologiese fakulteit Afd B UP”. Volgens Müller het Heiberg hom destyds ook kwansuis verkeerd verstaan/aangehaal. Vreemd dat almal hom so verkeerd verstaan. Neels Jackson, in plaas van hom verdedig, vra hom om in duidelike taal sy standpunte neer te skryf vir publikasie. Dan sal almal mos weet wat hy waarlik glo.

Willie Wasserman 10/9/2009 2:26:08 PM
Die skrif is aan die muur: Sluit Tukkies se Teologiese Fakulteit. Daar is in elkgeval geen meer onderskeid tussen hulle en Unisa waar Sakkie Spangenberg, Pieter Craffert, Piet Botha en kie van die Nuwe Hervorming werk nie.

**********

Lees die volgende artikel by Neels antwoord.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui