Verskillende maniere van glo

Hierdie is een van ’n paar artikels wat deel van ’n debat is oor Adrio König se boek Die evangelie is op die spel.

Kyk Kan Neels my my leuens noem en ek antwoord vir die vorige artikel en Teoloë kap König oor sy nuwe boek vir die eerste artikel.

**********

Verskillende maniere van glo

2009-10-06 23:49

(Die oorspronklike artikel kan hier gelees word.)

Neels Jackson

Ek het te veel respek vir prof. Adrio König om te sê hy lieg.

Dis min of meer wat ek verlede week op Aardklop in ander woorde gesê het tydens ’n bespreking van sy boek Die evangelie is op die spel.

Ek glo König tree uit oortuiging op, met goeie bedoelings ook.

Maar – en dit het ek op Aardklop probeer aantoon – hy maak foute wat daartoe lei dat hy ander teoloë se standpunte so verkeerd weergee dat ek dink sy boek is vol onwaarhede.

Hoekom sê ek so?

In die eerste plek ontken die teoloë oor wie hy skryf self dat dit regtig hul standpunte is wat hy aan sy lesers voorhou.

Hulle is bitter ontsteld oor hoe König hulle skets.

In die tweede plek het kerklike liggame – ringe en die kuratorium wat toesig hou oor die dosente – ondersoeke gedoen en nié tot die gevolgtrekking gekom dat die betrokke teoloë die evangelie op die spel plaas nie.

Derdens het ek self die debatte gevolg en die tekste gelees en dis vir my duidelik dat König die bedoelings van die teoloë wat hy kritiseer, dikwels verkeerd lees.

Wil juis geloof behou

God? Geloof in ’n postmoderne tyd, die boek deur dr. Ben du Toit, parlementêre verteenwoordiger van die NG Kerk, is byvoorbeeld allermins ’n poging om die evangelie af te skryf.

Dis juis ’n worsteling om die geloof te behou te midde van allerlei twyfelvrae wat wetenskaplike insigte by hom en baie ander mense oproep.

König voer aan dat Du Toit leerstukke soos die maagdelike geboorte van Jesus, die twee nature van Jesus en die Drie-eenheid van God eenvoudig afskryf.

Inderwaarheid voer Du Toit slegs aan dat dit in ’n postmoderne raamwerk nie nodig is om presies te verstaan “hoe dit werk” nie – of om dit, by implikasie, op modernistiese manier te glo nie.

Naby die einde van sy boek skryf Du Toit: “En dit is waarby ek in hierdie boek gekom het, naamlik om voorlopig aan te toon dat ons wel met behoud van ons intellektuele integriteit redes kan aangee hoekom ons in die kernwaarheid van die Christelike boodskap kan glo, naamlik dat Jesus vir ons sonde (en in ons plek) aan die kruis opgeoffer is, die dood soos ons dit ken oorwin het en weer opgestaan het om vir dié wat in Hom glo die hoop van die ewige lewe te gee.”

Dié paragraaf en die prentjie wat König van Du Toit skets, verskil hemelsbreed van mekaar.

Ek dink dis deels omdat König Du Toit se boek lees asof Du Toit daarin dogmatiese uitsprake maak, terwyl Du Toit juis in sy voorwoord sê hy doen dit nie.

Nuwe Testamentici

In ’n ander geval kritiseer König prof. Danie Veldsman van Tukkies oor ’n akademiese artikel wat Veldsman in 1993 gepubliseer het.

Daarin tree Veldsman in gesprek met Nuwe Testamentici wat by die soeke na die historiese Jesus betrokke is.

Dit is ’n navorsingveld wat baie tradisionele geloofsoortuigings bevraag­teken en die geloofsprentjie van Jesus inderdaad soms so reduseer dat sommige mense hul geloof na aanleiding daarvan verloor.

Veldsman neem as sy “eksperimentele” vertrekpunt die siening dat Jesus se graf leeg was omdat die dissipels sy lyk in die geheim daaruit verwyder het.

Hy ontwikkel dan ’n teorie, op die patroon wat sy gespreksgenote sou doen, waarvolgens Jesus se liggaam volgens ’n ou gebruik herbegrawe is.

Hy voer egter aan dat Jesus se verskyning later aan sy geskokte dissipels toon dat Hy wel opgestaan het.

König lees dit asof dit ’n afwykende siening van Veldsman verteenwoordig.

Inderwaarheid is dit asof Veldsman aan die Jesus-historici sê: “Selfs al sou ek hierdie uitgangspunt van julle aanvaar en op jul manier redeneer, kom ek steeds by die opstanding van Jesus uit.”

Hy bied sy teorie nie aan as ’n weerlegging van tradisionele oortuigings nie, al behandel König dit so.

Veldsman skryf self: “Hierdie poging is nie gerig op die selfsugtige plesier van die kapotslaan?.?.?.?van ander meer tradisionele voorstellinge nie, maar is daarop gerig om die dieptedimensie van die geloof in die opstandingsgebeure as God se daad te bevestig!”

Dit is, soos in die geval met Du Toit, ironies dat ’n teoloog wat die evangelie in ’n spesifieke konteks probeer verdedig, nou daarvan beskuldig word dat hy die evangelie op die spel plaas.

Liggaamlike opstanding

Die teoloog wat seker die meeste in König se spervuur is, is prof. Julian Müller van die Universiteit van Pretoria.

Müller word daarvoor verwyt dat hy nie wil bely dat Jesus “liggaamlik” uit die dood opgestaan het nie.

König meen dis duidelik dat Müller glo dat Jesus nié liggaamlik uit die dood opgestaan het nie. Dit was duidelik uit opmerkings wat hy tydens ons Aardklop-gesprek gemaak het.

Ek het Müller dít egter nog nooit hoor sê nie, al loop ek as joernalis met gespitste ore rond.

Dit lyk my ook nie na ’n korrekte afleiding dat Müller deur sy weiering om woorde soos “liggaamlik” by die opstanding van Jesus te gebruik, die liggaamlike opstanding verwerp nie.

Die kloof tussen Müller en König loop langs ander lyne. Waar König as sistematiese teoloog elke faset van die opstanding goed ontleed het en dit verstaan, aanvaar Müller wat daar gebeur het as ’n misterie.

Vir König is hierdie benadering van Müller ’n groot probleem, maar dit hoef nie te wees nie.

In my jare as verslaggewer oor kerke was dit een ding wat ’n baie groot indruk op my gemaak het: Opregte Christene beleef hul geloof op uiteenlopende maniere.

In die praktiese teologie is daar verskillende modelle wat die verskillende spiritualiteite onder Christene beskryf. Só word daarop gewys dat sommige mense hul geloof hoofsaaklik met hul verstand beleef, terwyl ander dit meer emosioneel doen.

Verskillende maniere om te glo

’n Ander onderskeid is juis dié tussen König en Müller. Die een soek na duidelike sekerhede en die ander vind God in die misterie.

Sulke verskille is nie kwessies van reg of verkeerd, of van beter of slegter maniere van glo nie. Dis bloot verskillende maniere om te glo.

Dit hang saam met verskille tussen mense se persoonlikhede en hul denkraamwerke, met groot filosofiese strominge soos die modernisme en postmodernisme wat oor ons samelewing spoel.

Wat Müller se siening oor Jesus se opstanding uit die dood betref, is dit vir my duidelik:

  • dat hy die opstanding bely;
  • dat dit vir hom belangrik is dat Jesus se opstanding anders was as dié van Lasarus en dat woorde soos “liggaamlik” vir hom te veel klink na beskrywings van Lasarus se opstanding;
  • dat hy as praktiese teoloog geweldige implikasies van die opstanding vir gelowiges se daaglikse lewe sien.

As hy huiwerig is om presies te verklaar hoe die opstanding gebeur het, dink ek die kerk behoort hom ruimte te gee daarvoor, net soos daar ruimte moet wees vir mense wat seker wil wees hulle weet hoe dit gebeur het.

Dit lyk my König se boek wemel van verkeerde afleidings en verkeerde vertolkings. Ek het ’n paar daarvan probeer aantoon.

Die groot ding is egter dat die prentjie wat König van bogenoemde en ander teoloë skets, die kol mis. Sy weergawes van hul standpunte is eenvoudig onwaar.

Op Aardklop het ek gesê ek dink dat König hulle op ’n baie onbillike wyse in ’n vreeslike slegte lig stel.

Ek wil byvoeg: Ek dink hy skuld hulle ’n verskoning.

– König sal Vrydag in ’n artikel hierop reageer.

**********

Lees die volgende artikel by Jesus se leë graf is die toetssteen.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui